Agri-tegnologie: Van belofte tot praktyk
Die son het nog nie oor die lande opgekom nie, maar die plaas is reeds wakker. Die sagte gegons is nie bye nie, maar duisende mikro-hommeltuie wat soos stuifmeel in die lug dryf. Die mieliekoppe het oornag elektriese seine uitgestuur, en die swerms het dadelik gereageer. Net die mees lewensvatbare koppe word bestuif; markdata en weerpatrone is reeds verreken. Bestuiwing is lankal nie meer gekoppel aan ’n seisoen nie – dis ’n diens.
Die koringlande begin fluister, nie woorde nie, maar met ligpulse en sagte klanke wat die Augmented Reality-bril vertaal: “stres links, fosfor laag, ’n plaag op pad”. Die produsent knik instinktief – “die plante praat al jare, ons moes net leer luister”.
Hierdie land onthou die droogte van 2043 en het reeds sy strategie aangepas. Ná elke seisoen leer die grond vinniger as voorheen. Onder die produsent se voete dink die grond saam. Die mikrobiese netwerke, geneties verfyn oor dekades, herverdeel voedingstowwe soos ’n lewende algoritme…
In die vroeë 2000’s
Twintig jaar gelede is agri-tegnologie aan produsente voorgehou met ’n eenvoudige belofte: tegnologie sal boerdery meer doeltreffend maak. Presisiegereedskap, biotegnologie en outomatisering sou opbrengste verhoog, vermorsing verminder en ’n groeiende wêreldbevolking voed. In baie opsigte is daardie belofte nagekom – maar selde op die eenvoudige manier wat aanvanklik voorspel is.

Vandag is voedselprodusente ook tegnologiebestuurders, data-ontleders en strategiese besluitnemers. Foto: Canva/AI
In die vroeë 2000’s was GPS-geleide trekkers, opbrengsmonitors en veranderlike toedieningstelsels baanbrekerswerk. Die idee dat water, kunsmis of chemikalieë slegs toegedien kon word waar dit nodig was, het revolusionêr geklink. Vandag is presisieboerdery op baie kommersiële plase standaardpraktyk. Satelliete, sensors en sagteware het net so integraal tot boerdery geword soos saad tot grond.
Nog ’n sterk voorspelling was dat data intuïsie sou vervang. Boerdery – lank gevorm deur ervaring, instink en plaaslike kennis – sou volgens tegnologie-kenners volledig datagedrewe raak. Die werklikheid was egter meer ingewikkeld. Terwyl produsente toenemend staatmaak op modelle en ontledings, het menslike oordeel nooit verdwyn nie. Inteendeel, die afgelope twee dekades het gewys hoe noodsaaklik konteks, vertroue en plaaslike kennis bly wanneer data in werklike besluite omskep moet word.
Innovasie gebeur nie in ’n vakuum
Biotegnologie het ’n soortgelyke pad gevolg. Geneties-gemodifiseerde gewasse het onmiskenbare tegniese voordele gebied, maar sosiale weerstand, regulatoriese prosesse en verbruikers se bekommernisse het wêreldwye aanvaarding vertraag. Die les was duidelik: innovasie gebeur nie in ’n vakuum nie. Kulturele, politieke en ekonomiese realiteite is net so bepalend soos wetenskaplike deurbrake.
Outomatisering was moontlik die gebied waar verwagtinge die verste vooruit geloop het. Alhoewel plant-, spuit- en oesprosesse toenemend gemeganiseer is, bly die ten volle outonome plaas grotendeels buite bereik. Koste en kompleksiteit beteken dat mense steeds onontbeerlik is.

Die koste en kompleksiteit van outomatisering beteken dat mense steeds noodsaaklik is. Foto: Canva/AI
Miskien was die akkuraatste voorspelling dié van die produsent self. Vandag is voedselprodusente ook tegnologiebestuurders, data-ontleders en strategiese besluitnemers. Agri-tegnologie het nie net die gereedskap verander nie, maar ook die produsent self se werksbeskrywing.
