En die wenner is… Cecil Wiley!
Vir ʼn tweede agtereenvolgende jaar het Cecil Wiley, ʼn GWK-kliënt uit die Hopetown-distrik, die algehele GWK Farmers Cup-trofee ingepalm. Dit is die eerste keer wat hierdie titel suksesvol verdedig is in die vyf jaar wat die toernooi aangebied word.
Dit volg ná ʼn reeks kwalifiseringsrondtes in dorpe regoor GWK se bedieningsgebied, ʼn semi-finaal in Kimberley waar 80 spelers teen mekaar te staan gekom het, en die finaal wat oor twee dae beslis is in die bosveld, by onderskeidelik Elements Private Golf Estate en Zebula Golf Lodge and Spa.
Die toernooi se formaat is in 2022 effens aangepas om voorsiening te maak vir GWK se personeel, borge en ander rolspelers wat ook by die finaal saam met GWK se produsente deelneem. Daar word dus om twee trofees meegeding, naamlik die GWK Farmers Cup, waaraan GWK-kliënte deelneem, en die sekondêre kompetisie, die GWK Cup, waaraan personeellede, borge, ensovoorts deelneem.
Die kompetisie was vanjaar straf, met slegs enkele punte wat die topspelers oor die twee onderskeie dae geskei het. Hier onder is die finale uitslag van die onderskeie trofees:
GWK Farmers Cup
- Kampioen: Cecil Wiley
- Tweede plek: Burger Heckroodt
- Derde plek: Réan Clasen
GWK Cup
- Kampioen: Chris Shergold (GWK-personeel)
- Tweede plek: Johann Lubbe (GWK-personeel)
- Derde plek: Eugene le Roux (GWK-personeel)
Behalwe vir GWK se produsente en personeel sou die toernooi nie moontlik kon wees sonder die ondersteuning van borge nie, en die Farmers Cup het ʼn lojale gevolg van borge oor die afgelope paar jaar opgebou. Safire Versekering, die toernooi se hoofborg, het vanjaar vir ʼn vierde keer aangesluit, GWK Pecans (GWK se sustermaatskappy) vir ʼn derde jaar en die mediaborg Landbouweekblad vir ʼn vyfde jaar.
Bennie Boshoff, algemene bestuurder by Safire Versekering se korttermynversekeringsdivisie, sê hulle maatskappy is gefokus op plattelandse gemeenskappe en die verhoudings wat hulle smee in dié gemeenskappe.
“Dit is lekker om deel te wees van die Farmers Cup, vanjaar vir die vierde keer,” sê Boshoff. “Om terug te gee aan die gemeenskap, en persoonlike verhoudinge met ons kliënte én makelaars te bou, is vir ons as maatskappy belangrik. Safire se personeel wat in die platteland werksaam is, kom vanuit die areas waar hulle woon en werk, en is hulle in die gemeenskap ingeburger. Dit is iets waarop ons trots is en waarop ons deurlopend verder bou.”
Safire se jaarlikse bemarkingsinisiatief, vanjaar Sea the Impact, sluit perfek in by daardie etos wat Boshoff beskryf het – om ons as mense se impak op die omgewing in ag te neem.
Neil de Klerk, GWK Streeksdirekteur, sê die droom bly steeds dat die toernooi op ʼn nasionale basis uitgebrei word, om werklik die Beste Boer op die Baan in Suid-Afrika te kroon in die toekoms.
“Dit is wonderlik om die vriendskappe te sien wat tydens die toernooi gevorm word, die kameraadskap en vriendelike kompetisie tussen ons kliënte,” sê de Klerk. “Ons sien uit na die nuwe hoofstuk wat vir die GWK Farmers Cup voorlê en om verder die landboubesigheid van die toekoms te bou as een saamgestelde groep.”
Die GWK Farmers Cup-span bedank graag almal wat betrokke was en steeds is by die toernooi, hetsy as ʼn ondersteuner, personeellid, borg of speler. Dit is ʼn voorreg om jaar ná jaar die toernooi saam met elkeen aan te bied.