Ligpunte in ekonomie vir 2026?
“Die agterstand is groot en gaan nie oornag verdwyn nie, maar boere behoort in 2026 meer van die voordele van hierdie verbeterings te begin voel,” skryf Johnston.
Niemand kan sê die wêreld was vervelig in 2025 nie. Baie onverwagse verwikkelinge het egter ’n groot rol gespeel in plaaslike markte en hoe 2026 daar uitsien. Is daar ’n silwer randjie vir Suid-Afrika se ekonomie en, meer spesifiek, landbou?
Een van die meer onlangse gebeure was die nuus dat Suid-Afrika van die FATF (Financial Action Task Force) se gryslys verwyder is.
Wat is die FATF?
Die FATF is ’n globale inter-regeringsliggaam wat beleide en internasionale standaarde promoveer om geldwassery, terroriste- en wapenfinansiering te beveg. Suid-Afrika is die enigste Afrika-land wat lid is van die FATF, maar ander Afrika-jurisdiksies neem daaraan deel deur streeksliggame.
Hoekom maak dit saak?
Internasionale finansiële liggame soos die FATF en die IMF (International Monetary Fund) maak gebruik van eweknie-beoordeling deur ander ledelande om voldoening aan internasionaal-ooreengekome standaarde te meet. Die resultate van hierdie evaluerings identifiseer tekortkominge en word deur lande gebruik om hul finansiëles stelsels te versterk, om uiteindelik die integriteit van die land en die globale finansiële stelsel te bevorder.
Wat is ‘n “grylys”?
‘n Gryslys verwys na die FATF se praktyk om openlik lande te erken wat tekortkominge toon in hul strategieë om geldwassery en terroristefinansiering te bestry. Daar is twee van hierdie lyste:
- Verhoogde monitering van lande wat aktief saam met die FATF werk om tekortkominge aan te spreek; en
- Hoë-risiko jurisdiksies wat onderworpe is aan aksie deur die FATF en nie aktief werk om tekortkominge aan te spreek nie.
Wanneer die FATF ’n jurisdiksie onder verhoogde monitering plaas, beteken dit dat daardie land ooreengekom het om tekortkoming binne ooreenkome tydraamwerke aan te spreek en intussen onder verhoogde monitering sal bly.
Hoekom is SA op ‘n gryslys geplaas?
Suid-Afrika is in Februarie 2023 op die FATF-gryslys geplaas weens gebrekkige stelsels vir die bekamping van geldwassery (AML) en die finansiering van terrorisme (CTF), wat spruit uit die era van “staatskaping”. Dit het gelei tot onvoldoende ondersoeke, vervolgings en toepassing van die reg teen finansiële misdade, insluitend korrupsie, onwettige goudhandel en dwelmhandel. Die land het versuim om doeltreffende implementering van hervormings te toon op gebiede soos uiteindelike voordelige eienaarskap, die vervolging van komplekse misdade en die konfiskering van onwettige opbrengste, wat die wêreldwaghond genoop het om Suid-Afrika onder “verhoogde monitering” te plaas.
Suid-Afrika se vordering, verwydering van die gryslys, en geleenthede
Suid-Afrika het ’n aksieplan in plek gestel om knelpunte reg te stel. Ons is in Oktober 2025 van die FATF-gryslys verwyder: ‘n aanduiding van verbeterde voldoening aan internasionale standaarde. Aan die einde van Januarie word die land van die Europese Unie (EU) se gryslys en die Verenigde Koninkryk se lys van hoërisikolande vir geldwassery en terrorismefinansiering verwyder. Die werklike toets lê nou in daadwerklike uitvoering om te verseker dat nuwe geleenthede geskep en benut word.
Thys van Zyl, uitvoerende hoof van die private beleggingsmaatskappy Everest Advisory Services, sê veral die praktiese voordele hiervan begin reeds wys, veral vir finansiële instellings, ondernemings wat internasionaal sake doen en buitelandse beleggers, wat tot onlangs toe versigtig was om kapitaal in Suid-Afrika te belê. “Wanneer ’n land op gryslyste is, word elke transaksie moeiliker, stadiger en duurder. Die feit dat Suid-Afrika nou van al die gryslyste af is, skep ruimte vir eenvoudiger kapitaalvloei, beter handelsverhoudinge en meer mededingende finansiële dienste.”
Die Wêreldbank se jongste vooruitskattings plaas Suid-Afrika se verwagte ekonomiese groei vir die jaar op ongeveer 1,4% – ‘n verbetering op 2025.
Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank, wil sien hoe die rande rek vir Suid-Afrikaners wat met prysverhogings stoei.
“Wanneer inflasie by die deur instap, spring openbare vertroue by die venster uit en geld word dan waardeloos,” verduidelik Kganyago ná die aankondiging van die verlaging van die inflasieteiken in die mediumtermynbegrotingsraamwerk. “Wat die teiken eintlik doen, is om die waarde van geld te beskerm. Jy stel die rand in staat om die ekstra myl te stap vir die mandjie dienste en goedere wat dit koop.”
Volgens Casey Sprake, ekonoom van Anchor Capital, is dit ‘n betekenisvolle stap wat langtermynprysstabiliteit kan steun en leningskoste later kan verlaag.
In die landbousektor
‘n Lae-inflasie-omgewing hou die moontlikheid van goedkoper finansiering, insetkoste wat stabiliseer en meer voorspelbare beplanning in vir die landboubedryf. Verdere landbou-ligpunte sluit onder meer in vordering om ondoeltreffendheid in die Suid-Afrikaanse hawens te verlig, die moontlikheid van nuwe markte vir plaaslike landbou-uitvoerprodukte en die vooruitsig dat goeie somergraanoeste vanjaar danksy La Ninã gestroop sal word.
Landbouweekblad het verskeie ekonome genader om verwagtings oor die ekonomiese vooruitsigte te kry, en die terugvoer was gemeng:
- Dr. Christie Viljoen, senior ekonoom van PwC: enigiets van 0,6% tot 1,4% “na gelang van hoe verskillende scenario’s ontvou”
- Nicky Weimar, Nedbank se hoofekonoom: verwagte BBP-groei van ongeveer 1,4%
- Die Organisasie vir Ekonomiese Samewerking en Ontwikkeling (Oeso): voorspelde groei van 1,3% in 2026
Na verwagting sal die wêreldekonomie met 2,9% in 2026 groei, wat beteken plaaslike vooruitsigte is steeds onder die wêreldgemiddelde.
Dus is Suid-Afrika se groeivooruitsigte steeds onder die wêreldgemiddelde.
Landbou-ekonomie en politiek
Politiek sal vanjaar ‘n groot rol speel in ekonomiese stabiliteit.
Casey Sprake sê dat 2026 ‘n onstuimige politieke jaar kan wees waarin onsekerheid geskep kan word deur regeringsverkiesings en Amerika se tussentydse verkiesings. Albei gebeure kan na verwagting omstrede wees, wat die risiko van wisselvalligheid in die mark op kort termyn verhoog. Dit is veral belangrik vir die landbousektor, omdat die gespanne verhouding tussen Suid-Afrika en Amerika ‘n potensiële risiko bly in terme van handel en diplomatieke betrekkinge.
“Vir die landbousektor is dit veral belangrik, aangesien die gespanne verhouding tussen Suid-Afrika en Amerika ’n groot potensiële risiko bly, veral wat handel en diplomatieke betrekkinge betref,” sê Sprake.
Sowat 4% van Suid-Afrika se totale landbou-uitvoere word na Amerika uitgevoer. Die opskorting van tariefvrye toegang na die Amerikaanse mark (soos voorheen in Kommuniek bespreek) belemmer uitvoere na een van ons land se belangrikste uitvoermarkte.
Ekonome waarsku verder oor die invloed van bek-en-klouseer. Lewendehawe maak ongeveer die helfte van Suid-Afrikaanse landbou se BBP uit, en druk word op die rooivleisbedryf geplaas.
“Die plan om die hele Suid-Afrikaanse beeskudde van sowat 13 miljoen diere in te ent en die logistieke reëlings oor hoe dit gaan gebeur en hoe die land genoeg entstof in die hande gaan kry, móét ’n prioriteit bly,” sê Wandile Sihlobo, hoofekonoom by Agbiz.
Daar is egter faktore wat op positiewe ekonomiese verandering dui, soos verbruikersbesteding. Koopkrag het in 2025 verbeter en aanduidings toon dat dit in 2026 verder sal groei.
Hervormings in infrastruktuur het ‘n goeie vooruitsig, met vordering in Operasie Vulindlela, wat ondoeltreffendhede in die voorsieningsketting kan verminder. Hier word gefokus op waterlisensies, vragspoorhervorming en private belegging in hawens (soos Durban se kaai 2).
