Bly positief
Hier na die einde van die jaar toe kan ʼn mens gou uitgeput, geïrriteerd en negatief raak. In die mees basiese terme beteken positiwiteit om ʼn optimistiese uitkyk op die lewe te behou, selfs in die aangesig van uitdagings. Positiewe mense soek vir die silwer randjie in elke situasie en is oor die algemeen dankbaar.
Om positief te wees, beteken nie dat jy nooit negatiewe emosies ervaar of met negatiewe gedagtes stoei nie. Die verskil is dat positiewe denkers nie toelaat dat hulle deur hulle emosies beheer word nie. Hulle fokus nie op probleme nie, maar soek eerder oplossings. “Om ʼn positiewe persoon te wees, het meer te doen met veerkragtige en realistiese reaksies op situasies,” sê die sielkundige Jo Eckler. “Dit beteken om hoop en vertroue te hê in jou eie vermoë om moeilike situasies te hanteer, terwyl jy onthou dat niks ooit áltyd negatief is nie.”
Positiewe mense…
- Is optimisties
- Is dankbaar
- Vind oplossings
- Is hulpvaardig
- Toon meegevoel
- Is gelukkig
- Vind die humor
Wat kan ek doen om meer positief te wees?
Beoefen dankbaarheid: Maak ʼn lys van goed wat jou gelukkig of dankbaar laat voel. Dit kan iets eenvoudig wees soos ʼn sonnige dag of ʼn troeteldier wat by jou lê. Deur op die goeie dinge in die lewe te fokus, sal jy outomaties na ʼn meer positiewe uitkyk beweeg.
Geniet die afwagting: Kry elke dag iets waarna jy uitsien. Navorsing toon dat positiewe afwagting jou bui verbeter en spanning verminder.
Glimlag: Selfs as jy nie in ʼn goeie bui is nie, kan jy beter voel deur jouself te forseer om te glimlag omdat dit chemiese stowwe in jou brein vrystel wat jou meer ontspanne laat voel.
Gebruik positiewe self-gesprekke: Die dinge wat jy vir jouself sê, beïnvloed hoe jy oor jouself en die wêreld dink. As jy jouself konstant kritiseer, ondermyn jy jou vermoë om op die positiewe kant te fokus.
Begin gesprekke met ʼn positiewe gedagte: Woorde maak ʼn verskil in hoe jy voel én in ander se persepsie van jou. Voor jy volgende keer antwoord “baie besig en onder druk!” as iemand jou vra hoe dit gaan, probeer iets soos “ek het nounet die lekkerste toebroodjie geëet!”.
Wanneer moeilike situasies onvermydelik is, wees gaaf met jouself: Om spanning of pyn te onderdruk, help nie en kan selfs skadelik wees. ʼn 12 jaar lange studie deur Harvard het getoon dat mense wat hul emosies onderdruk ʼn groter kans op voortydige dood staan. Mense wat hul eie ervarings aanvaar eerder as veroordeel, het oor die algemeen beter sielkundige gesondheid.
Ervaar die voordele
ʼn Paar van die noemenswaardige voordele van ʼn positiewe gesindheid sluit in:
- Beter geestesgesondheid: Positiewe mense is minder geneig om aan angstigheid of depressie te ly. In moeilike tye kan positiewe mense ʼn sterker buffer bied teen die negatiewe invloed van spanning.
- Gelukkigheid: Positiwiteit word gekoppel aan geluk en subjektiewe welstand.
- Beter fisieke gesondheid: Navorsing toon dat positiewe mense minder geneig is om aan kardiovaskulêre siektes te ly en langer leef.
- Beter verhoudinge: Positiewe mense is minder geneig om konflik met ander te hê en het gesonder, meer vervullende interpersoonlike verhoudinge.
Om meer positief te wees, spandeer tyd saam met positiewe mense, doen dinge wat jou gelukkig maak, vermy negatiewe gedagtes en emosies, wees dankbaar vir wat jy het en soek na die silwer randjie in elke situasie.
*Bronne:
- www.verywellmind.com
- www.oprahdaily.com