Eskom-tariefstruktuur: Die duiwel kruip in die detail weg
Hierdie artikel is geskryf vir VKB se tydskrif, Die Pad Saam.
In Februarie 2025 het Nersa stilweg Eskom se Kleinhandeltariefplan goedgekeur. Terwyl meeste media-opskrifte gefokus het op die nuus dat Eskom se versoekte verhoging van 36% verminder is tot 12,74%, het die ingewikkelde tariefherstrukturering wat daarmee saamgegaan het, veel minder aandag gekry. In hierdie artikel neem Energy Partners ʼn indiepte kyk in die veranderinge en die impak op eindgebruikers.
Waarom herstruktureer?
Die veranderinge is gegrond op Eskom se 2024 Koste-van-voorsieningstudie wat uitgewys het dat vandag se netwerk- en opwekkingskoste nie meer ooreenstem met verouderde prysmodelle nie. Oor die afgelope paar jaar het die land se elektrisiteitsvoorsieningslandskap aansienlik verander, insluitend die toename in ingebedde opwekking, private kragprodusente en kraguitruil-reëlings.
Die herstrukturering is ook deels te wyte aan Eskom se ontbondeling in drie afsonderlike diensafdelings – Opwekking, Transmissie en Verspreiding – wat meer akkurate kostetoewysing vereis.
Voorheen het ʼn “kombersbenadering” gewerk om opwekking en netwerkheffings in een geïntegreerde pot te meng, aangesien dit die manier was waarop Eskom gefunksioneer het. Met die opkoms van meer private opwekking en afhanklikheid van die netwerk vir kraguitruiling of sekondêre voorsiening, is dié model nie meer werkbaar nie. Daarom die eerliker en akkurater ontbondeling van opwekking- en netwerkheffings.
Die oefening was in ʼn sekere sin lankal nodig. Eskom beklemtoon dat die herstrukturering nie bedoel is om inkomste te verhoog nie, maar om billike en deursigtige kosteherwinning te verseker volgens moderne voorsieningsdinamika.
Sleutelveranderinge in die 2025/26-herstrukturering
- Bygewerkte tyd-van-gebruik (TVG)-skedules wat energieheffings verdeel in Piek, Standaard en Buitepiek:
- Oggendpieke verminder tot 2 uur (van 3)
- Aandpieke verleng tot 3 uur (van 2) op weeksdae
- Sondagaande verskuif van Buitepiek na Standaard vir 2 uur (voorheen heeltemal Buitepiek)
- Hersiene hoë/lae seisoenverhoudings, wat die huidige verhouding van 1:8 vir die somer (lae aanvraagseisoen) se Buitepiektarief teenoor die winter (hoë aanvraagseisoen) se Piektarief verminder tot ʼn verhouding van 1:6, met dienooreenkomstige aanpassings van ander tariewe.
- Ontbondeling van energieheffings en toevoeging van Opwekkingskapasiteitsheffing*- en Erfenis-energieheffing**-komponente. Die eerste word voorgeskryf om ingefaseer te word teen 20% in jaar 1 en 30% in jare 2 en 3 om die impak op verbruikers te verminder.
- Ontbondeling en aanpassing van ander netwerk- en diensheffings. Deel hiervan is ook die wysiging van kruissubsidies tussen tariefsoorte.
*Die Opwekkingskapasiteitsheffing is ʼn vaste heffing gebaseer op voorsieningskapasiteit, ongeag energieverbruik. Die motivering hiervoor is om “dispatchable power supply capacity” in reserwe te hou vir gebruikers met wisselende en onreëlmatige lasfaktore. In eenvoudiger terme beteken dit dat Eskom ʼn kragstasie gereed moet hou vir wanneer ingebedde sonkragopwekking nie voldoende is nie en die netwerk rugsteun daarvoor moet bied. Dit bring natuurlik koste mee.
