Moenie vir Colette Cohen ‘só kyk nie’
By ’n graansilo is alles afhanklik van beweging: graan wat inkom, inligting wat vloei – mense moet weet wat om te doen, en wánneer. Niks gebeur toevallig nie. Elke vragmotor het sy vrag, elke dokument en elke syfer moet presies reg wees.
In hierdie bewegende wêreld van presisie by die GWK Douglas-silo, is Colette Cohen, Senior Koördineerder/Admin Graangradering, die persoon wat sorg dat die ratte nie net draai nie, maar sáám draai.
Sy is gelyktydig ’n onmisbare rat in dié masjien én die skakel wat verbind – die bindende krag tussen mense, prosesse en verantwoordelikhede.
Die verbindingspunt waar alles saamkom
Colette werk al meer as ’n dekade by die Douglas-silo, maar haar pad by GWK begin reeds in 2009. Met ’n B.Comm-graad in Menslike Hulpbronbestuur en ervaring by Mensekapitaal (Vergoeding) voordat sy in die gradeerkamer begin het, bring sy vandag ’n diep begrip van stelsels, prosesse én mense na haar rol.
“Dié Douglas-terrein is ’n bedrywige plek: meganisasie, aartappels (ook Simba), grondbone, pekanneute, lusern en die silo – almal met hul eie funksies en verantwoordelikhede. Die weegbrug is by ons, so almal moet eintlik by ons verbybeweeg.”
Akkuraatheid is nie ’n luukse nie
Dit is hier waar Colette se werk sentraal staan. Sy sorg dat elke afdeling weet wat die ander doen en waarom. “Alles wat by ons inkom, moet geweeg, gegradeer en korrek verwerk word,” verduidelik sy. Haar werk fokus daarop om instruksies te verseker, administrasie en fisieke beweging te koördineer en te laat ooreenstem, en te voorkom dat afdelings in isolasie funksioneer.
“So, die gradeerkamer doen eintlik weegaksies vir hulle. Lusern doen hul eie gradering hier. Ons weeg, gradeer en versend mielies, koring en gars – die drie grootste kommoditeite. Maar mielies is nie net mielies nie, moet hom nou nie só kyk nie. Daar is verskillende tipes, soos geel-, wit- en GMO-vrye mielies, jou waxy- en Simba-mielies, wat kommersieel en GMO-vry is, elk met sy eie admin-vereistes. Alles wat by ons inkom, moet geweeg, gegradeer en korrek verwerk word.
“My rol is om te sorg dat die administrasie alles glad verloop: dat trokke reg bespreek is, dat papierwerk korrek is, met regte laaibeurte, dat registrasies klop, dat die regte registrasie op die regte instruksie is, en dat die regte inligting op die regte stelsels is. Dit klink eenvoudig, maar as een syfer of letter verkeerd is, kan dit groot probleme veroorsaak.
Die hart van die terrein
Colette se fyn oog vir detail en haar liefde vir orde en akkuraatheid sorg dat hierdie risiko’s tot die minimum beperk word. Sy verstaan dat ander afdelings afhanklik is van haar werk. “Jy is maar net ’n ratjie in die proses,” sê sy, “maar as jou ratjie gaan staan, is daar kettingreaksies.”
By ’n silo beteken foutiewe papierwerk stilstand – of erger. ’n Vragmotor wat sonder korrekte dokumentasie ry, stel die hele organisasie bloot aan risiko. Dit is hoekom Colette oudits verwelkom: dit bevestig dat dinge reg gedoen word en beskerm die onderneming, sou vrae ontstaan.
Eerlik, reguit – en betroubaar
Colette sê mense dink soms sy is ontoeganklik of vol draadwerk. “Ek is eintlik nié. As jy jou deel doen, dan doen ek my deel. Dis baie eenvoudig, maar moenie onnodig dinge kompliseer nie. Dán is ek vol draadwerk,” lag sy. Haar lewensfilosofie som haar werk en menswees perfek op:
“Jy moet vir jouself die maklike manier kry om dit die regte (en reguit) manier te doen.”
Dis juis haar reguit manier wat duidelikheid skep, en duidelikheid bou vertroue. Haar eerlike en deursigtige manier van werk help om misverstande tussen afdelings te voorkom en maak haar ’n staatmaker in die werksomgewing.
“Wat my motiveer, is nie ’n groot, dramatiese ding nie – dis om my tafel skoon te hou. Ek hou daarvan om my werk goed te doen, my tafel skoon te hou en te weet my inligting is reg, want ander mense is daarvan afhanklik. Ek het aanvanklik niks daarvan gehou nie, maar ek het leer filing doen by die Vergoedingspan. Ek werk ’n pakkie papiere op my tafel vinnig weg.
“Wat ek die meeste waardeer van my werksomgewing, is dat dit nie heeljaar teen dieselfde tempo jaag nie. Oestyd is intens, maar daarna is daar weer ruimte om asem te skep.
“Ons is vier vroue en twee mans hier, en ons gel lekker. Elkeen weet wat hy moet doen, en doen dit. Ek werk graag en ek werk in ’n lekker omgewing.”
Leierskap deur voorbeeld
As senior koördineerder tree Colette ook as mentor op. Sy lei deur voorbeeld en moedig ander aan om selfstandig, akkuraat en deursigtig te werk. Sy glo mense moet weet hoekom hulle iets doen, nie net hoe nie. “Wat as ’n Putco-bus my omry?” onthou sy ’n vorige mentor se motivering.
