Metodiek: Evaluering van mieliebasters en sojakultivars
GWK se mieliebaster- en sojakultivar-evaluerings word slegs onder besproeiingstoestande gedoen wat eie is aan die Noord-Kaap.
Seisoensbeplanning
Voor die aanvang van die seisoen word daar met die saadmaatskappye vergader waar lokaliteite bespreek word en proefinskrywings ontvang word. Plantpopulasies word ook finaal bespreek. Vir mielies word van ʼn konstante plantpopulasie gebruik gemaak, wat normaalweg 98 000 pitte per hektaar is. Daar is ooreengekom met die saadmaatskappye dat dit ʼn goeie raamwerk is waarby alle mieliebasters optimaal behoort te presteer onder besproeingstoestande. Dit is ook prakties makliker uitvoerbaar omdat groot planters (16 rye) beteken dat twee of meer basters op ʼn slag geplant word. Vir sojabone word dieselfde populasie vir al die kultivars gebruik as wat die produsent kommersieël plant. Sien ook die kaart wat toon waar die mielie- en sojaboonproewe geplant is vir 2024/25.

Proeflokaliteite
Proefuitleg en praktyke
Vir die rede dat daar met ʼn groot aantal proefinskrywings gewerk word, word slegs een baan van elke inskrywing geplant. Daar word egter altyd van kontroles gebruik gemaak met die doel om regstellings te maak waar vlakker grond, hellings, ensovoorts ʼn onregverdige invloed op die prestasie van ʼn baster/kultivar mag hê. ʼn Kontrole word ná elke tweede of derde inskrywing geplant. Tabel 1 dien as ʼn voorbeeld van ʼn proefuitleg met die gebruik van kontroles. Die kontrole is dieselfde baster/kultivar wat die produsent kommersieël op die land plant. Die kontroles word almal teen dieselfde stand geplant soortgelyk aan die kommersiële aanplanting op die res van die land.
Navorsers van GWK is verantwoordelik om die proewe self te plant en te oes. Die normale produksiepraktyke van die produsent is gevolg. Ná opkoms word standtellings ook gedoen. Die doel hiervan is om moontlike probleme te identifiseer wat ook help verklaar waarom ʼn inskrywing swak presteer het. Die saadmaatskappye ontvang ook ʼn na-opkoms verslag. Alle persele, insluitend kontroles, word geweeg.
Personeel van die saadmaatskappye word genooi om met plant sowel as oes teenwoordig te wees. ʼn Monster van alle proefinskrywings en kontroles word geneem wat so vinnig as moontlik by ʼn GWK-fasiliteit ontleed word vir voginhoud en ander belangrike parameters. GWK volg ʼn “oopdeur”-beleid, wat elke saadmaatskappy toelaat om die proewe te besoek en navrae te rig.
Dataverwerking
Die veldgewig van mielies en sojabone word aangepas na 12,5% vog, wat ook die standaard in die praktyk is. Die data word ontleed deur gebruik te maak van die Gennard Trial Program (GTP) wat ook deur die Landbounavorsingsraad goedgekeur is. Verder word die data in Excel ontleed deur gebruik te maak van dieselfde formules wat die GTP-program gebruik. Laasgenoemde dien as ʼn ekstra stap om seker te maak dat alle data korrek gekopieer is, ens.

Tabel 1: Voorbeeld van ʼn proefuitleg wat gebruik word met ʼn kontrole-aanplanting ná elke derde baster/kultivar.
Die volgende reëls is vasgestel in oorleg met die saadmaatskappye
Gevalle waar data teruggehou word: ʼn Data-vergadering word jaarliks gehou waartydens die data met die saadmaatskappye bespreek word vir finale goedkeuring voor publikasie. In die volgende gevalle moet die data eers teruggehou word vir goedkeuring:
- Data word teruggehou in die geval waar ʼn GWK-navorser bewus was van skade veroorsaak deur die natuur (hael, ens.). Dieselfde geld ook skade veroorsaak deur implemente, breke op spilpunte, probleme met planters, ens.
- Die veldgewig van die kontrole-inskrywings verskil met >15%.
Gevalle waar inskrywings onttrek mag word: Die moontlikheid bestaan dat die resultate nie betroubaar mag wees weens skade veroorsaak deur die natuur, onkruid en toerusting:
- Meer as 50% van ʼn ry/totaal van alle rye is beskadig deur masjinerie tot só ʼn mate dat die plante nie kon herstel nie.
