ʼn Gesonde leefstyl met balans!
In vandag se lewe is oefening ʼn moeilike bal om in die lug te hou. Ons skedules is vol, en dit is nie altyd iets wat natuurlik kom nie. Dit verg moeite, tyd en deursettingsvermoë. Hoewel oefening ʼn belangrike deel van ʼn goeie gesonde leefstyl vorm, moet dit nie ʼn straf wees nie.
ʼn Gesonde leefstyl verminder nie net die risiko van fisieke siektes soos hartkwale, hoë bloeddruk en diabetes nie, maar ook die kans om psigiese toestande soos depressie en spanning te ontwikkel.
Hier is ʼn gids om jou te help om ʼn meer gebalanseerde en gesonde lewe te lei.
Soos ons ouer word, word ons lyf swakker daarom is dit belangrik om te oefen en jouself gesond te hou. Beplanning is die sleutel tot sukses in die lewe, en dit is nie anders met jou fiksheid nie. Om vooruit te beplan, kan die verskil maak. Oorweeg om ʼn skedule op te stel, beplan vooraf hoeveel of hoe gereeld jy oefening wil inkry, en hou by jou program. Oefening hoef ook nie vervelig te wees nie. Die beste oefening wat jy kan doen, is dit wat jou die beste laat voel. Of dit nou dans, stap, fietsry of joga is, kies aktiwiteite wat jou goed laat voel en lekker laat voel. Moet jou nie ooreis nie, maar gee vir jou liggaam die nodige oefening om dit so gesond moontlik te hou.
Probeer ʼn verskeidenheid van aktiwiteite en sien wat vir jou werk. Dit is makliker om die oefening vir die dag klaar te maak voordat jy met jou dag begin, want die dag se aktiwiteite kan jou ontmoedig om in die namiddag aktief te wees. Daar is ook gereeld funksies aan in die aand, wat die plek van jou oefening sal inneem. Oefening moenie ʼn straf wees nie – as jy nie ʼn oggendmens is nie, is hierdie wenk dalk nie vir jou nie. Doen die oefening wanneer jy weet jy die maklikste daarby sal hou. Stel realistiese doelwitte en begin klein, probeer drie tot vier keer per week ʼn oefensessie van jou keuse van minimum 30 minute inpas.
Oefening motiveer ook ʼn persoon om ʼn gesonde en gebalanseerde eetplan te volg. ʼn Kleurvolle bord gevul met vrugte, groente, proteïene en gesonde vette is belangrik. Elke voedselgroep dra by tot jou algemene gesondheid. Gee aandag aan wat jy eet en geniet elke happie.
ʼn Goeie slaaproetine is nie altyd moontlik nie, maar dit is belangrik en noodsaaklik om optimaal te funksioneer. As jy ʼn roetine kan vestig, probeer om elke dag op dieselfde tyd te gaan slaap en wakker te word; hierdie help om jou liggaam se interne horlosie te reguleer. Streef na ten minste sewe tot nege uur slaap per nag (die klem lê hier op streef) en skep ʼn ontspanne omgewing. Maak jou slaapkamer ʼn toevlugsoord, hou dit koel, donker en stil. Oorweeg om elektroniese toestelle in die slaapkamer te beperk. Te veel bloodstelling aan skerms, veral voor slaaptyd, kan slaap ontwrig en angs verhoog.
Sosiale verbindings is noodsaaklik vir emosionele gesondheid en kan ondersteuning bied tydens uitdagende tye. Koester verhoudinge met vriende en familie. Maak tyd vir aktiwiteite waarvan jy hou, of dit nou verf, tuinmaak of kook is. Stokperdjies verlig stres en bring vreugde aan die dag.
Bly op hoogte van gesondheid- en welstandsonderwerpe. Om voeding, fiksheid en geestesgesondheid te verstaan, kan jou bemagtig om ingeligte keuses te maak. Die lewe kan onvoorspelbaar wees, so wees bereid om jou roetines en gewoontes aan te pas. Dit is goed om af en toe te geniet of ʼn oefensessie te mis – wat wel saak maak, is om terug te klim op die oefentrein en weer te probeer.
Om ʼn gesonde en gebalanseerde leefstyl te volg is ʼn aaneenlopende reis eerder as ʼn bestemming. Deur klein, volhoubare veranderinge aan te bring, kan jy jou fisiese, geestelike en emosionele welstand verbeter. Onthou, dit gaan oor hoe jy vorder en nie perfeksie nie. Gryp elke geleentheid aan na ʼn gesonder jy, en vier die reis langs die pad!
*Foto’s: Free Stock Photos, Royalty Free Stock Images & Copyright Free Pictures · Pexels
*Bronne:
- https://www.heart.org/en/healthy-living/healthy-lifestyle/mental-health-and-wellbeing
- https://www.heart.org/en/healthy-living/healthy-lifestyle/mental-health-and-wellbeing
- https://www.heart.org/en/healthy-living/healthy-eating/add-color