Die pas van verandering
’n Algemene tema in Suid-Afrikaanse agri-tegnologie is die pas waarteen innovasie plaasvind, teenoor die kapasiteit om dit sinvol te implementeer. “Produsente sukkel om huidige tegnologieë op ’n praktiese manier te implementeer en teen die tyd dat dit in plek is, het die tegnologie reeds verander,” sê Anlie Hattingh, programdirekteur van die Africa AgriTech-konferensie en -ekspo.
Teen die agtergrond van klimaatsverandering, geopolitieke spanning en die behoefte aan nuwe uitvoermarkte, sal Suid-Afrikaanse produsente volgens Hattingh gevorderde hulpmiddels nodig hê om mededingend te bly. Sy beklemtoon dat “tegnologie noodsaaklik is om naspeurbaarheid en biosekuriteit te handhaaf, terwyl opbrengste en volhoubaarheid terselfdertyd verhoog word”. Hierdie vooruitgang, sê sy, sal bepaal of plaaslike produsente toegang tot internasionale markte kan verkry en steeds die land se landbougroei kan dryf.
Van innovasie na implementering
As 2026 ’n voorvereiste aan Suid-Afrikaanse agri-tegnologie kon stel, sou dit waarskynlik wees: minder geraas, meer doelgerigte implementering. In ’n konteks van wisselvallige weer, stygende insetkoste, arbeidsbeperkings en toenemende druk vir volhoubaarheid en voedselsekerheid, stel produsente al minder belang in tegnologie bloot ter wille van nuwigheid. Die fokus is nou op oplossings wat werklik waarde toevoeg: – tegnologie wat produksie stabiliseer, risiko verminder en winsgewendheid verbeter.
Die vraag is nie meer wat tegnologie eendag sal kan doen nie, maar wat dit nóú kan lewer – op Suid-Afrikaanse plase, onder plaaslike omstandighede.
Volgens Thulasizwe Mkhabela, onafhanklike landbounavorser en erelid van die African Centre for Food Security aan die Universiteit van KwaZulu-Natal, wys onlangse modellering dat “strategiese beleggings in innovasie, gekombineer met inklusiewe beleid, die potensiaal het om boerdery in ’n katalisator vir ekonomiese vooruitgang te omskep”. Sonder beslissende optrede, waarsku hy, loop Suid-Afrika die risiko om sy afhanklikheid van eksterne hulpbronne te verdiep, wat landbou se langtermynvolhoubaarheid kan ondermyn.
Die toekoms is nie iets wat voorspel moet word nie – dit is iets wat ons skep,”
sê Mkhabela.
Indien Suid-Afrika innovasie omarm terwyl gelykheid geprioritiseer word, kan landbou nie net die nasie voed nie, maar ook ’n streeksleier in volhoubare voedselstelsels word.”
Wandile Sihlobo, hoofekonoom van Agbiz, sê die sukses van die Suid-Afrikaanse landbousektor berus op die pogings van baie organisasies en individue, insluitend wetenskaplikes, telers, saadmaatskappye, masjinerieverskaffers, finansiers, insetverskaffers, landbou-ondernemings, handelaars en talle ander waardevolle organisasies en diensverskaffers.
“Die nuwe landboutegnologie-ondernemings voeg by tot hierdie reeks organisasies wat hierdie kritieke bedryf van ons ekonomie, waarop ons almal trots is, in stand hou. Die bedryf het sedert 1994 meer as verdubbel in waarde, met uitvoer van byna US$14 miljard per jaar, en het Suid-Afrika die enigste Afrika-land gemaak wat onder die top 40 wêreldwye landbou-uitvoerders tel.
Hierdie praktiese ingesteldheid word weerspieël in ’n vinnig volwasse-wordende plaaslike ekosisteem.
Die Januarie 2026 F6S AgriTech-oorsig lig 21 toonaangewende Suid-Afrikaanse agri-tegnologie-maatskappye en -beginondernemings uit. Agri-tegnologie is reeds onlosmaaklik deel van die breër landbousektor, wat wêreldwyd as een van die mees dinamiese markgroepe beskou word.
