Vorentoe met vaardighede

Die landboulandskap is lewendig, die GWK-span is dinamies, en ʼn universele waarheid is dat gesonde menseverhoudings verseker dat die wiel in die regte rigting teen die regte spoed draai. By GWK is die fokus op kliënteverhoudings noemenswaardig.
Soos Neil de Klerk, GWK Streeksdirekteur, sê, “dit is ʼn opwindende en besige tyd in ons kliënte en in GWK se wêrelde. Ons fokus bly daarop gerig om produsente met gehalteprodukte en -diens te ondersteun en ons verhoudinge deurlopend te versterk.”
ʼn Veranderende en bewegende omgewing beteken ook soms verandering in die maatskappy. En, hoewel die redelike mens oor die algemeen nie ʼn groot voorliefde vir verandering het nie, is dit onvermydelik. Wanneer die dryf daaragter egter positiewe resultate in die oog het, kan ʼn mens dit met meer gemaklikheid sáám aanpak.
Kommuniek deel graag ʼn paar ‘veranderinge’ in die maatskappy oor die afgelope tydperk met ons lesers:
In Maart en Mei 2025 het GWK afskeid geneem van twee steunpilare van dié besigheid, Llewellyn Brooks (voormalige Besturende Direkteur van GWK en meer onlangs Besturende Direkteur van Ventures in die VKB Groep) en Tom Meintjes, Besturende Direkteur van GWK Trading.
Daarna is spesifieke skuiwe in rapporteringslyne op die VKB Groep se uitvoerende bestuursvlak gemaak en die verantwoordelikhede vir portefeuljes aangepas om fokus op elkeen daarvan te behou, soos uitgelig in ʼn skrywe van PG Strauss, die VKB Groep se Besturende Direkteur in onlangse kommunikasie aan kliënte in die GWK-streek.
As deel hiervan het Francois Froneman, Besturende Direkteur van VKB Graan en voorheen VKB Korporatiewe Dienste, saam met sy graanportefeulje vir die Groep en al sy streke (GWK, VKB en NTK) ook verantwoordelikheid vir GWK Trading namens die Groep aanvaar.
Froneman was tot April 2025 ook verantwoordelik vir VKB se Korporatiewe Dienste-funksie, wat al die ondersteuningsdienste soos Inligting en Tegnologie, Mensekapitaal, Landboukundige Dienste, ensovoorts insluit. Om nou vir hom kapasiteit vir die bykomende verantwoordelikheid te skep, gaan ʼn nuwe Besturende Direkteur vir VKB Korporatiewe Dienste aangestel word sodat hy sy fokus op die Graan- en Trading-portefeuljes kan rig. Strauss lig in sy skrywe aan kliënte uit dat die kaliber leiers in die Groep het die proses vergemaklik het om hoëvlak skuiwe soos hierdie doeltreffend deur te voer.
GWK Trading bly deel van GWK as maatskappy en sluit GWK Grondbone, GWK Aartappels, GWK Wyn (Landzicht), GWK Internasionaal, GWK Lusern en GWK Logistiek (FloTank) in.
Die GWK-span is bevoorreg om deurentyd nuwe spanlede aan boord te kry – sommige kliënt-gerig en sommige in die agtergrond. Mense met unieke vaardighede wat elkeen op verskeie vlakke bydra tot die groter doelwit. GWK het die afgelope tyd wonderlike nuwe talent bygekry en hoewel Kommuniek net ʼn paar van hierdie spanlede uitlig in hierdie uitgawe – verwelkom die GWK-span elkeen met dieselfde oorgawe.
Welbekend in GWK-kringe is Franco Geldenhuys. Hy het vir ʼn wyle sy vlerke buite die maatskappy gesprei, maar GWK Internasionaal is opgewonde dat hy weer sedert 1 April 2025 by die afdeling aangesluit het. Geldenhuys sal omsien na die internasionale bemarking van grondbone, in- en uitvoere, asook wisselkoersverskansing vir internasionale verhandeling. Sy kollega, Johan Taljaard, wat uit Somerset-Wes diens doen vir GWK, is weer op sy beurt bevorder en sien om na internasionale kommoditeitsbemarking, spesifiek vir in- en uitvoere, met ʼn fokus op pekanneutbemarking.
