Redakteursbrief

Kunsmatige Intelligensie (KI) is nogal iets wat ons salarisverdieners met ʼn klein bietjie vrees vul. Gaan ons oorbodig raak? Gaan ek met ʼn robot of masjien vervang word?
Ernstiger etiese kwessies het die laaste tyd opgeduik oor KI-programme se impak op menselewens. Die Amerikaanse senaat het die Zuckerbergs en Bezos’e van die tegnologiewêreld – groot beleggers in KI-ontwikkeling – uitgedaag met vrae oor die beheer van kunsmatige intelligensie ná dit aan die lig gekom het dat kwesbare mense tot uiterstes gedryf is met die aanmoediging van KI chat bots.
Benewens werkverliese, sluit ander bekommernisse skadelike inhoud, verkeerde inligting, politieke voorkeur, ras-bevooroordeling, ʼn gebrek aan deursigtigheid, en die steel van intellektuele eiendom.
Aan die ander kant, soos ons in hierdie uitgawe van Kommuniek ondersoek, lê daar moontlik baie belofte opgesluit in die moontlikhede wat KI bied, solank dit verstaan en reg bestuur word. Daar word ál meer gereeld gepraat oor hoe belangrik dit is om voor die kurwe te kom – om jou duim op die pols van KI-ontwikkeling te hou sodat jy dit tot jou voordeel kan aanwend.
ʼn Mens kan dié en dáái kant toe debatteer, maar tegnologie word blitsvinnig verfyn en gaan toenemend in ons lewens en werk geïntegreer word. Maar nee, mense word nooit oorbodig nie. In ʼn tesis in die National Library of Medicine word daar geskryf: “Incorporating social support and connections is critical for overall health and for healthy habits to be sustainable.”
Mense is aanmekaar gesit met die behoefte om verbintenisse te vorm, soveel so dat dit ons gesondheid beïnvloed.
Van psigologiese teorieë tot onlangse navorsing bestaan daar beduidende bewyse dat sosiale ondersteuning – en die gevoel om te behoort – mense kan help om ʼn gesonde gewig te onderhou, bloedsuiker te beheer, kankeroorlewingskanse bevorder, hartsiektes verminder en algehele geestesgesondheid verbeter.
Elke uitgawe van hierdie tydskrif is ʼn bewys van samewerking tussen mens, natuur en tegnologie om die beste besigheidsuitkoms te kry, maar die samekoms van diverse mense wat die beste resultate lewer.
Dit is die besoeke op die plaas, die inloer by die bure, die saamsit om die braaivleisvuur of raadsaaltafel waar die werklike oplossings gevind word – vir die probleem én vir die siel.
En dít is skoene wat KI nooit sal kan volstaan nie.