Wat veral uitstaan, is die diversiteit van oplossings regoor die hele landbouwaardeketting. Digitale markplekke en agri-fintech-platforms soos Nile, Plantify Tech, eSusFarm Africa, agriiLabs en DataLedger gebruik KI, blockchain en finansiële tegnologie om toegang tot markte, kapitaal, versekering en voorsieningsketting-deursigtigheid te verbeter. Hierdie instrumente verminder transaksierisiko, bou vertroue en skep nuwe geleenthede vir sowel opkomende as gevestigde produsente.

Vertikale boerdery en hidroponika gebruik aansienlik minder water en grond, terwyl dit meer voorspelbare opbrengste lewer. Foto: Innovation Agritech Group Vertical farming
Terselfdertyd wen klimaatslim en alternatiewe produksiestelsels veld. Vertikale boerdery, hidroponika, aeroponika en sampioenverbouing gebruik aansienlik minder water en grond, terwyl dit meer voorspelbare opbrengste lewer – ’n toenemend aantreklike opsie in ’n waterskaars land. Ander rolspelers fokus op agri-verwerking, industriële gewasse, waterbehandeling en hernubare energie – sleutelpilare van landbouweerbaarheid.
Die groter prentjie: kos, klimaat en keuses
Die mees invloedryke tegnologieë in 2026 deel ’n gemeenskaplike fokus: waterdoeltreffendheid, klimaatsrisikobestuur, kostebeheer en groeiende stedelike vraag. Beheerde-omgewingslandbou en waterslim tegnologieë soos presisie-besproeiing en grondvogmonitering is nie meer byvoegings nie, maar kernkomponente van moderne produksiebeplanning. Data-gedrewe besluitneming beweeg weg van blote dashboards na geïntegreerde stelsels wat agronomie en ekonomie kombineer.
Die volgende fase
Met die oog op die volgende 25 jaar lyk dit of agri-tegnologie ’n nuwe fase betree. Die fokus verskuif weg van blote doeltreffendheid na veerkragtigheid. Klimaatswisselvalligheid, waterskaarste en ekosisteem-agteruitgang dwing ’n herbesinning oor wat sukses in landbou werklik beteken.
Toekomstige agri-tegnologie sal waarskynlik stabiliteit bo maksimum opbrengs prioritiseer. Kunsmatige intelligensie (AI) sal meer op die agtergrond funksioneer – grond, gewasse en vee monitor, intydse besluite ondersteun en digitale tweelingplase gebruik om risiko vooraf te toets.
Robotika kan uiteindelik op skaal realiseer in die vorm van kleiner, ligter masjiene wat op plantvlak werk.
Biotegnologie sal ook ’n groter rol speel. Chantel Arendse, hoof van plantbiotegnologie by CropLife Suid-Afrika, verduidelik dat genoomredigering, droogteverdraagsame eienskappe en moderne plantteel-instrumente die speelveld vir plaaslike produsente kan verander. “Namate boere toenemende bedreigings vir hul produksie in die gesig staar, sal geen-geredigeerde verbeterings doelgerigte teling van gewasse moontlik maak wat volhoubaar meer produseer en klimaats- en plaagdruk beperk,” sê sy.
Biotegnologie-variëteite wat reeds gebruik word – soos insekbestande en onkruiddoderverdraagsame gewasse – het reeds omgewingsvoordele gelewer. Volgens Arendse sal toekomstige tegnologieë verder strek, veral in reaksie op klimaatsverandering. “Droogteverdraagsame eienskappe in mielies word reeds kommersieel ontplooi en help om opbrengste onder matige droogtetoestande te stabiliseer,” sê sy.
Terselfdertyd bly risiko’s beduidend. Oor-outomatisering, konflik oor data-eienaarskap, toenemende ongelykheid en klimaatsverandering self kan vordering ondermyn indien bestuur en ontwerp tekortskiet.
“Die goue draad wat deur al die aspekte loop, is die voor-die-hand-liggende een – dat ál hierdie tegnologieë data versamel. Alles meet iets of laat jou toe om iets te meet,” het dr. Jan C. Greyling, ’n landbounavorser, konsultant en voornemende produsent aan landbou.com gesê.
