Grondbone: Proefresultate vir 2024
Vir die 2023/24-seisoen is drie grondboon-droëlandproeflokaliteite in die Vrystaat naby Hoopstad, Bothaville en Bultfontein aangeplant. ʼn Aanvullende besproeiingslokaliteit is naby Schweizer-Reneke aangeplant, asook twee vol besproeiingslokaliteite naby Douglas en Bela-Bela; sien Figuur 1 as illustrasie van lokaliteite.
Hierdie studie word jaarliks herhaal met die doel om die beste plaaslike én oorsese kultivars te identifiseer wat waarde sal toevoeg tot die bedryf gebaseer op agronomiese sowel as ekonomiese eienskappe.
Metodiek
Kultivars word eers vir ʼn paar seisoene getoets alvorens besluit word om nie verder voort te gaan met die kultivar nie. Die proefuitleg was ʼn gerandomiseerde blokontwerp met drie herhalings. Die aantal pitte benodig vir elke proefperseel word afgetel. Die houer word dan gemerk met die naam van die kultivar, die lokaliteit en die aantal pitte wat in die houer is. Die saad word vooraf behandel met ʼn swamdoder. Op die dag van plant word die saad ook geënt met stikstofbindende bakterie. Die proewe word geplant met ʼn stootplanter wat spesifiek ontwerp is vir hierdie doel. Die spasiëring in die ry kan ook aangepas word volgens behoefte. Gedurende die seisoen word elke kultivar geëvalueer vir siektes wat mag voorgekom het gedurende die seisoen.
Die proefpersele word uit die grond gelig deur gebruik te maak van ʼn lem wat die penwortel onder die grond afsny. Die peule word dan verder met die hand van die plante verwyder, waarna dit gedroog word by die aanleg op Douglas. Vreemde materiaal soos sand, stokke, blare en klippe word verwyder voor die peule geoes van elke proefperseel geweeg word. Die dop-persentasie word dan bereken deur ʼn kilogram peule uit elke herhaling af te weeg, te dop en die saad weer te weeg. Die proefdata word geanaliseer deur gebruik te maak van die program “Genovix by Agronomix Software”. Die voordeel van die program is dat die data op verskeie maniere geanaliseer kan word wat gebaseer is op “Complete Block Designs, Latice Designs en Nearest Neigbors”.
Die kleinste betekenisvolle verskil (kbv) is bereken by die 5% peil van betekenisvolheid. Waar twee opbrengste met ʼn groter verskil as die kbv verskil, beteken dit hulle is met 95% betekenisvol verskillend van mekaar en is dus nie toevallig verskillend of as gevolg van grondverskille nie.
Die koëffisiënt van variasie (kv) word ook aangedui. Die koëffisiënt van variasie dui die statistiese korrektheid van ʼn proef aan. ʼn Waarde laer as 15 word as statisties goed beskou, met ander woorde, hoe laer die koëffisiënt van variasie, hoe meer aanvaarbaar die proef se akkuraatheid. ʼn Gekombineerde saadmonster van al drie herhalings word dan gradeer. Die finale resultaat word uitgedruk as inkomste per hektaar met opbrengs en gradering as die bepalende faktore.
Beskrywing van kultivars
Plaaslike Spaanse tipe kultivars met ʼn regop groeiwyse, sowel as oorsese Spaanse/Runner-grondbone was deel van die proewe. Die Spaanse/Runner-tipe grondbone het kleiner pitte wat meer vergelyk met die Spaanse tipes, maar het nie ʼn regop groeiwyse. Die kultivars wat getoets is, word in Tabel 1 beskryf.
Lokaliteit, plant en oesdatums
Rywydtes:
Die rywydtes vir die 2023/24 seisoen was as volg:
- Douglas Rietrivier besproeiing: 0,6m
- Schweizer-Reneke aanvullende besproeiing: 1,05m
- Hoopstad droëland: 1,01m
- Bothaville droëland: 0,91m
- Bultfontein droëland: 0,91m
- Bela-Bela besproeiing: 0,90m
Proefuitleg
Tabel 3 toon ʼn voorbeeld van ʼn proefuitleg soos gebruik word.
