Die (Kuber)kat kom weer, en hy’t nog meer geleer
Wanneer die (kuber)kat weg is, speel bedrieërs baas – en in 2025 is hulle meer onderduims as ooit. Van phishing en smishing tot AI-gegenereerde swendelary – bedrieërs probeer slim streke. Dit raak ál moeiliker om ʼn bedreiging aanlyn raak te sien voordat dit te laat is.
Vanjaar, tydens Kuberveiligheidsbewusmakingsmaand in Oktober, kom die VKB Groep se (Kuber)kat weer en draai die storie om met ʼn kragtige boodskap: Nuuskierigheid red die kat! (Curiosity saves the cat!)
Die (Kuber)kat lei nie net ʼn bewusmakingsveldtog nie, dis al ʼn beweging: ʼn herinnering dat ʼn nuuskierige, versigtige ingesteldheid die beste verweer is. Hy spoor met hierdie Cyber Day-veldtog alle deelnemers aan om vrae te vra, krities te dink, waaksaam te bly teen gevorderde aanlynbedreigings en bedrieërs uit die boom te kyk.
Slyp hier jou aanlynkloue
Cyber Day 2025, aangebied deur die VKB Groep in samewerking met iOCO, nooi alle Suid-Afrikaners uit om hul aanlynkloue te kom slyp en nuuskierigheid as hul sterkste verdediging in te span.
Met kundige panele, regstreekse vraag-en-antwoordsessies en praktiese veiligheidswenke, wil dié veldtog personeel van die VKB Groep, produsente, gesinne en besighede bemagtig om beheer te neem, juis die mense wat dikwels in kuberveiligheidsplanne oor die hoof gesien word.
Wil jy dus jou bankrekening, plaasstelsels of gesin se toestelle beskerm? Bewustheid is nie meer ʼn luukse nie, dis oorlewing. So, of jy nou op kantoor is of op die plaas: klik met oordeelsvermoë, verifieer voordat jy optree, en onthou – nuuskierigheid red die kat!
Kubermisdaad in Suid-Afrika: ʼn groeiende kopseer
Suid-Afrika is een van die mees geteikende lande in Afrika wanneer dit by kubermisdaad kom. Volgens Interpol se African Cyberthreat Assessment Report 2025 tel ons onder die hoogste getal slagoffers per miljoen internetgebruikers.
Een ondeurdagte klik kan miljoene kos. Kubermisdadigers teiken die swakste skakel in die sekuriteitsketting: ons menslikheid.
Byna alle kuberaanvalle begin met ʼn phishing-e-pos. Tegnologie wat KI (kunsmatige intelligensie) inspan, maak sosiale manipulasie nog slinkser. Die slimste maatskappye sal dié wees wat kuberveiligheid ʼn gedeelde verantwoordelikheid maak, wat hul spanne herinner: ʼn nuuskierige (Kuber)kat land altyd op sy voete.
Nuuskierigheid-gedrewe aksie
Die Cyber Day-veldtog verteenwoordig ʼn skuif weg van vreesgedrewe opleiding na nuuskierigheid-gedrewe aksie. Die beginsel is eenvoudig: moenie die kat aan die stert beetkry nie, vra voordat jy klik.
“As jy enigiets doen via die internet (bv. e-posse, sosiale media, koerant- en ander subskripsies) is jy, jou geliefdes en jou besigheid ʼn teiken vir kubermisdaad. Kom bring tyd saam met ons deur waar ons ʼn paar wenke in eenvoudige terme met jou gaan deel,” sê Marius Dreyer, Uitvoerende Hoof van Inligting en Tegnologie by die VKB Groep.
“Ons is baie opgewonde om vir ʼn tweede jaar VKB se Cyber Day aan te bied. Dit gee ons die geleentheid om bewusmaking verder as net ons eie mure uit te brei – na ons kliënte, hul gesinne en die breër gemeenskap. Ons wil mense toerus met die kennis en selfvertroue om hulself en hul geliefdes te beskerm in ʼn wêreld waar kuberbedreigings elke dag slimmer word,” sê Myrna Viviers van VKB se Inligting- en Tegnologiespan.
Benoude katte maak benoude spronge. Registreer eerder vir die VKB Groep se Cyber Day 2025, met veiligheidswenke in eenvoudige taal, regstreeks op YouTube op Dinsdag 14 Oktober 2025. Volg dié skakel om te registreer: bit.ly/CyberDay_Reg
*Bronne: VKB; keepnetlabs