‘n Blik op 2026
Leander Johnston van Farmspace sê die prentjie vir Suid-Afrikaanse landbou is “versigtig-optimisties”. Hy identifiseer geleenthede wat vir landbou voorlê:
Goeie uitvoer-vooruitsigte
Landbou bly een van ons land se ekonomie se toppresteerders. Suid-Afrika is ook ‘n sleutelrolspeler in Afrika se voedselvoorsiening, en is ‘n belangrike handelsvennoot vir die vasteland wat sowat die helfte van SA se landbou-uitvoere opneem, veral mielies, suiker, oliesade en ander stysel-stapelprodukte. Nuwe markte vir onder meer avokado’s en ander hoëwaarde-gewasse word in Asië en die Midde-Ooste oopgemaak, wat handelsonsekerheid beperk. Internasionale vraag na Suid-Afrikaanse produkte behoort dus in 2026 sterk te bly, terwyl plaaslike verbruikers baat vind by voldoende voedselaanbod en meer stabiele pryse.
Tegnologie ondersteun produktiwiteit en volhoubaarheid
Die meerderheid kommersiële graan- en oliesaadboere gebruik reeds presisietegnologie: van GPS- en outomatiese stuurstelsels, opbrengingsmonitors en veranderlike toediening van kunsmis, tot data-analise vir beter besluitneming. Dit verhoog akkuraatheid, spaar insette en beperk vermorsing. Digitale platforms en e-handel verander hoe boere produseer én verkoop. Nuwe aanlyn platforms verbind boere direk met kopers in Suid-Afrika en met lande oorsee, sodat selfs kleiner produsente toegang het tot die globale markte en hulle logistiek slimmer kan bestuur. Daarby kom slim besproeiing, hommeltuie, satellietbeelde en kunsmatige intelligensie vir voorspelling van plae, opbrenging en planttyd.
Gunstige beleidsrigting en regeringsondersteuning
Die besluit om die hele nasionale beeskudde sistematies teen bek-en-klouseer in te ent, is ’n groot keerpunt vir die rooivleisbedryf. Minder siekte-uitbrekings beteken op die medium termyn meer stabiele vleis-uitvoere en beter inkomste vir veeboere. Die Gemengde Finansieringskema (Blended Finance Scheme) – ’n kombinasie van lenings en toelaes wat deur die staat en Land Bank befonds word – begin werklik ’n verskil maak, veral vir opkomende boere en projekte wat grondhervorming en uitbreiding van produksie bevorder. Dit verlig skuldlas en trek meer boere in die kommersiële kringloop in.
Klimaatsverandering-planne
Voorbeelde uit verskeie streke wys reeds dat boere wat klimaatslim praktyke volg, beter opbrengste en meer veerkragtigheid toon as hul bure wat op ou metodes staatmaak. Hierdie praktiese “maak-’n-plan”-benadering is ’n kernrede vir optimisme.
-
- Diversifisering en droogtebestande gewasse wat water beter benut en inkomste versprei.
-
- Slim waterbestuur met drup- en mikrobesproeiing, reënwateropvang en kontoer-praktyke om afloop te verminder.
-
- Bewaringsboerdery (geen/minimum bewerking, dekgewasse, beskerming van bogrond) wat die grond gesonder maak, vog behou en koolstof vaslê.
-
- Klimaatslim veeboerdery, insluitend geharde rasse, verbeterde weidingsbestuur asook verhoogde biosekuriteit, help om produksie teen hitte en siektes te beskerm.
-
- Vroeë waarskuwingsstelsels en weer-inligting via fone en “apps” wat die boere in staat stel om plant- en oesbesluite betyds aan te pas.
- Vroeë waarskuwingsstelsels en weer-inligting via fone en “apps” wat die boere in staat stel om plant- en oesbesluite betyds aan te pas.
Nuwe groeigebiede
Benewens tradisionele gewasse en boerderymodelle, is daar heeltemal nuwe groeisnellers wat momentum kry en geleenthede inhou. Hierdie tendense vorm ‘n beeld van landbou wat nie net op volume staat maak nie, maar ook op waarde, innovering en diversifisering:
-
- Digitale landbou en agri-fintech: Boere gebruik platforms om produkte te verkoop, insette aan te koop, finansiering en versekering te kry, en bedrywighede digitaal te bestuur. Dit verlaag transaksiekoste en verhoog marktoegang.
-
- Groen en organiese markte: Volhoubare, organiese en herstellende landbou skep toegang tot premie-markte waar verbruikers bereid is om ekstra te betaal vir “skoon” en klimaatvriendelike produkte. Sertifisering en goeie handelsmerke speel hier ’n groot rol.
