Blinknuwe voorkoms vir GWK Diensstasie op Prieska
Die GWK Diensstasie op Prieska ondergaan tans ʼn opwindende transformasie. Die opgradering van dié vulstasie het in Junie verlede jaar begin. Die eerste fase van die opgradering is voltooi en die Total Energies-vulstasie doen reeds sedert 6 Maart weer sake.
Die nuwe kiosk sal ʼn bietjie later vanjaar open. Hierdie opgradering is nie net ʼn groot inspuiting vir die dorpie nie, maar die voorsiening van gehaltediens en produkte is een manier hoe GWK sy verbintenis tot die dorp en sy kliënte bevorder.
Hendrik de Klerk, die takbestuurder van GWK Handel op Prieska, het die opgradering as ʼn belangrike mylpaal vir die dorp beskryf. “Die nuwe diensstasie is ʼn verdere positiewe toevoeging tot GWK se uitgebreide diensaansbod in die area. Tydens konstruksie bly die hele Prieska-span steeds toegespits en gefokus om gehalte diens te lewer aan ons kliënte,” sê De Klerk.
Die opgraderings sover het ingesluit die toevoeging van twee dieselpompe agter die kiosk en ʼn ULP-pomp by die hoek van die GWK-raadsaal. Hierdie uitbreidings sal verseker dat kliënte vinnig en effektief bedien kan word, met ʼn nuwe rybaan wat ekstra spasie vir verkeer bied.
GWK het die projek in samewerking met Total Energies en plaaslike kontrakteurs aangepak. De Klerk het die positiewe samewerking tussen al die betrokke partye beklemtoon. “Dit is werklik ʼn voorreg om saam met so ʼn span te werk,” sê hy.
Die GWK Diensstasie op Prieska is nie net ʼn plek vir die verskaffing van brandstof nie. Daarom word daar groot klem gelê op die opgradering van die kiosk om ʼn “uit-die-boeke”-koopervaring vir kliënte te bied. Die opgradering van die kiosk is ʼn integrale deel van fase twee van die projek, wat teen einde April behoort te begin.
Die gemeenskap van Prieska kan hulle gereed maak vir ʼn splinternuwe, moderne en gerieflike ervaring by die GWK Diensstasie. Vir verdere navrae of inligting oor die opgraderings kan Hendrik de Klerk by 053 353 1151 of hendrikdk@gwk.co.za gekontak word.
- Mariette Olwagen