**Die Erfenis-energieheffing is volgens Eskom bedoel om die koste te verhaal van vroeë kragaankoopkontrakte wat aangegaan is tydens die eerste rondes van die Onafhanklike Kragprodusente (IPP)-programme, wat hoër was as huidige opwekkingskoste. Dit kan gesien word as ʼn soort premie op hernubare energie wat deur Eskom verskaf word.
Wat beteken dit vir kragverbruikers?
VKB se energiemoniteerders, Energy Partners, het ʼn diepgaande ontleding gedoen met behulp van Eskom se tariefvergelykings en die impak oor ʼn wye reeks sektore en tariefsoorte beoordeel – insluitend groot en klein kommersiële kleinhandel, landbou en industriële verwerking.
Die resultate het ʼn wye verskeidenheid uitkomste getoon: sommige gebruikers kan moontlik verhogings ervaar wat ver bo die aangekondigde 12,74% vir hierdie jaar is; ander mag selfs ʼn effektiewe afname sien.
Die ontleding het ook faktore soos gemiddelde maandelikse verbruik, aanvraag, aangemelde kapasiteit en lasfaktor in ag geneem om ʼn beter begrip te kry van die dryfkragte agter die geherstruktureerde tariewe.

Inligting per tariefsoort
Landelike gebruikers word die swaarste getref, veral onder tariewe soos Ruraflex en Landrate.
ʼn Belangrike bydraende faktor is die verhoogde netwerkheffings. Dit is waarskynlik te wyte aan die tipies afgeleë ligging en lae kliëntedigtheid van hierdie gebruikers, wat beteken dat vaste koste oor minder verbruikers versprei word. Voorheen is hierdie tariefkategorie ook grootliks gesubsidieer deur stedelike tariewe. Hierdie kruissubsidie is nou aangepas om ʼn meer “verbruiker betaal”-benadering te volg.
Die tarief wat die hardste getref word, is Ruraflex – met die herstrukturering wat ʼn bykomende 8,4% bo-op die normale jaarlikse verhoging voeg, wat beteken dat hierdie gebruikers ʼn verhoging van tot 21% in 2025 kan ervaar.
Die tweede mees geraakte tarief is Nightsave Urban, wat algemeen gebruik word deur groot verbruikers soos nywerhede en groot kleinhandelaars in stedelike gebiede. Die herstrukturering sal ʼn gemiddelde impak van 4,3% hê, wat ʼn effektiewe verhoging van ongeveer 17% vir die jaar beteken – weereens aansienlik meer as die aangekondigde 12,74%.
Miniflex, ook ʼn algemeen gebruikte stedelike tarief vir groot kragverbruikers, is die enigste tarief wat relatief in lyn is met die 12,74%, hoewel dit ook ʼn bykomende verhoging van 1,3% sal ervaar.
Stedelike Businessrate-gebruikers, tipies klein kommersiële kliënte, sal die meeste baat vind met ʼn afname as gevolg van die herstrukturering.
Wat duidelik na vore kom, is die nadeel wat landelike verbruikers, soos produsente, in die gesig staar. Die Landrate-tarief, wat die ekwivalent is van die stedelike Businessrate en algemeen gebruik word deur produsente en landelike gebruikers, sal slegs met 4% daal as gevolg van die herstrukturering (teenoor -21% vir Businessrate). Die gevolgtrekking is weereens dat hoër netwerkheffings en ʼn kleiner klantbasis om koste oor te versprei, ʼn bepalende rol speel.
Wat van tydgebaseerde tariewe?
Die verskuiwing van die tydgebaseerde tariefperiodes blyk nie ʼn beduidende impak te hê nie. Vir gebruikers met ʼn hoë lasfaktor of konstante verbruik wat 24/7 bedryf, maak dit min verskil of die spitsperiode langer in die oggend of aand is.