-
- Koolstofkrediete en bewaringspraktyke bied die vooruitsig dat boere in die toekoms vir hul rol in koolstofvaslegging vergoed kan word.
-
- Nuwe gewasse en produkte byvoorbeeld macadamias, bessies, avokado’s, industriële hemp, en medisinale kannabis verseker dat die produkmandjie uitbrei en stel boere bloot aan nuwe waardekettings.
-
- Waardetoevoeging en agro-verwerking – byvoorbeeld om rou produkte plaaslik te verwerk in souse, olies of afgewerkte kos – help om plaasinkomste en werkskepping te verhoog.
-
- Agri-toerisme (wynproe, plaaservarings, wildsritte, boer-tot-bord-etes) bied nuwe inkomste-bronne en direkte kontak met verbruikers.
- Agri-toerisme (wynproe, plaaservarings, wildsritte, boer-tot-bord-etes) bied nuwe inkomste-bronne en direkte kontak met verbruikers.
Infrastruktuur en logistiek
Sonder goeie hawens, paaie, spoorweë, krag en water kan boere nie hul volle potensiaal bereik nie. Ná ’n paar moeilike jare is daar tekens dat die draai begin kom:
-
- Hawens en vervoer: Gesamentlike pogings tussen staat en privaatsektor lei tot beter bestuur van logistieke sentrum, meer personeel in piekseisoene en modernisering van toerusting. Planne vir ‘n groter inset van die private rol in die hawebedryf en spoorherstel begin vorm aanneem.
-
- Energie: Beurtkrag-druk bly groot, maar stabilisering by kragstasies en die vinnige implementering van sonkrag op plase verbeter die situasie.
-
- Waterinfrastruktuur: Belegging in die herstel en opgradering van besproeiingskemas, uitbreiding van damme en beter bestuur via watergebruikersverenigings help om water meer doelmatig te gebruik.
“Die agterstand is groot en gaan nie oornag verdwyn nie, maar boere behoort in 2026 meer van die voordele van hierdie verbeterings te begin voel,” skryf Johnston.
Die breër plaaslike ekonomie
Standard Bank het neigings geïdentifiseer wat die breër Suid-Afrikaanse ekonomie voordelig kan beïnvloed en in ag geneem moet word in finansiële beplanning.
- Groeimomentum word behou: Die grondslag vir hierdie versnelling in Suid-Afrika se ekonomiese uitbreiding, soos deur die Reserwebank voorspel, word al hoe duideliker: meer betroubare elektrisiteitsbeskikbaarheid en verbeterde logistieke infrastruktuur stel ondernemings in staat om produksie met groter vertroue uit te brei. Markte wat krities is vir Suid-Afrika se uitvoere, soos China en die VSA, toon ook groei.
- ’n Nuwe inflasie-anker: Suid-Afrika het ’n nuwe hoofstuk in monetêre beleid betree. In die Mediumtermynbegrotingsbeleidsverklaring het die minister van finansies, Enoch Godongwana, ’n inflasieteiken van 3% gestel, wat in noue samewerking met die Reserwebank en die Nasionale Tesourie ontwikkel is. Dit is meer as bloot ’n verandering aan ’n opskrifsyfer.
- Geldeenheidsterkte hou vol: Die rand se veerkragtigheid was een van 2025 se noemenswaardige ontwikkelinge, met die geldeenheid wat sedert Januarie 2025 met 8% teenoor die dollar versterk het. Hierdie waardestygings het tasbare voordele meegebring deur die koste van ingevoerde goedere te verlaag.
- Aandelemarkte lewer sterk prestasie: Suid-Afrikaanse aandele het ’n uitsonderlike tyd beleef, met die JSE Algehele Indeks wat van Januarie tot November met 35% gestyg het. Mynmaatskappye het die meeste van die werk gedoen, aangehelp deur goud wat bo $4 000 per ons gestyg het namate beleggers veiligheid in ’n onstuimige wêreld gesoek het.
As ‘n mens na al die kenners en ekonome luister, voel dit amper veilig om ‘n mate van optimisme oor 2026 se ekonomiese vooruitsigte te voel. Dit skets ‘n gemengde prentjie van stadige groei en positiewe verwikkelinge wat die sektor kan bevoordeel. Verandering gaan egter nie oornag gebeur nie en plaaslike én wêreldmarkte moet deurlopend dopgehou word vir gebeure wat die trajek moontlik kan beïnvloed.
*Hierdie artikel is saamgestel uit die jongste nuus teen publikasietyd en met die hulp van die volgende bronne:








