Dit is parstyd in die Noord-Kaap

“Ek is nie die ‘eienaar’ of ‘baas van die plaas nie. Ek kry net ʼn beurt om te voorsien aan die mense op die plaas en die gemeenskap.”
Só sê Hannes Coetzee van Mahoebe Boerdery in die Prieska-area, waar dit nou parstyd in die wingerde is.

Hannes Coetzee
In parsseisoen kán produsente nie sonder die samewerking van hul familie en personeel nie. Coetzee sê sy tydskedule in hierdie tyd skets die prentjie duidelik.
“Ons val 06:30 soggens in by die rosyntjiedruiwe, tot 17:30 saans. Ek kom so net ná 18:00 by die huis vir aandete. Om 21:00 begin ons wyndruiwe oes, dwarsdeur die nag, tot ongeveer 12:00 die volgende middag. Tussendeur draai ons steeds by die rosyntjiedruiwe. Ons besigheid se siening is dat daar nêrens ʼn ‘ek’ is in wat ons doen nie, dit is ʼn familieboerdery en almal dra by,” sê hy. Coetzee is die sesde generasie boer in die Noord-Kaap, en sy kinders is die sewende generasie.
Hulle oes deur die nag omdat die druiwe koeler is, wat energiebesparing tot gevolg het omdat die druiwe by die kelder tot ʼn sekere graad afgekoel moet word.
“Byvoorbeeld, as die druiwe teen 13˚C by die kelder aankom en tot 3˚C afgekoel moet word, hoef hulle net 10˚C afgekoel te word. Vergelyk dít met 43˚C se druiwe wat in die middagson geoes word en tot 3˚C verkoel moet word. Dit is vier keer meer se elektrisiteitskoste wat gespaar word.”
Coetzee probeer elders ook so energie-effektief as moontlik funksioneer. Die doppe en pitte keer terug na die wingerde om as kompos te dien, wat afvalproduk verminder en bemestingkostes sny. “Alles wat ʼn pit nodig gaan hê, is reeds in die vorige pit, wat ons terug in die grond sit.”

ʼn Lugfoto van die wingerd
Die produsente in die area leen en leer bymekaar, maar pas praktyke aan om die beste vir die boerdery te wees. “Jy hoef nie heeltyd die wiel te herontwerp nie,” sê Coetzee, “jy moet net die wiel kry wat pas. Daar is nie ʼn resep wat vir almal werk nie: bestuurstyle en doelwitte kan verskil. Verskillende karre het verskillende wiele.”
Sy doelwit is om ʼn hoë volume druiwe te lewer. ʼn Mens kan egter goeie bestuur toepas en alles reg doen, maar die klimaat speel uiteindelik die bepalende rol. Ryp en ʼn oormaat reën (wat siektes kan veroorsaak) kan opbrengs negatief beïnvloed.
“Die voordeel wat ons het, is dat ons nie baie reën in hierdie area kry nie – veral nie in die lente of somer nie, dit begin gewoonlik in herfs. Dus is ons klaar geoes as die groot reën begin val. Ons omgewing is daarom ook baie gesonder en ons hoef minder swamdoders te spuit as byvoorbeeld in die Wes-Kaap.”
Coetzee maak gebruik van die spuit van mikro-elemente om groei te bevorder, op baie spesifieke tydstippe in die druif se leeftyd voor oes. Na-oes-bespuitings word ook as voorkomingsmaatreël gedoen.
“Vanjaar was dit nie een keer nodig om bespuitings te doen nie, behalwe voorkomend.”

Coetzee wys die wyndruiwe wat geoes en na die kelder vervoer word.
Die hitte en laer reënval in die area is gunstig vir druiweverbouing. Die hoeveelheid sonlig het ʼn direkte invloed op die suikerinhoud van die druif.
“Die blare van ʼn wingerd is sy ‘sonpaneel’,” sê Coetzee. “Hoe beter sy sonpanele werk, hoe meer energie kan hy vervaardig en hoe meer suiker kan hy stoor.”
Wyndruifverbouing moet ekonomies wees. Daar bestaan variëteite van wyndruiwe waarvan die opbrengs laag is en waarvan daar ‘n spesialis-wyn gemaak kan word, aldus Coetzee. Hierdie kultivars wat ʼn lae opbrengs bied, moet as ʼn duur wyn bemark word om ekonomies sin te maak.
“Wyne se prys verskil op grond van verskeie faktore,” sê Coetzee. “Die verskil tussen ‘n R100 of R500 of R1 000 se bottel wyn word bepaal deur prosesse wat verskil, die tipe variëteit wat geplant is en die volume wat hy dra. Hoe laer die opbrengs is, hoe duurder is die wyn om ekonomies te wees. Hieruit word spesialiswyne gemaak en die variëteit se swakker opbrengs word verdra omdat dit ‘n hoër inkomste in wynverkope bied. Ons noem hulle ‘skaamdraers’.” Hy sê groot volumes wyn word uit ‘swaardraer’-variëteite gemaak, wat vir goedkoper verbou en geproduseer word.

