Bou prosesse en vertroue… blokkie vir blokkie
Soos met enige Lego-stel, maak dit nie saak hoe indrukwekkend die eindproduk is as die fondament nie sterk is nie. In Johan Deetlefs se lewe en loopbaan, nou as GWK Hopetown-handelstakbestuurder, rus alles op drie kernboublokke.
Die eerste is karakter. Harde werk, dissipline en om jou plek in ’n gemeenskap te verstaan, vorm die basis. Dit gaan daaroor om mense reg te hanteer, jou woord gestand te doen en verantwoordelikheid vir jou besluite te neem. Sonder hierdie fondament hou geen struktuur lank nie.
Die tweede boublok is mense en samewerking. Sukses word gebou deur vertroue, eerlike kommunikasie en konsekwente optrede. Dit beteken om jou span te ken, hul sterkpunte te benut en saam te werk aan ’n gemeenskaplike doel. Wanneer mense vertroue in mekaar het, raak uitdagings hanteerbaar en oplossings volhoubaar.
Die derde boublok is volhoubare bestuur en groei. Hier gaan dit oor professionele, toegewyde en verantwoordelike bestuur – nie deur ekstra papierwerk of ingewikkelde stelsels nie, maar deur eenvoud, duidelikheid en konsekwentheid. Vaardighede in mensebestuur, finansiële beplanning en prosesverbetering skep ’n omgewing waar die Hopetown-tak stabiel kan groei, met sterk interne prosesse en verhoudings wat oor tyd gebou word.
Blokkie vir blokkie
So, hoe bou ’n handelstakbestuurder aan ’n gemeenskaplike doel wat almal motiveer?
Blokkie vir blokkie, antwoord Johan. Sy insig kom nie noodwendig uit bestuursboeke of motiveringspraatjies nie, maar van die sitkamermat af, tussen Lego-blokkies saam met sy seun Luan. “Talle vars perspektiewe kom dikwels uit hierdie Lego-bou-en-gesels-sessies,” sê hy.
Sodra jy dink jy is slimmer, word jy eenvoudig gewys hoe iets anders – en dikwels beter – gedoen kan word.”
Dit is juis hier, in hierdie eenvoudige maar kosbare oomblikke, waar Johan nuwe perspektiewe op werk én die lewe ontdek. Sy seun wys graag dat daar ’n beter, slimmer of meer kreatiewe manier is om iets te bou. En daardie les – om te luister, aan te pas en weer te probeer – het ’n blywende indruk gemaak. Hier is daar geen druk vir perfeksie nie – net ruimte om te eksperimenteer, te leer en weer te bou.
In ’n tyd van persoonlike herkalibrering het dit vir Johan ’n stil, maar kragtige anker geword – dit herinner hom daaraan om nederig te bly, te leer en soms dinge uit ’n ander hoek te benader. Dit weerspieël ook Johan se bestuursbenadering: bou met sorg, met geduld en op ’n stewige fondament. Moenie aanvaar jy het al die antwoorde nie.

Tussen speel en bou saam met sy seun, Luan, ontdek Johan Deetlefs nuwe perspektiewe wat sy benadering tot bestuur, mense en prosesse vorm.
Wortels wat rigting gee
Johan het in De Aar grootgeword, ’n kleiner dorp wat hom reeds vroeg die waarde van harde werk en dissipline geleer het. “Jy leer jou plek in die gemeenskap verstaan, hoe om mense reg te hanteer, om jou woord gestand te doen en om verantwoordelikheid te neem vir jou besluite. Hierdie lesse het nie net my persoonlike lewe beïnvloed nie maar lê ook vandag nog aan die kern van hoe ek bestuur en besigheid doen.”
Vir iemand wat hom die eerste keer ontmoet, is hy toeganklik, eerlik en prakties.
Ek glo daaraan om te luister voordat ek praat en om eers te verstaan voordat ek optree. Ek hou daarvan om dinge reg te doen eerder as vinnig en om volhoubare oplossings te soek.”
