Gee my krag vir beurtkrag
Ongeag of jy lief vir die winter is of nié, wil niemand van ons in die donker bibber as gevolg van beurtkrag nie. Hoewel dit onregverdig is dat ons self uitgawes moet aangaan om hierdie situasie teen te werk, is daar ʼn paar belangrike items wat elke huis nodig het om beurtkrag se aanslag te verminder. (Hierdie items is ook uitstekende geskenk-idees!)
Sonkrag-ligte
Maak seker jou huis en tuin bly verlig as die krag afgaan. Behalwe dat dit veiliger is, kan jy ook voortgaan met die braai sonder dat jou gaste oor hindernisse struikel.
Herlaaibare gloeilampe
Herlaaibare gloeilampe gebruik elektrisiteit (wanneer dit aan is) om te laai en bly dan brand tydens beurtkrag. Só bly jou huis lig sonder enige moeite.
Gastoestelle
Gas bly die maklikste manier om onverhinderd met jou lewe voort te gaan. Verskeie vindingryke gastoestelle is kompak en maklik om te bêre, en kombineer selfs twee toestelle – soos ʼn stoof en verwarmer.
Diesel-aangedrewe kraggenereerders (generators)
As die effense geraas jou nie pla nie, kan jy jou hele huis aan ʼn genereerder koppel. Diesel-aangedrewe genereerders is geneig om meer brandstofdoeltreffend te wees as dié wat petrol gebruik. ʼn 120 kW dieselaangedrewe genereerder kan, afhangend van sy lading, effektiwiteit van tussen 10,9 en 32,1 liter per uur bereik.
Kragbanke
Daar is kragbanke op die mark waarmee jy jou hele kantoor vir tot vyf ure aan die gang kan hou. Vir ander, kleiner doeleindes is daar goedkoper opsies om te verseker dat jou selfoon nie dooi in die middel van beurtkrag nie.
Beskerming teen kragstuwings
Beskerming teen kragstuwings is nou belangriker as ooit, gegewe die krag waarmee toestelle deesdae werk. As daar te veel volts deur ʼn kragpunt gestoot word, kan dit elektriese probleme of selfs ʼn brand veroorsaak.
Gerieflik-om-te-hê
Bederf jouself sommer ook met lekker-om-te-hê-produkte, soos ʼn haardroër wat nie met elektrisiteit werk nie, of oulike warmbly-oplossings.
Saamgestel deur Leana Bezuidenhout