“Ek dink ons is té gerig op tegnologie en lê nie klem op die data wat dit versamel nie. Oor die volgende tien tot vyftien jaar gaan data een van die belangrikste bates wees (en word) wat produsente besit. Die definisie van ‘n bate is tog immers enige hulpbron wat ‘n besigheid besit of beheer, en gebruik om gunstige ekonomiese waarde te verkry.
Wat ons presies met al hierdie data sal kan doen, is onseker. Wat wel seker is, is dat maatskappye wêreldwyd besig is om in data-infrastruktuur te belê.
Presies hoe data in die toekoms ’n boerdery gaan bevoordeel, moet nog uitgepluis word. Produsente moet egter vandag begin om hul data as ’n bate te sien en dienooreenkomstig te bestuur,” sluit Greyling af.
Die grootste gevaar is nie tegnologiese mislukking nie, maar stelsels wat boere, gemeenskappe en ekosisteme uitsluit van die waarde wat geskep word.
Die verhaal van agri-tegnologie, toe en nou, is dus nie een van liniêre vooruitgang nie. Dit is ’n skuif van beheer na samewerking – van groter masjiene en hoër opbrengste na slimmer stelsels en gedeelde veerkragtigheid.
Of die volgende hoofstuk sy belofte sal nakom, sal minder afhang van hoe gevorderd die tegnologie raak, en meer van vir wie dit ontwerp word.
Sien jy jouself in só ’n prentjie?
Teen namiddag verander die gewasse self. Blare kantel om hitte af te weer, stingels verstyf – ’n stormwaarskuwing het oornag deur die stelsel beweeg. Wortels draai stilweg na ’n nuwe wateraar, opgespoor minute tevore.
Daar is geen trekkers nie, net duisende klein robotte. Soos in ’n bedrywige miernes, snoei, voed en oes hulle individueel. Hulle werk onophoudelik, herstel mekaar, en laat die grond los en lewendig agter.
Langs die rand van die plaas trek voedingstorings elemente uit die lug – stikstof, spoorminerale, dou. Kunsmis word skaars gebruik; die plaas voed homself. Bo die horison word reënwolke streekgewys verryk – net genoeg, nooit te veel nie.
In die bio-koepel versnel tyd. Lig, gravitasie en ritmes word fyn gemanipuleer. Hier kan ’n nood-oes binne dae groei – ’n jaar se kos saamgepers in ’n maand, slegs wanneer die wêreld dit regtig nodig het.
Die plaas onderhandel danksy AI met markte, beskerm die rivier stroomaf en weier vandag ’n winsgewende oes omdat dit oor tien jaar skade sou doen. Die produsent sug – en aanvaar dit. Die KI beoefen etiek saam met data.

In die verte dryf ’n oseaanplaas stadig noordwaarts, ’n seisoenale trek. Foto: Canva/AI
Vandag word nuwe saad gesaai – sade wat onthou. Hulle dra die epigenetiese geheue van vorige droogtes, hittegolwe en oorlewings. Ervarings word oorgedra.
Sy polsband vibreer. Hy voel die grondvog daal en ervaar ligte spanning – ’n plaagdruk begin bou. In die verte dryf ’n oseaanplaas stadig noordwaarts, ’n seisoenale trek. Verder suid berei ’n woestynplaas voor om te skuif. Landbou het geleer om stabiliteit te soek, nie af te dwing nie.
Teen skemer kan die plaas weer rustiger asemhaal – ’n super-organisme van plante, swamme, alge en mikrobes. Dit vang meer koolstof as wat dit vrystel.
Die produsent raak rustig, want dit voel of sy plaas al reeds sy behoeftes ken.
*Bronne:
- Engineering News
- African Centre for Food Security (UKZN)
- Africa AgriTech Conference & Expo
- CropLife South Africa
- F6S AgriTech ecosystem overview (Jan 2026)
- Innovation Agritech Group
- Landbou.com