Loopbaan stewig gebou op ervaring
Sy loopbaan in die landboubedryf het hom die geleentheid gegee om in verskillende streke te werk. Elke streek het sy eie uitdagings, tempo en werkswyses. Hierdie blootstelling het hom geleer dat suksesvolle bestuur nie oor vaste formules gaan nie, maar oor aanpasbaarheid, konteks en mensekennis.
Sy tyd as GWK-takbestuurder van 2015 tot 2021 was ’n belangrike boufase in sy professionele ontwikkeling. Hier het hy sy vaardighede in mensebestuur, finansiële beplanning en prosesverbetering verfyn. Hy het geleer hoe belangrik dit is om jou span se sterkpunte te ken en doelgerig saam te werk.
Die besluit om terug te keer na GWK, was vir my ’n natuurlike stap.
GWK se kultuur, waardes en fokus op langtermynverhoudings het sterk met my eie benadering tot bestuur ooreengestem. Dit het gevoel soos ’n tuiskoms.”
Nuwe hoofstuk in Hopetown
Sy eerste fokus in hierdie nuwe hoofstuk van sy lewe, is om die span en die produsente goed te leer ken. Hy glo nie aan verandering ter wille van verandering nie, maar eerder aan verstaan voordat daar gebou word.
“My aanstelling as takbestuurder van GWK Hopetown is vir my ’n besonder opwindende nuwe hoofstuk. Hopetown is ’n gemeenskap met sterk landboutradisies en mense wat trots is op wat hulle doen. Dit skep ’n omgewing waar mens regtig ’n verskil kan maak.
“Oor die volgende paar jaar wil ek graag sien hoe die Hopetown-tak volhoubaar groei, met sterk interne prosesse en verhoudings wat oor tyd gebou word. My doel is dat die tak bekend sal wees vir betroubaarheid, goeie diens en ’n praktiese benadering.
“Wat Hopetown vir my uniek maak, is die mense en die dinamiek van die streek. Dit vra vir ’n bestuurstyl wat teenwoordig, betrokke en realisties is.
Leierskap en prosesse: eenvoud wat werk
Prosesverbetering is een van Johan se groot passies. Wanneer elkeen weet wat van hom of haar verwag word, funksioneer ’n tak soos ’n goed ontwerpte Lego-stel: elkeen het ’n plek en ’n doel.
Hy glo sterk daaraan om sy span by hierdie prosesse te betrek omdat hulle die praktyk die beste verstaan. Wanneer prosesse reg werk, verminder dit druk, beperk dit foute en skep dit ruimte vir beter diens aan produsente.
Verhoudings as fondament
Verhoudings met produsente is vir hom die hart van enige suksesvolle tak. Vertroue word nie oornag gebou nie – dit verg eerlike kommunikasie, konsekwente optrede en goeie opvolg. “Ek glo ’n takbestuurder moet deel wees van die plaaslike landbougemeenskap en nie net ’n administratiewe rol vervul nie. Om produsente se uitdagings eerstehands te verstaan, help om beter ingeligte en realistiese besluite te neem.”
Buite die kantoor
Tyd weg van sy kantoor gee Johan die geleentheid om te reflekteer, nuwe energie te kry en met ’n vars ingesteldheid terug te keer werk toe. “Ek geniet aktiwiteite in die natuur, of dit nou gholf of ander sportsoorte is. Dit help my om my kop skoon te maak en weer ’n vars perspektief te kry.
Johan se wens vir Hopetown
Sy boodskap aan GWK-kliënte, produsente en kollegas is eenvoudig, maar betekenisvol: “Ek sien uit daarna om saam te werk en – soos met Lego – blokkie vir blokkie vertroue te bou en ’n meesterstuk van volhoubare groei te skep deur professionele, toegewyde en verantwoordelike bestuur.”
Vir Johan is sukses as GWK Hopetown se takbestuurder presies dit:
’n Span wat saamstaan, produsente wat vertrou, en ’n tak wat blywende waarde tot die gemeenskap toevoeg.