Tabel 3: Voorbeeld van ʼn proefuitleg soos gebruik te Douglas – ʼn Gerandomiseerde blokontwerp met drie herhalings.
Resultate en bespreking
Figuur 2 tot 4 stel die proefresultaat vir Douglas, asook ʼn opsomming van die besproeiing- en droëlandproewe grafies voor. Opbrengs/ha word as ʼn indeks voorgestel met 100 as die gemiddeld van die proef. Uit die Douglas besproeiingsproef (Figuur 2) het C7-2, wat ʼn nuwe Spaanse kultivar is, die hoogste opbrengs en naas TT006 die tweede hoogste persentasie keurgraad behaal. Tydens oes by Douglas is waargeneem dat van die peule al begin uitloop het, wat gradering negatief beïnvloed het. Dit is egter goed om te sien dat ʼn nuwe kultivar onder hierdie omstandighede uitstaan.
Nog ʼn Spaanse tipe wat ook baie goed gedoen het, is Sellie Plus, met Anel, Akwa, TT007 en TT006 wat ook bo die proefgemiddeld (100 indekspunt) presteer het. HP20-0035 is ʼn nuwe Spaanse/Runner-kultivar wat ook uitstekend presteer het ten opsigte van opbrengs/ha. Die kultivar het egter swakker gradeer wat ʼn negatiewe effek op winsgewendheid het. HP20-0038 is ook ʼn nuwe Spaanse/Runner kultivar wat bokant die proefgemiddeld by Douglas presteer het.
Figuur 3 stel die gemiddelde opbrengs/ha en keurgraad van al drie besproeiingsproewe (Douglas, Schweizer-Reneke en Bela-Bela) grafies voor.
Die Spaanse/Runner-kultivars HP20-0035 & HP20-0038 het die beste gemiddelde opbrengs/ha behaal. HP20-0035 het >10% beter as die gemiddeld vir opbrengs/ha presteer. HP20-0038 het egter beter gradeer as HP20-0035. Die beste Spaanse kultivar was C7-2, met Sellie Plus kort op sy hakke. Die kultivar Anel se opbrengsprestasie was ook bo die gemiddeld van die proef. C7-2 het gemiddeld die hoogste persentasie keurgraad behaal.
Figuur 4 stel die gemiddelde opbrengs/ha en keurgraad vir die drie droëland-lokaliteite (Bothaville, Bultfontein en Hoopstad) voor. Die Spaanse Runner-kultivar HP20-0035 het die beste gemiddelde opbrengs/ha behaal. HP20-0038 het ook bo die proefgemiddeld presteer. Die beste Spaanse kultivar was C7-2, met Sellie-Plus en Anel wat ook bo die proefgemiddeld presteer het. C7-2 het gemiddeld ʼn hoër persentasie keurgraad as Sellie Plus en Anel behaal. Die kultivars 2H-84-1 en TT1005 het gemiddeld die hoogste keurgraad behaal maar ingeboet op opbrengs.
Gevolgtrekking
Die nuwe Spaanse/Runner-kultivars (HP20-0035 en HP20-0038) het goed ten opsigte van opbrengs presteer in die eerstejaar-proewe. Uit die statistieke is dit duidelik dat die Spaanse kultivar C7-2 in die eerstejaar-proewe uitstekend presteer het vir opbrengs en keurgraad. Die stabiliteit van ʼn kultivar is baie belangrik. Vir hierdie rede is dit baie belowend as ʼn kultivar in alle omstandighede stabiel vertoon, veral met die afgelope seisoen wat baie droog en warm was.
Dankbetuigings
- Die produsente by wie die proewe gedoen is en wat hulp verleen het
- Die personeel van Triotrade vir die hulp wat verleen is
- Loureine Muller en Laurika Pansegrouw vir die doen van die graderings en die saamstel van die finale data
- Die maatskappy Soygro wat die wat die grondboonentstof gratis skenk vir die uitvoer van die kultivarproewe
- Ons Hemelse Vader vir die gesondheid, talente en beskerming
Vir navrae omtrent die proefresultate, kontak Pierre Ferreira (0829044769). Vir navrae om grondbone te plant, kontak Francois Cilliers (0769507377).