Oestyd op Mahoebe Boerdery
Die geoeste druiwe word aan Landzicht se kelder op Douglas gelewer. Coetzee praat met lof van Landzicht se wynmaker, Hennie Huskisson, en sê dat Huskisson vir geen wynmaker – of keldermeester, soos dit in die wynbedryf bekend staan – hoef terug te staan nie.
“Ek het darem al so 32 parste agter die blad,” sê Huskisson, “maar in die wynbedryf leer ons elke dag iets nuut. Hierdie is my tweede seisoen hier, en hierdie jaar verskil reeds baie van die vorige een, wat die omgewing dinamies maak.”
Hy sê dat die kelder en produsente moet werk met die unieke grondstowwe en omstandighede, en daarmee die beste wyne moontlik maak.
“Verlede jaar het ons ʼn lekker droë jaar gehad teenoor vanjaar se hoër reënval, wat beteken dat dit ʼn uitdaging was om die suikerinhoud hoër te kry. Van ons kant af het ons produsente gehelp om die druiwe in te kry voor dit vrot en ons regtig baie tevrede met die gehalte van die druiwe wat gelewer is.”
Ook hiér, by die kelder, is dinge bedrywig hierdie tyd van die jaar.
“My vrou is ʼn parsweduwee,” sê Huskisson. “Ons span is soggens vroeg uit die huis en kom saans laat tuis. In die kelder het ek ʼn assistent-wynmaker wat help verseker dat ons ons gehaltevereistes nakom, en die tegniese span is in die laboratorium besig en hou die data op datum.”
Hoewel Landzicht op die oomblik hoofsaaklik fokus op hoë volumes, maak Huskisson en sy span ook spesialiswyne.
“Een van ons produsente het sover gegaan om vir ons vyf verskillende kultivars – een wingerdstok van elk – aan te plant, sodat ons kan dophou hoe dit in ons area aard. Ons is nou op die punt waar daar wingerde van hierdie kultivars aangeplant word en die druiwe goed aard. Tot op hede is ons streek nie eintlik geken aan iets soos Pinotage nie, maar daar word nou groot aanplantings Pinotage-variëteite aangeplant – ʼn eie, unieke kultivar wat hier aard en anders is as dié wat in die Wes-Kaap te kry is.”
Landzicht maak eiesoortige wyne wat nie ʼn kopie is van enige ander nie, en wat geken word aan die spesiale area waar dit verbou word – reg in die middel van Suid-Afrika. Vir nou is die fokus vir 24 uur van die dag om te verseker dat Noord-Kaapse druiwe verwerk word tot wyn wat die provinsie se naam gestand doen.
Hoe skakel die produseerders van hierdie wyn se druiwe af as dit ʼn klein bietjie rustiger raak op die plaas? Volgens Coetzee is dit juis om die eindproduk, die vrug van jou arbeid, te geniet.
Bieliemielie: ʼn Nuwe Hoofstuk vir Landzicht
By die VKB Bieliemieliefees 2025 het Landzicht se wyne met sy splinternuwe baadjie en ʼn spesiale gas op die etiket, die geliefde Stronkie-mascot, perfek ingepas by die feestelike atmosfeer. Feesgangers kon ʼn droë wit- en rooiwyn ontdek wat nie net vrolik gelyk het nie, maar ook tuis was in elke feesoomblik.
Die wyn was net so gemaklik in glase wat geklink is ná ʼn besigheidsamewerking versterk is, as in een wat gelig is tydens ʼn oorwinningstoespraak vir ʼn dogter se sukses op die netbalbaan vroeër die dag. Later die aand was dit die perfekte hupstoot wat ʼn plattelandse crush die moed gegee het om ʼn uitnodiging vir ʼn sokkie op die dansvloer te aanvaar.
Tussen die wynglase en die musiek van die fees was Mandie Dippenaar van Landzicht se harde werk die rede waarom elke feesganger ʼn #Landzicht-oomblik kon ervaar. Haar passie en toewyding tot dié unieke GWK-handelsmerk het hierdie spesiale ervaring moontlik gemaak. Vir haar is wyn nie net “nog ʼn drankie nie” – dis ʼn ervaring, ʼn herinnering, ʼn storie wat mense saam deel.
Met hul eerste VKB Bieliemieliefees agter die rug, bou Landzicht verder aan sy nalatenskap. Hierdie fees was net die begin van ʼn nuwe hoofstuk – een waar die wynmaker, die produsent en die bemarker saamwerk om Landzicht se verhaal verder te brei.
Wil jy self ʼn #Landzicht-oomblik beleef? Besoek ons webwerf (www.landzicht.co.za) om ons wyne te ontdek om ʼn bietjie Noord-Kaapse stilte te geniet op die stoep ná ʼn besige dag by die werk.