Wetgewing en perspektiewe oor uitheemse plantspesies

Dr. Hugo Bezuidenhout, ekoloog, deel meer oor die wetgewing en implikasies daarvan op die produsent asook ʼn ander perspektief oor uitheemse plantspesies.
In ʼn artikel in Maart 2025 se Kommuniek het ek kortliks afgesluit met wetgewing. Ek dink dat dit egter die moeite werd sal wees om die implikasie van die wetgewing en verantwoordelikhede vir die produsent te bespreek.
In die voorgrond is die grys struike Prosopis velutina (Fluweelboontjie) (kategorie 3), wat ʼn aggressiewe uitheemse indringerplantspesie is wat veld kan oorneem. Agter is die bekende boom Eucalyptus camaldulensis (Rooibloekomboom) (kategorie 1b) wat aangeplant is vir hout, maar naby dreineringsbane of riviere inheemse plantegroei verdring.
Die minister van omgewing, bosbou en visserye (DEA) het op 18 September 2020 in die staatskoerant ʼn opgedateerde wetgewing “National Environment Management: Biodiversity Act, 2004 (Act no 10 of 2004) (NEM:BA); Alien and Invasive Species List, 2020” geproklameer. In hierdie artikel gaan ek die belangrikste hiervan uit wys. Die wetgewing sluit nie net plantspesies in nie, maar ook ander spesies soos byvoorbeeld diere (wat voëls insluit), reptiele, visse en insekte. Ons fokus hier is egter op die plantspesies.
Plantspesies word in vier kategorieë gedeel word:
Kategorie 1a: Ons is verplig om die plantspesies te beheer. Dit moet uitgehaal en vernietig word. Enige kategorie 1a-plantspesies moet volgens wetgewing verwyder word uit die omgewing (Tabel 1). Die plantspesies is bekend daarvoor om in te dring en dan te verdig, soos duidelik in Figure 1 en 2 gesien kan word.

Figuur 1: Cylindropuntia fulgida (Langdoring) (kategorie 1a) – ʼn baie gevaarlike uitheemse indringerplantspesie wat uit ʼn tuin ontsnap het (Foto: Megan McCarthy).

Figuur 2: Opuntia articulata (Litjieskaktus) (kategorie 1a) – ʼn baie gevaarlike uitheemse indringerplantspesie. Die lyndraad-effek is sigbaar, met die padskouer links en die veld wat met skape bewei word regs.
Kategorie 1b: Die plantspesies in dié kategorie moet beheer word as deel van ʼn uitheemse, indringerplantspesies “Werk vir Water”-projek (Tabel 1). Dit moet uitgehaal en vernietig word. Die plantspesies is bekend daarvoor om in te dring en dan te verdig, soos duidelik in Figuur 3 gesien kan word.

Figuur 3: Opuntia ficus-indica (Turksvy) (kategorie 1b). Indringing en verdigting in die hoogs-bedreigde Albanie-ruigtebos naby Addo Olifant Nasionale Park. (Foto: Dr. Charlene Bissett).
Kategorie 2: Uitheemse plantspesies per area word in hierdie kategorie aangespreek. ʼn Afbakeningspermit is nodig vir beperkte aktiwiteite, soos om plantspesies die land in te bring, dit te groei en kweek, vervoer, koop of verkoop, of as ʼn geskenk te ontvang. Geen permitte sal uitgereik word as die plantspesies met plantegroei van riviere of dreineringsbane geassosieer gaan word nie (Tabel 1).
Kategorie 3: Dié kategorie spreek uitheemse, indringerplantspesies aan wat gereguleer word deur ʼn aktiwiteit, soos om ʼn individuele plantspesie in die land in te bring, dit te groei en kweek, vervoer, koop of verkoop, of as ʼn geskenk te ontvang. Geen permitte sal uitgereik word indien die individuele plantspesie naby of in die plantegroei van riviere of dreineringsbane geplant gaan word nie (Tabel 1).