GWK Pecans het in Mei 2025 ʼn nuwe Besturende Direkteur, Wessel Cloete, by dié maatskappy verwelkom. Cloete, oorspronklik van Cradock in die Oos-Kaap, is gebore en getoë in die landbou-omgewing. Hy het sy studies aan die Universiteit van Noordwes voltooi en dien reeds sedert 2011 in bestuursposisies by verskeie maatskappy, mees onlangs as kommersiële bestuurder van NexusAG se plantvoedingsaanleg. Hy is in Kimberley gestasioneer vir sy rol by GWK Pecans. Sy aanstelling volg kort op die hakke van die aankondiging aan GWK Pecans se aandeelhouers oor die aanpassing aan die raad van direkteure van dié maatskappy.
Koos Janse van Rensburg (voormalige Besturende Direkteur van die VKB Groep) neem voortaan die stoel as onafhanklike Nie-Uitvoerende Direkteur en Voorsitter vir GWK Pecans in, met Wim van Rooyen (voormalige Voorsitter) wat vir ʼn oorgangstydperk as ʼn tegniese adviseur vir die direksie sal dien, terwyl John McIntosh (lid van die VKB/GWK-integrasiekomitee) ook as nuwe onafhanklike Nie-Uitvoerende Direkteur aansluit. Cloete sal ook as ʼn Uitvoerende Direkteur op die direksie van GWK Pecans dien. Die huidige direkteure, Frans van Niekerk, Lourens Maass en Jill Whyte, sal op die direksie aanbly. Die samestelling van GWK Pecans se direksie sal tydens die maatskappy se algemene jaarvergadering op 16 Oktober 2025, weer oorweeg word.
By GWK Handel is daar lekker dinge aan die gang, met verskeie handelswinkels wat tans ʼn nuwe voorkoms kry en Griekwastad se rybaan wat in die ry staan later vanjaar vir ʼn opgradering. Die winkel in Kimberley het verlede jaar ʼn gedaanteverwisseling ondergaan met die binnenshuise opgradering, terwyl Douglas se winkel ten tyde van die publikasie van dié artikel in proses was met dieselfde binne-baadjie-verandering. Op Barkly-Wes is ʼn volskaalse opgradering aan die gang, met daardie winkel se buite-aansig én die binnekant wat oorgedoen word oor ʼn beplande periode van vyf maande.
Ten opsigte van personeel in die kleinhandelomgewing het Derik Wolmarans as die nuwe Besturende Direkteur by die Fuels-span aangesluit, wat nou omsien na die hele VKB Groep se brandstofdepots, diensstasies en rybane.
Christoff Smit, Uitvoerende Hoof van Handel in die GWK Streek, sê Wolmarans het omvattende kennis van die brandstofbedryf en is positief dat hy baie waarde in tot die besigheid gaan voeg en help om die besigheid meer kompeterend in dié veld te maak. Smit en Wolmarans het gedurende April 2025 reeds verskeie takke in die GWK-streek besoek.
Smit vertel ook meer oor Gert van der Werff wat as Besproeiingsbestuurder vir die VKB Groep aangestel is. Van der Werff neem ook verantwoordelikheid vir die GWK-streek se besproeiing. “Gert was jare Valley se nasionale bemarkingsbestuurder. Besproeiing is ʼn kardinale deel van ons besigheid en hy is die regte man op die regte plek,” sê Smit. “Ons is bly oor sy aanstelling en weet hy gaan baie waarde toevoeg in ons streke.”
Kyk gerus uit vir die volgende uitgawes van Kommuniek waar ons in elke uitgawe ʼn kollig plaas op mense uit GWK-geledere.