- Die plantpopulasie wyk met meer as 13% af van die doelwit.
Gevalle waar aanpassings gemaak mag word: Aanpassings word slegs toegelaat indien die probleemarea met ʼn maatband gemeet is en 80% van die oppervlakte wel gestroop is.
Mielieproefdata wat nie gepubliseer word vir 2024/25 weens bostaande reëls:
- Prieska (mielies) – twee kontroles verskil met >15% teenoor die ander.
Sojaboonproewe wat as stremmingsproewe geklassifiseer word:
- Jacobsdal – water is beperk tot aanvullende besproeiing.
- Magogong – laat plantdatum. Ontwikkeling deur die seisoen was nie optimaal.
Gebruik van die data
Die mielie- en sojaboondata word getoon as opbrengs (t/ha) behaal met die regstelling wat reeds gemaak is vir die voginhoud. Parameters wat ook gemeet word vir mielies is:
- Plante/ha
- Milling index
- Graanopbrengs
- Proteïen
- Hektoliter
- Stysel
Parameters wat ook gemeet word vir sojabone is:
- Proteïen
- Olie
Die data word verder as ʼn indeks voorgestel vir die laaste drie seisoene waar syfers beskikbaar is met 100% as die gemiddeld van die proef. >100% is bo die proefgemiddeld en <100% is swakker as proefgemiddeld.
Sojaboonindeling volgens groeiklas
Navorsing dui daarop dat die beskikbare sojaboonkultivars – wat groeiklas betref – in 12 groeiklasse (groeiklas 1 tot groeiklas 12) geklassifiseer kan word. Volgens hierdie klassifikasie is groeiklas 1 die vinnige groeiers, terwyl groeiklas 12 die langste groeiklas is. Hierdie indeling word gedoen op grond van die dagliglengte wat ʼn spesifieke kultivar nodig het om optimaal te kan ontwikkel en produseer. Hierop gebaseer is ʼn kultivar in klas 12 by uitstek geskik vir aanplanting in gebiede op of naby die ewenaar. In teenstelling daarmee is die vinnigste groeiklas (klas 1) geskik vir aanplanting op breedtegrade ver noord of suid van die ewenaar. In die besproeiingsgebiede van die Noord-Kaap is die vinnige groeiers (<klas 6) die gewildste.
Verduideliking van groeiwyse by sojabone
- Bepaalde groeiwyse: Hierdie kultivars toon geen verdere vegetatiewe groei ná blomvorming nie.
- Onbepaalde groeiwyse: By hierdie kultivars vind vegetatiewe groei nog ná blomvorming plaas en is ook minder gevoelig vir vogtekorte tydens blom- en peulstadium. Swaar besproeiings gedurende die vegetatiewe groeiperiode stimuleer onnodige stam- en blaargroei en kan wel omval veroorsaak.
Navrae kan gerig word aan:
- Pierre Ferreira by 082 904 4769 of pierref@gwk.co.za
- André Prins by 083 628 5320 of andrep@gwk.co.za
Dankbetuigings:
GWK-personeel
- André Prins (GWK-navorser): Opstel van die proefuitlegte en temperatuurdata
- Pierre Ferreira (GWK-navorser): Insameling van die proefdata
- Bennie Badenhorst (Bestuurder: Landboubestuursinligting, GWK): Opstel van die maatskappy-embleme.
- Reinard Louw (Grafiese ontwerp, GWK): Opstel van gebiedskaart en dataversorging
Produsente – medewerkers met die uitvoer van mieliebasterproewe:
- Richard Thom: Vaalharts (laer insette) mielieproef
- Steyn Kruger: Vaalharts (normale insette) mielieproef
- Louis de Kock en Taylor Steele: Barkly-Wes mielieproef
- Wimpie Swanepoel en Elvé Maclachlan: Jacobsdal mielie- en sojaproef
- Pieter Nortjé en Barend Bouwer: Cookhouse mielieproef
- Vickie Bruwer en Albertus Janse van Rensburg: Douglas Vaal (vroeg en laat) mielieproewe
- David Muller en Danie Carstens: Prieska mielieproef
- Fanie Engelbrecht en Dirkie Mckenzie: Magogong sojaproef
- Gideon Joubert: Orania sojaboonproef