Figuur 4: Die Prosopis glandulosa (Suidwesdoring) (kategorie 3). Bo is ʼn voorbeeld van ʼn jong boompie en onder die blare en voedsame peule.
Tabel 1: Die Noord-Kaap en westelike Vrystaat se belangrikste uitheemse indringerplantspesies met bykomende inligting (*Le Maitre & Forsyth 2010).
Die lys van die belangrikste, gevaarlikste, uitheemse indringerplantspesies vir die Noord-Kaap en westelike Vrystaat is ná ʼn werkswinkel met verskeie belanghebbendes opgestel (Le Maitre, & Forsyth 2010) (Tabel 1). Van die redes hoekom daar besluit is op die spesifieke plantspesies, is dat dit ʼn bedreiging inhou vir die natuurlike plantegroei en biodiversiteit van die omgewing. Die meeste van die plantspesies is met goeie bedoelings die land ingebring, maar ongelukkig het die plantspesies uit hulle omgewing (meestal tuine) “ontsnap”. Van die plantspesies is egter hier gevestig vroeër in die eeu en geplant naby woonhuise op plase. Dit is vir ʼn verskeidenheid gebruike op die plaas aangewend, soos byvoorbeeld vir hout om strukture te bou, asook vir vuur maak in die koue winters. Die aanplantings is egter nie goed bestuur nadat dit vervang is met ander, moderne, goedkoper en sterker materiaal nie.
Die plantspesies in Figure 1 en 2, is kategorie 1a-plantspesies; die plantspesies is baie goeie kompeteerders en kan vinnig oop spasies indring en dan verder verdig. Dit word deur verskeie diere versprei, of deur smaaklike vrugte, of deurdat dit vasklou aan die vel/wol van die diere. Om die plantspesies te verwyder en vernietig, is baie duur en ʼn moeilike prosedure. Indien ʼn mens aan die plantspesies raak, breek dit baie maklik af en waar die stukke val, groei dit maklik. Verskeie metodes is al probeer, soos byvoorbeeld meganiese vernietiging, biologiese beheer en chemiese behandeling. Laasgenoemde, soos lesers al weet, moet deeglik en met toesig plaasvind en goed deurdink word.
Min mense dink egter daaraan om die groot oop spasies in die veld eerder te bestuur en seker te maak dat natuurlike plantegroei dit bedek. As jy biologiese behandeling verkies, moet jy bereid wees om die proses tyd te gee, en moet jy ook seker maak dat jy nie oop spasies skep waarin die plante weer kan vestig nie. Met ander woorde moet die veld dus toegelaat word om te rus. Meganiese vernietiging is dalk duurder en tydrowend, maar as ʼn mens dit op die regte manier doen, kan jy tyd en geld bespaar. Ek glo dat dit op die lang termyn beter resultate sal lewer. Terwyl jy dit meganies bewerk, kan jy dit dalk sterk oorweeg om die omliggende smaaklike grassade te oes en dit dan te plant in die bewerkte dele.
Plantspesies in kategorie 1b is makliker bestuurbaar. In Figuur 3 kan mens sien hoe Opuntia ficus-indica (turksvy) die baie digte ruigtebos indring en verdig; hierdie spesifieke plantgemeenskap is tans onder bedreiging van landbou en mynbou in die Oos-Kaap. Ons almal weet hoe lekker ʼn koue turksvy is – as jy tussen Kimberley en Bloemfontein ry, sien jy verskeie aanplantings. Dié aanplantings word bestuur en versorg: ek het nog nooit enige “ontsnapte” gewone turksvye in die omliggende veld gesien nie. Baie van die ander kategorie 1b-plantspesies is bome, wat individueel uitgehaal kan word en vir hout verkoop word, of vir eie gebruik. Dieselfde geld ook die kategorie 2-plantspesies in GWK se omgewing (Tabel 1).
Die bekendste kategorie 3-plantspesie is Prosopis glandulosa (Suidwesdoring), wat om verskeie redes in die semi-ariede dele van die Noord-Kaap ingebring is. Ongelukkig, weens onverskillige bestuur, het die plante baie natuurlike habitatte oorgeneem en tot so ʼn mate verdig dat baie van die Noord-Kaapse vloedvlaktes, dreineringsbane en riviere deur die Suidwesdoring (ook Muskietboom genoem) nou oorgeneem is en ons inheemse bome, soos byvoorbeeld beskermde Kameeldoringboom (Vachellia erioloba) en Soetdoringboom (Vachellia karroo), verdring. Behalwe bogenoemde indringing is die boom ook bekend daarvoor dat dit baie van die skaars reënwater opneem (tot soveel as 50% van die reënval) en ook die grondwater opgebruik (Le Maitre, & Forsyth 2010). Dit het negatiewe gevolge vir die natuur se biodiversiteit en weidingskapasiteit. Studies van die ondergrondse water in SA wys dat dig-begroeide Prosopis-spesiepopulasies grondwaterbronne tot ses keer vinniger uitput as die natuurlike inheemse geassosieerde bome. Dit lei daartoe dat van die riviere in die reeds droë Noord-Kaap opdroog.
Die bestuur van die bome bly egter ʼn groot probleem: dit het geen natuurlike vyande soos wat ons inheemse doringbome het nie. Behalwe om dit meganies te beheer, word chemiese behandeling of ʼn biologiese beheer-agent/brandbeheer gebruik.
*Le Maitre, D.C. & Forsyth, G.G. 2010. Prioritising quaternary catchments for invasive alien plant control within the Savanna, Nama- and Succulent Karoo Biomes of the Northern Cape Province. Report number: CSIR/NRE/ECO/ER/2010/0015/B. CSIR Natural Resources and the Environment, P.O. Box 320 Stellenbosch 7599, South Africa.