‘Cyber Days’: Wees wakker oor kuberslenters
Oktober is kuberbewustheidsmaand, en dit is dus die ideale geleentheid om seker te maak jy is behoorlik ingelig oor, en bestand teen, die nuutste kuberbedreigings.
Kuberbedreigings het vanjaar vinnig toegeneem. Jy sal dalk verbaas wees om te leer dat van die algemeenste slenters tans op WhatsApp plaasvind. Kuberboewe gebruik kletstoepassings soos WhatsApp om mense te bedrieg sodat hulle hul persoonlike inligting sal deel of geld sal oorplaas. En dié bedrieërs kan soms baie slu en oortuigend wees. Dit is dus belangrik om waaksaam te bly en altyd die bron van enige boodskap te verifieer voordat jy daarop reageer of enige inligting deel.
Met die opkoms van Kunsmatige Intelligensie (KI of beter bekend as AI) word sogenaamde diepvervalsings (deepfakes) ook meer algemeen. Dit is KI-gegenereerde video’s en klankopnames wat naastenby ononderskeibaar is van regte beeldmateriaal. In die hande van kuberboewe kan sulke materiaal gebruik word om individue en organisasies mee te dreig en af te pers.
ʼn Skrikwekkende nuwe bedreiging, veral vir regerings en groot maatskappye, is kriptografiese aanvalle wat deur kwantumrekenaars uitgevoer word. Met die vooruitgang in kwantumrekenaars het kubermisdadigers nou die vermoë om kriptografiese stelsels vinniger te kraak, wat sensitiewe data soos regeringskommunikasie blootstel.
Bedreigings vir landbou
Die landbousektor is ook nie immuun teen kuberbedreigings nie. Daar is trouens ʼn hele paar spesifieke uitdagings waarmee boere en landboumaatskappye in 2024 te kampe het.
Eerstens is daar sogenaamde losprysware- (ransomware) en verskaffingskettingaanvalle wat datasekerheid bedreig en produksie kan vertraag. Dit kan dan ook finansiële verliese tot gevolg hê. Aanvallers teiken verder ook slim IoT-toestelle. Dit is toestelle wat in landbou vir outomatisering en data-insameling gebruik word. Hierdie soort kuberaanval kan skade aan toerusting en verlaging van produktiwiteit meebring. Daarbenewens is uitvissing (phishing) ook ʼn groot risiko, aangesien dit individue mislei om sensitiewe inligting te deel.
Die VKB Groep se ‘Cyber Days’
Om individue en spesifiek landboukundiges te help om meer oor dié en soortgelyke uitdagings te leer, bied die VKB Groep se Inligting-en-Tegnologie-afdeling (I&T) in Oktober verskeie ‘Cyber Days’ aan. Dié reeks opvoedkundige sessies sal op 17 Oktober op Reitz, 22 Oktober op Nylstroom, en 31 Oktober op Douglas gehou word. Verskeie IT-, regs- en risikokundiges sal besprekings lei en vrae beantwoord. Die geleenthede is daarop gemik om bewustheid te verhoog en praktiese stappe te deel wat individue en lede van die VKB Groep teen kuberbedreigings kan help beskerm.
Van die praatjies wat aangebied sal word, sluit in:
Hoe om jouself en jou gesin te beskerm: Marius Dreyer, die VKB Groep se Uitvoerende Hoof van Inligting en Tegnologie, sal verskeie eenvoudige dog effektiewe maniere bespreek om jou en jou gesin teen digitale bedreigings te beskerm.
Sosiale ontwerp (social engineering) in SA: In hierdie demonstrasie, wat deur die verskaffer Snode aangebied word, sal gewys word hoe aanvallers sosiale ontwerp gebruik om mense en maatskappye te teiken.
KI in die alledaagse lewe: Die VKB Ventures-span sal die gebruik van KI in die landbou bespreek, en hoe dit tans ook op positiewe maniere die bedryf transformeer.
Dreyer sê om jouself, jou gesin en ons maatskappy teen kuberbedreigings te beskerm, is soos om ons deure snags te sluit. “Saam kan ons seker maak ons beskerm dit wat regtig belangrik is. Deur waaksaam en ingelig te bly, kan ons potensiële probleme voorkom en almal se gemoedsrus verseker.”
Die doel van die ‘Cyber Days’ is om jou te bemagtig met die kennis en gereedskap wat jy nodig het om jou by die huis en die werk teen kuberaanvalle te beskerm. Die sessies sal praktiese wenke gee van hoe jy veilig kan bly te midde van toenemende bedreigings en ʼn kuberwêreld wat tans baie vinnig ontwikkel.
Vir navrae, kontak die VKB Groep se I&T-span by [email protected].
*Artikel saamgestel deur Mariette Olwagen