GOSA-president met GWK-bande ʼn positiewe vooruitsig

Johan van Rensburg, Uitvoerende Hoof van Graandienste by die VKB Groep, is in Maart tot die nuwe president van die Graanhanteringsorganisasie van Suider-Afrika (GOSA) verkies. In die GWK-besproeiingswêreld, waar grane nie net stapels op tafels is nie, maar ook in landbou, is GOSA-verteenwoordiging uit eie geledere iets waaroor elke graanprodusent positief kan wees, veral in terme van gemoedsrus dat daar na hulle belange omgesien sal word.
Van Rensburg het met hardwerkendheid en deur praktiese ondervinding sy pad in die landboubedryf gebaan. Vandag het hy – as president van GOSA – ʼn sterk visie vir die toekoms, asook die praktiese ondervinding om die visie ʼn werklikheid te maak.
GOSA is meer as 40 jaar gelede gestig deur graansilo-eienaars, omdat hierdie mense op grondvlak verstaan het dat die graanbedryf ʼn liggaam soos GOSA benodig. Die rol wat GOSA sedertdien vervul, ontwikkel en vernuwe deurentyd. Een ding bly egter onveranderd – dit is ʼn platform (soos Van Rensburg daarna verwys) wat die graanhandel in Suid-Afrika bevorder deur standaarde, integriteit en samewerking tussen alle rolspelers in die graan-waardeketting te handhaaf. Boonop is die GOSA-span vrywillige werkers wat nie ʼn sent verdien nie, maar betrokke is vir ʼn groter doel.
Deel van hierdie “groter doel” vir GOSA is om kennis te deel tot die bevordering van die bedryf, en netwerkgeleenthede tussen verskillende rolspelers te skep. Dit is juis waarom GOSA se lede meestal individue en nie instansies is nie. Jare terug, toe Van Rensburg aanvanklik deel van GOSA geword het, het dit egter anders gelyk. Volgens hom was daar destyds strenger kriteria vir mense om deel van GOSA te word, maar sy voorgangers het die pad vir gewone mense – soos hy – oopgekap. Hy het as jongman by die tegnikon in Bloemfontein landboubestuur studeer en in April 1995 as graansilo-assistent by VKB begin werk.

Jaco Peyper, uitgetrede rugbyskeidsregter (middel), was een van die sprekers by GOSA se onlangse simposium in Mosselbaai. Saam met hom op die foto is Johan van Rensburg (links), nuutverkose president van GOSA, en Hein Rehr, die uitgetrede president. (Foto: GOSA)
Vandag, as president van GOSA, verduidelik Van Rensburg dat sy take by dié organisasie hom toelaat om roepingsgedrewe te leef. Sy visie vir die organisasie is om dit as platform vir belangegroepe uit te bou. Hy beplan om sy sterk karaktereienskap van verbondenheid te gebruik om al die aspekte van graanhantering, en al die belangegroepe van die graan-waardeketting, bymekaar te bring. Verder wil hy die inkoop van alle lede versterk deur hulle behoefte om kennis van die bedryf op te bou, te verstaan en direk aan te spreek. Die jeug is ook vir Van Rensburg ʼn fokusarea, want hy wil hom beywer om jongmense passievol oor die bedryf en die platteland te maak.
Om mee te begin, kan GOSA-lede verwag om al hoe meer aanlyn werkswinkels oor relevante onderwerpe te kan bywoon. GOSA se jaarlikse simposium was reeds in Maart en dit was ʼn byeenkoms wat gefokus was op strategie. Daar is egter in Oktober weer ʼn byeenkoms: dié keer operasioneel gefokus en wat handel oor praktiese silobestuur.
Terugploeg.
Dít is die woord wat eerste by hom opkom wanneer hy gevra word waarvoor hy staan.
Van Rensburg se visioenêre karakter beloof om baie waarde tot GOSA te voeg, maar net so sy persoonlike beginsels waarvoor hy staan. Uit sy opmerking, “my grootste vrees is om in ʼn groef te val,” kan ʼn mens gerus wees dat hy nie gaan stilstaan nie. Hy beklemtoon juis dat dit hom ʼn huppel in die stap gee om te sien hoe mense groei. Sy raad aan hulle sal wees: “ʼn Mens is nooit klaar gegroei nie, en jy moenie bang wees om foute te maak nie.”
Hy is ʼn aanhanger van die aanhou-leer-filosofie en glo dat dit hom help vorm het toe hy as jongmens toegelaat was om foute te maak, en daaruit kon leer. Sy leergierige gees blyk ook uit die feit dat hy sewe tale magtig is – Afrikaans, Engels, Sotho, Zulu, Xhosa, Noord-Sotho en Spaans. Boonop is hy tans besig om sy vaardighede deur studies verder te verskerp.
Met sy grootwordjare op ʼn plaas in die Villiers-omgewing van die Oos-Vrystaat, kan dit nie anders as dat Van Rensburg ʼn groot liefde vir landbou het nie. Hoewel hy die noodsaaklikheid van agronomie waardeer, is vee sy groot landbou-liefde. Hy moes egter vinnig leer swem toe hy as jongman aan die diep kant van die graanbedryf ingegooi is… Sy intrede tot die bedryf was net mooi toe die graanbedryf in Suid-Afrika drasties verander het (ná 1994). Daar was ʼn groot skuif van beheerrade na die vryemark. Van Rensburg beskryf hierdie tydperk as die laagtepunt van die “ou graanbedryf,” maar hy is dankbaar dat hy eerstehands kon beleef – en steeds beleef – hoe die vrye graanmark elke dag ontwikkel.
Sy reis vanaf graansilo-assistent tot GOSA-president weerspieël die oop pad wat dié organisasie vandag vir elke lid in die graanbedryf skep: ʼn platform waar ervaring en entoesiasme mekaar kan ontmoet. In Johan van Rensburg vind GOSA nie net ’n kundige leier met dekades se ervaring nie, maar ’n roepingsgedrewe brug-bouer wat mense verbind – tussen generasies, sektore én streke.

Johan van Rensburg aan die woord by die GOSA-simposium (Foto: GOSA)
*Artikel saamgestel deur René van der Vyver