Agriqua-boere verheug oor katoen-oes

Agriqua is een van GWK se inisiatiewe om transformasie in landbou te bevorder. Hier word kennis in die gemeenskap teruggeploeg om talle opkomende boere in die Taung-distrik te ondersteun en bemagtig.
Agriqua Holdings bestaan reeds vier jaar en is gevorm om GWK se toewyding tot die ontwikkeling van opkomende boere te vier. GWK se landboukundiges en mentors ondersteun die Taung-produsente om seker te maak dat hulle suksesvol kan boer en vorentoe beweeg. Die hoofdoel van die Agriqua-besigheidsmodel is om befondsing te kry, opleiding te verskaf aan opkomende boere en om te sorg dat hulle in die toekoms selfstandig kan boer.
Ben Wolhuter (spesialisbestuurder van Agriqua) vertel dat die oesvoorbereiding vir die Agriqua-boere goed gegaan het in 2023. “Die boere is vroegtydig en deeglik ingelig oor die ontblaringsproses van katoen,” sê hy. “Ons het dit sommer met ʼn vliegtuig behartig en is tevrede met die uitkoms. Die koue weer wat nou reeds heers, is ook goed vir ontblaring en ons hoop om sowat 40 hektaar vanjaar met die hand te oes.”
Agriqua het 64 opkomende boere en vir 2023 is daar ʼn totaal van 590 hektaar se gewasse aangeplant. Mielies maak ongeveer 420 hektaar uit terwyl die res katoen is. Soos met enige bedryf in landbou was daar uitdagings gedurende die seisoen. “Ons het ook maar met beurtkrag gestoei gedurende die seisoen,” sê Wolhuter. “Die nuwe landerye wat gebruik is vir katoen het hoër onkruidladings gehad. Te danke aan slim en effektiewe roundup-bespuiting, kon ons dit egter onder beheer kry. Diefstal bly ons grootste kopseer by die mielies, maar ons het ʼn sekuriteitsmaatskappy aangestel om ons hiermee by te staan.”
Wolhuter meen dat die komende aanplantings hom reeds opgewonde het. “Ons gaan ongeveer 700 hektaar vir die winter aanplant, waarvan die meeste koring sal wees, gevolg deur sowat 120 hektaar gars. Ek sien uit om die garsopbrengs te verbeter, aangesien die vorige oeste nie so goed gedoen het nie.”
Rita Tshesejane van Pudimoe net buite Taung is een van die Agriqua-boere wat haar eerste katoenoes onlangs afgehaal het. Tshesejane is vir ongeveer drie jaar by Agriqua betrokke. “Dit voel onwerklik om langs my eerste katoenoes te kan staan. Volgens Ben, en wat ons verder gehoor het, lyk die katoen goed,” sê sy.
Rita Tshesejane staan trots by haar eerste katoenoes.
Haar nuwe liefde vir katoen skryf sy toe aan die uitstekende katoenwerkwinkels wat deur Agriqua en GWK aangebied is. “Ons het soveel by die ongelooflike werkswinkels geleer,” vertel Tshesejane. “Die spreker van Katoen SA het elkeen se vrae en bekommernisse beantwoord en ons boere het met soveel inligting daar uitgestap. Aanvanklik wou ek dadelik weer katoen plant, maar ons sal effektiewe wisselbou toepas en iets beter vir die winter plant.”
Werkskepping en die bemagtiging van vroue is iets wat vir Tshesejane na aan die hart lê. “Op my tien hektaar katoen het ek agt vroue in diens geneem om my met die oes te help. Ons is slegs twee opkomende vroueboere in hierdie area en ek sal dit graag wil groei.”
Haar drome vir die toekoms is om te leer en verder uit te brei. “Ek wil graag eendag ʼn suksesvolle boer wees. Ek wil groei, mense bemagtig en ʼn pad saam met Agriqua stap. Ek moet ook vir Ben dankie sê, sonder sy advies sou niks hiervan seker moontlik gewees het nie.”
Mpho Kgaoganyeng is een van Agriqua se suksesverhale en het reeds in 2019 betrokke geraak. Hy sien uit na al die nuwe verwikkelinge en moontlikhede. “Met die hulp van Nedbank het ons deur die YES (youth employment service)-program 80 jeugdiges gekry wat vir een jaar by Agriqua gaan inskakel. Met hierdie projek beoog ons om jongmense by boerdery te betrek en seker te maak dat hulle kennis en ervaring van die bedryf opbou.”
Mpho Kgaoganyeng hou die stroper fyn dop.
Kgaoganyeng beklemtoon die boere se gevoel teenoor die katoenoes. “Dit is nie ʼn gewone produk vir die Taung-boere nie. Die oes lyk egter baie belowend en ons sien uit om te kyk hoe die res van jaar verloop.”
Agriqua gaan van krag tot krag en die bykomende beleggings is iets waaroor die produsente dankbaar is. “2023 is beslis Agriqua se jaar en die aantal nuwe beleggers aan boord is vir ons positief. Die beleggers besef watter waarde Agriqua het en elkeen deel ons visie. African Development Bank, Nedbank en The Jobs Fund is van die instansies wat nou ook aan boord is,” sê Kgaoganyeng.
Deur Frans le Roux