Ekonomie: ʼn landbou-oorsig
GWK se landbou-ekomiese afdeling hou die tendense in die onlangse geskiedenis en nabye toekoms dop sodat ons produsente ingeligte besluite kan neem.
Graannuus
Witmielie pryse het sterk gestyg vanaf die begin van die jaar. Die styging is hoofsaaklik oor El Nino wat erge droogtestremming plaas op grane in Suidelike Afrika. Volgens die Universitieit van Kalifornië se Santa Barbara-klimaatgevaarsentrum was Februarie 2024 die droogste een vir groot dele van Zambië, Botswana en Zimbabwe sedert hulle data in 1981 begin versamel het. Grafika 1 toon die ergste droogtegeteisterde gebiede.
Zambië het vroeg in Maart die droogte in die land as ʼn nasionale ramp bestempel, met amper die helfte van hulle oes wat verlore is as gevolg van die swak weersomstandighede. (MoneyWeb, 2024)
Dit plaas druk op die voorraad van graan in Suidelike Afrika aangesien Zambië gewoonlik ʼn netto uitvoerder is na buurlande. Gegewe die droogte, moet Zambië self invoer en is die vraag na graan verhoog. In Suid-Afrika het die Nasionale Oesskattingskomitee die oesskatting vir mielies ook verlaag: dit is 10,85% af teenoor laas jaar se oes, 16,43 miljoen ton na 13,26 miljoen ton se mielies. (CEC, 2024)
Tabel 1 toon die prysbewegings wat plaasgevind het in die graanmarkte.
Wêreldnuus
Die Amerikaanse Federale Reserwebank het weer bevestig hulle is nie haastig om hulle rentekoerse te laat sak nie en dit steun nog die dollar om sterk te bly. Die VSA se hoë inflasie is as gevolg van sogenoemde demand-pull inflation; pryse word opwaarts gedruk deur verbruikers se besteding en dit is as gevolg van die feit dat die ekonomie gesond en aan die gang is. Dit kan ook gesien word deur die rekordvlakke van die S&P 500-indeks.
Grafika 2: New York Stock Exchange en Nasdaq-beurs (S&P, 2024)Op internasionale graanbeurse het pryse sywaarts beweeg. Die VSA se departement van landbou het op 8 Maart hulle WASDE (World Agricultural Supply and Demand Estimates)-verslag gepubliseer. Wêreldkoring se aanbod is voorspel om toe te neem met beter as verwagte produksie vanaf Australië, Rusland en Argentinië. Wêreldvoorraadvlakke word voorspel om op 258,8 miljoen ton te eindig, wat die laagste is sedert 2015/2016. Amerika se mielieskatting bly dieselfde, maar wêreldvoorraad is afwaarts aangepas met 2,7 miljoen ton, met swakker produksies in Suid-Afrika, Oekraïne, Meksiko, Venezuela en Rusland. Amerikaanse sojaboonvoorraad bly ook onveranderd. Wêreldproduksie van sojabone is afwaarts aangepas oor laer produksies verwag van Brasilië en Suid-Afrika. (USDA, 2024)
Plaaslike nuus
Die Suid-Afrikaanse Reserwebank het op 27 Maart vergader en besluit om repo-koers op sy huidige vlak van 8,25% te hou. Die verwagting is dat dit so sal bly tot die VSA hulle rentekoerse laat sak en inflasie nader aan sy teiken van 4,5% beweeg. Verbuikersprysinflasie (VPI) het gestyg met drie basispunte na 5,6% vanaf Januarie, wat aan die bokant is van die Reserwebank se teikenband van 3 tot 6%. Volgens Nedbank is die verwagting dat die VPI sal afneem tot 4,5% in 2025, maar tans plaas die onsekerheid oor die verkiesing in Mei, en El Nino wat graanproduksie nadelig beïnvloed, nog moontlike opwaarts druk op pryse. (BusinessTech, 2024)
Vanaf 1 Maart het die JSE begin om ʼn nuwe differensiaalmodel op sojabone te toets. Die ou differensiale stelsel het Randfontein as verwysingpunt gebruik, aangesien die groter meerderheid van die verwysingspunte daar te vinde was met die stigting van SAFEX. Dit het in die geval van sojabone verander die laaste paar jaar en is daar aanlegte op Brits, Delmas, Bronkhorstspruit, ensovoorts. Die nuwe stelsel het 10 verwysingspunte en 204 leweringspunte, met verwysingspunte wat bestaande aanlegte is. Die stelsel sal getoets word oor die volgende twee jaar en dan sal daar besluit word of dit geïmplementeer moet word.
Volg die skakel om die nuwe differensiale te sien:Graan SA: Sojaboon liggings differensiale 2024/2025 – Google My Maps
(Burick, 2024)
*Bronne:
- Burick, N. v. (2024, March 28). com https://www.landbou.com/landbou/bedrywe/akkerbou/nuwe-differensiaal-vir-sojabone-tree-in-werking-20240223
- (2024, March 2024). BusinessTech https://businesstech.co.za/news/finance/764007/no-relief-for-south-africans-sarb-keeps-rates-on-hold/
- (2024, March 28). Sagis https://www.sagis.org.za/cec_reports_2024.html
- Economics, T. (2024, 03 28). Trading Economics https://tradingeconomics.com/commodity/wheat
- Graan, G. (2024, March 28). GWK Graan JSE Kommoditeitspryse. Kimberley, Northern Cape, South Africa.
- MoneyWeb. (2024, March 28). https://www.moneyweb.co.za/news/africa/el-nino-scorches-southern-africa-with-driest-february-on-record/
- S&P. (2024, March 28). S&P Global https://www.spglobal.com/spdji/en/indices/dividends-factors/sp-500-value/#overview
- (2024). World Agricultural Supply and Demand Estimates-646. Washington: USDA