Vir kleinhandelaars of kantore met ʼn tipiese 8-tot-5-werkprofiel is dit voordelig, aangesien die duurder aandspits nou buite hul hoëverbruiktyd val. Die oggendspits, wat wel binne bedryfsure val, is nou korter, wat beteken dat meer van die goedkoper standaardtariewe van toepassing is.


Impak van opwekkingskapasiteit- en erfenis-energiekoste
Gebruikers met ʼn lae lasfaktor (soos landbouverwerking wat sterk seisoenaal is) word sterk beïnvloed deur die opwekkingskapasiteitheffing. Dit is omdat dit ʼn vaste maandelikse heffing is, ongeag hoeveel elektrisiteit werklik gebruik word. Om die aangemelde aanvraagkapasiteit tot die minimum te beperk, sal ʼn belangrike bestuursaspek word. Ongebruikte kapasiteit sal eenvoudig elke maand tot hoër vaste koste lei.
Gebruikers met hoë energieverbruik (kWh) sal waarskynlik meer geraak word deur die erfenis-energiekoste as ʼn drywer van die verhogings. Hierdie heffing kan tipies tussen 5% en 10% van die totale jaarlikse koste uitmaak, afhangend van die kWh-verbruik.
Hoë-/lae-seisoen tariefverhouding
Die verskuiwing van die verhouding tussen hoë- en laeseisoen buite-spits tariewe van 8:1 na 6:1 het ʼn beduidende impak op tydgebaseerde tariewe. ʼn Interessante waarneming is dat Eskom die laeseisoentariewe relatief meer verhoog het as die hoëseisoentariewe op tydgebaseerde tariefstrukture (bv. Mini-/Megaflex en Ruraflex). Gemiddeld het laeseisoentariewe met 26% gestyg, terwyl hoëseisoenkomponente slegs met 3% toegeneem het.
Nog ʼn waarneming is dat die verskil tussen hoë- en laeseisoen buite-spits tariewe nou basies dieselfde is. In praktiese terme beteken dit dat die voordeel van baie lae buite-spits tariewe verminder is. Dit was een van die aansporings om op ʼn tydgebaseerde tarief te wees, om lasverskuiwing aan te moedig.

Slotopmerkings
Dit is duidelik dat Eskom se tariefherstrukturering meer behels as wat op die oog af gesien word: die duiwel kruip inderdaad in die detail weg. Soos getoon, sal die herstrukturering elke tipe gebruiker en tariefprofiel op ʼn unieke manier beïnvloed.
Of hierdie veranderinge behoorlik gekommunikeer is, te midde van die geraas rondom die verwagte jaarlikse verhoging, is ʼn ope vraag. Eindgebruikers het dikwels nie die tegniese insig in hierdie kompleksiteite nie, en begrippe soos lasfaktore en aangemelde aanvraagkapasiteit beïnvloed hul totale fakturering op maniere wat nie altyd duidelik is nie. Baie verbruikers sal ook verbaas wees om effektiewe verhogings te sien wat ver bo die geadverteerde 12,74% toename in elektrisiteitskoste vir die jaar uitstyg.
Tariefherstrukturering vind ook op munisipale vlak plaas, al is dit in ʼn mindere mate. Daar word van munisipaliteite verwag om Eskom se nuwe kostestrukture (as groothandelverskaffer) te volg en die impak daarvan dienooreenkomstig deur te gee, afhangend van hoe hul eie groothandelaankope van Eskom beïnvloed word. Studies van verskeie munisipale tariefboeke het ook ʼn groter variasie op netwerkverwante vaste heffings aan die lig gebring.
Al is hierdie veranderinge nog ʼn wind van voor vir elektrisiteitsverbruikers, behoort die ontwrigting ook nuwe denke en innovasie aan te wakker. Elke krisis skep geleenthede. Energiebestuur en energie-doeltreffendheidstrategieë moet eenvoudig meer doelgerig toegepas word om by hierdie nuwe realiteite aan te pas en dit teen te werk.
– Geskryf deur Ruhan Theunissen van Energy Partners