Jongmense in die bedryf beïndruk haar dikwels met hul insig en potensiaal. “Die grootste uitdaging vir my in ons werksomgewing is egter om mense te kry wat permanent in die graanbedryf wil werk, veral gradeerders. Jongmense ken nie altyd die bedryf nie, en dit maak dit moeilik om nuwe mense aan te stel. Tog verbaas dit my hoe slim en vooruitdenkend jong mense kan wees wanneer hulle wel betrokke raak.
‘Nuttelose syfers’
Sy het ’n kop vir syfers – soos sy sê, soms nutteloos, maar ook vir interessante inligting. “Dit doen nie noodwendig iets vir my werk nie, maar dit interesseer my. Nadat ek jare lank almal se verlofvorms ingelees het, het ek kollegas se personeelnommers en motorregistrasienommers onder die afdakke begin onthou en kon dit, tot hulle vermaak, so saam opsê.”
Of dit nou is om ’n plek op Google Maps na te vors, of om ’n administratiewe proses tot op die laaste syfer te verstaan, Colette Cohen wil wéét hoe dinge inmekaar pas.
“Ek is nogal iemand wat daarvan hou om plekke en dinge op te soek. Ek gebruik baie Google Maps en Street View om plekke beter te verstaan. Ek hou van sulke nuttelose, interessante inligting. Dit doen nie noodwendig iets vir my werk nie, maar dit interesseer my.”
Hierdie besondere vermoë om die groter prentjie te sien – iets wat sy waarskynlik te danke het aan haar liefde vir detail en konteks – is moontlik juis waar haar waarde lê: in die betroubaarheid, die akkuraatheid en die wete dat dinge reg is.
‘Ek is simpel, ek is laf’
Die gefokusde Colette is ook iemand wat hou van lag en gesels en ’n positiewe atmosfeer. In die kantoor speel die radio, daar word soms saamgesing, en studente wat kom help, kry gou die “belangrike taak” om soggens seker te maak die radio is aan.
“Ek probeer ook bydra tot ’n positiewe werksomgewing. Ek hou nie van negatiwiteit nie – ek is simpel, ek is laf. Ek glo ’n mens kan altyd iets positief vind. Ek kan nie dat iets my onderkry nie; die wêreld sal van jou vergeet as jy daar onder ’n tafel inkruip.”
’n Storiemens
Weg van haar lessenaar is Colette ’n mens vir stories: familiegeskiedenis, boeke, gedigte, Afrikaanse stories, veral Deon Meyer se boeke. Sy het op skool gedroom om soos Antjie Krog ’n digbundel uit te bring. “Ek moes dalk eerder BA gaan swot het, want op universiteit het my skryfwerk opgedroog.
“Wat ek saans móét doen, en wat ek wél doen, is twee verskillende dinge,” spot sy. “Ek is lief vir ’n braai, lekker kosmaak – veral met bokmelkkaas wat ek toevallig hier op Douglas ontdek het – en verder sorg ek dat die swembad blou bly.”
Lewenspad
Haar lewenspad het haar geleer om selfstandig te wees, maar ook om die waarde van mense, geskiedenis en samewerking te verstaan.
“Ek is in Bloemfontein gebore en skoolgegaan, ook universiteit toe, waar ek later as ’n studentassistent by die Onderwysdepartement gewerk het terwyl ek studeer het. Ek het dit baie geniet om op kampus te werk.
“Ek is spyt dat ek nooit regtig ’n studentelewe gehad, of die koshuislewe geniet het nie. Ek was ’n halwe week in Sonnedou en toe het ek besluit die poppies is nie vir my nie.”
Familie
“My familie het ‘n ryk geskiedenis en daar is baie stories wat ek onthou. My oorlede pa het ons familiegeskiedenis nagevors, selfs al was daar verwarring oor vanne soos Kühn, Cohen en Cöhn.
“Interessante staaltjie: My oupagrootjie Henry Cohen is Duitsland toe om vir sy familie te gaan kuier en het nie teruggekom nie. My oumagrootjie kry toe ’n brief van die predikant wat sê hy is dood, en sy kan nou maar weer trou – wat sy toe ook gedoen het.
“Maar my pa het nooit die storie geglo nie. Hy het gaan grou en grou en vir die Duitse ambassade en regering briewe geskryf. Een Sondag, toe loop my pa in die Joodse begraafplaas in Bloemfontein rond, en daar kom hy op ’n graf af, van die einste Henry Cohen! Daai ou was toe nooit terug Duitsland toe nie – hy het toe eintlik net ’n ander vrou gaan vat,” lag sy.
“En dan die diamant-storie…” gaan sy voort. “Die familiestories is vir my belangrik en interessant, ek wens net ek het beter geluister.”
’n Wens wat alles opsom
Haar wens vir haarself som haar loopbaan én karakter perfek op: “To be sincere and honest in all aspects of life and work; to make a positive impact through accuracy, knowledge and hard work.”
By GWK Douglas is Colette Cohen dalk nie altyd op die voorgrond nie – maar sonder haar sou min dinge vorentoe beweeg. En in die wêreld van graan, waar elke detail tel, is sy presies die regte rat op die regte plek.








