Finansiële vennoot vir groei in landbou
“’n Landbou-debiteureboek hou jou nederig”
Die wêreld van finansiële bestuur en die werklikheid van boerdery ontmoet mekaar in die Noord-Kaap op ’n plaas tussen Prieska en Douglas – nie op papier nie, sommer in die veld self. “Ek boer naweke met Swartkop Dorpers, Boerbokke en Bonsmara’s,” vertel Cobus Horn, nuut-aangestelde Streekbestuurder: Finansiering by GWK.
Vir iemand wat in Prieska grootgeword het, is landbou en gemeenskap onafskeidbaar. “Boerdery speel so ’n belangrike rol in ons gemeenskappe en veral ons kleiner dorpe,” sê Cobus. “As dit met produsente goed gaan, gaan dit gewoonlik met die hele dorp goed.”
Hierdie kombinasie van praktiese landbou-ervaring en finansiële insig vorm Cobus se benadering tot sy rol by GWK.
Pad na finansiële bestuur
Sy eie pad na finansiële bestuur het vroeg begin vorm aanneem. Ná skool het hy aan die Universiteit van Stellenbosch gaan studeer, waar hy ’n B Rek-graad voltooi het, gevolg deur ’n B Compt Hons deur Unisa. Maar Cobus beskryf homself nie as die “mees pligsgetroue” student nie.
Wat wel van vroeg af daar was, was ’n natuurlike liefde vir finansiële beplanning.
Sy loopbaan begin by ’n ouditfirma in Somerset-Wes, waar hy waardevolle kommersiële en landbou-ervaring opdoen voordat hy in 2011 by GWK aansluit. “Ek het ’n nagraadse diploma in Finansiële Bestuur aan die Universiteit van die Vrystaat voltooi in 2020, met die oog daarop om eendag moontlik te konsulteer saam met my boerderybedrywighede.”

Cobus Horn, nuut-aangestelde Streekbestuurder: Finansiering by GWK. Foto: Verskaf
Voeg beduidende waarde toe
Cobus is amptelik op 1 Februarie 2026 as streekbestuurder aangestel. “Sedert ek in November 2025 begin waarneem het, het ek meer betrokke geraak by die finansiële rapporteringsgedeelte, wat oorhoofs saam met die operasionele deel hanteer word.”
Hy het reeds waarde tot die portefeulje toegevoeg en is verantwoordelik vir die finansieringsfunksie in die GWK-streek – insluitend die bestuur van betalings, invorderings en die uitbreiding van die debiteureboek.
“’n Landbou-debiteureboek hou jou nederig,” sê hy.
“Ek bestuur ’n groot gedeelte van die debiteureboek al vir ’n geruime tyd. Ek dink jy moet die reëls van die spel werklik verstaan om jou in staat te stel om die debiteureboek effektief te kan bestuur, sowel as om jou lojale kliënte in moeilike tye te kan bystaan.
“Ons het ook ’n verantwoordelikheid teenoor die aandeelhouers om die besigheid binne ’n aanvaarbare mate van risikovlakke te bestuur. Ek is baie dankbaar vir die ondersteuning wat ons van ons produsente ontvang – hoe beter hulle ons ondersteun, hoe beter kan ons hulle ondersteun met volhoubare finansieringsoplossings,” beduie Cobus.

Cobus Horn boer naweke met Swartkop Dorpers, Boerbokke en Bonsmara’s tussen Prieska en Douglas. Foto: Facebook
Wisselvallige klimaat- en marktoestande
Volgens Cobus speel goeie finansiële bestuur ’n belangrike rol om produsente te help om wisselvallige klimaat- en marktoestande beter te hanteer. Hy beklemtoon dat elke kliënt se finansiële posisie en benadering tot finansies uniek is en dat suksesvolle boerdery ’n balans vereis tussen sterk produksiepraktyke en goeie finansiële beplanning.
Hy sê dit is belangrik dat produsente hul finansiële posisie goed verstaan, insluitend hoe hul balansstaat en sekuriteit, soos grond, hul boerdery kan ondersteun wanneer kontantvloei onder druk kom. ’n Gebalanseerde finansieringsportefeulje en tydige beplanning kan help om risiko beter te bestuur.
“Finansiële bestuur gaan nie net oor groot besluite nie, maar ook oor klein, praktiese stappe wat oor tyd ’n verskil kan maak,” sê hy. “En as jy regtig nie hou van beplan nie, sê dit vir jou finansiële adviseur sodat hy of sy daarvoor kan beplan.”
Hy voeg by dat oop kommunikasie ’n belangrike rol speel in langtermynverhoudinge met kliënte. Waar uitdagings ontstaan, bly samewerking en gesprek sentraal om volhoubare oplossings te vind.
“Dit is belangrik om die regte vennote in jou boerdery te hê – mense wat die bedryf verstaan en saam met jou op die lang termyn wil groei.”

Cobus Horn en sy vrou, Colette, het twee kinders, JW en Olivia. Colette se familie is van Misgund in die Langkloof, waar haar ouers met appels, pere en pruime boer. Foto: Verskaf
Sy passies
Wanneer hy nie werk nie, spandeer Cobus sy tyd saam met sy gesin. Hy en sy vrou, Colette, het twee kinders, Olivia en JW. Colette kom self uit ’n boerderyfamilie van Misgund in die Langkloof, waar haar ouers met appels, pere en pruime boer.
En dan is daar ook sy ander passies: jag, natuurbewaring en skietsport. Hy het selfs al grootkaliber-skyfskiet op internasionale vlak beoefen en aan ’n kompetisie in die dorpie Bisley in Engeland deelgeneem.

Cobus Horn deel sy passie vir jag, natuurbewaring en skietsport met sy seun JW. Foto: Verskaf
“Trots is ’n woord wat soms baie gebruik word,” sê Cobus.
“Maar ek voel as elke persoon in die span trots is op die kwaliteit van die werk wat hulle doen, beïnvloed dit die hele span positief. Dit maak die hele proses ligter en help ons om op die dinge te fokus wat regtig belangrik is – en om beter kliëntediens te lewer. Ek is dankbaar vir die span saam met wie ek werk en opgewonde oor dit wat die groter VKB na die tafel bring.”
Terwyl Cobus sy nuwe rol aanpak, is die kombinasie van sy praktiese landbou-ervaring en finansiële insig die fondament van sy rol by GWK – ’n vennootskap met produsente om groei in landbou en in die gemeenskappe wat daarvan afhanklik is, moontlik te maak.








