Vesel as energiebron in herkouer-rantsoene

Vesel is ʼn komponent van plante wat weerstandbiedend is teen vertering deur normale verteringsensieme in enkelmaagdiere soos varke, hoenders en perde. Herkouers het egter die unieke vermoë om energie vrygestel te kry uit ʼn deel van die veselstruktuur deur middel van ʼn fermentasieproses in die rumen.
Die rumen is die grootste van die vier mae in herkouers en is verantwoordelik vir die fermentasie van die rantsoen. Die teenwoordigheid van die rumen is wat herkouers dan onderskei van enkelmaagdiere. Fermentasie en afbreek van vesel word bewerkstellig deur die werking van mikrobe-aktiwiteit wat vlugtige vetsure (VVS) produseer, wat dan as energie deur die dier gebruik kan word. Tot 70% van diere se energiebehoeftes kan deur VVS vanaf vesel voorsien word en dit bevestig net die belangrikheid van goeie kwaliteit vesel in die rantsoen.
Vesel word stadig verteer in die rumen (groot maag) as gevolg van die fisieke struktuur en die lignien-kruisbinding wat die veselstruktuur in die plant bind.
Veselvertering in die rumen word beïnvloed deur ʼn paar faktore:
- Rumen-mikrobepopulasie wat bepaal word deur die dieet van die dier, asook die omgewing soos temperatuur, humiditeit en grondtipe.
- Anatomie van die veselplant (pektien-, hemisellulose-, sellulose-konsentrasies) wat deur die spesie en ouderdom bepaal word.
- Partikelgrootte van die vesel wat aan die dier gevoer word, wat bepaal word deur die maalproses en die herkou-aksie van die dier.
- Lignien-inhoud en -struktuur van die plant (volwassenheid, spesie, spanning), en ouderdom tydens sny speel ʼn belangrike rol hier.
Die ADF- (acid detergent fibre) en NDF (neutral detergent fibre)-waardes is ʼn groot bepalende faktor in die tempo en vlak van verteerbaarheid van vesel. Lae waardes verhoog die verteerbaarheid en gevolglik die hoeveelheid energie (VVS) wat uit die vesel vrygestel en deur die dier benut word. Laer ADF- en NDF-waardes is dus die primêre drywer van veselkwaliteit as ʼn voedingsbron vir herkouers. Die beste waardes word verkry deur hooi te sny op ʼn jong stadium (voordat die plant volwasse word en verhard), die korrekte bemestingplan, voldoende vog, asook optimale klimaatstoestande.
Veselbronne wat in herkouerrantsoen gebruik word, is onder meer lusern, gras (soos tef en eragrostis), hawer, en strooi vanaf koring- en mieliereste. Hier moet ook onderskeid getref word tussen hooi en strooi. Hooi word gemaak van hoë kwaliteit gewasse wat vroeg in die groeistadium gesny en gebaal word.
Die ADF en NDF waardes is laag en verteerbaarheid is hoog. Strooi word gewoonlik gemaak van plante wat volwassenheid bereik het en dan gebaal word soos koringstrooi, mieliereste en gras wat reeds saad geskiet het. Hier sal die ADF- en NDF-waardes hoog wees en verteerbaarheid dus laag. Strooi word hoofsaaklik as ʼn vuller in rantsoene gebruik en dra nie noemenswaardige voedingstowwe by nie. Dit dien wel as ʼn rumenstabiliseerder teen suurpens. Hooi is gewoonlik ook groen van kleur, waar strooi bruin of vaal is.
Lusernhooi is die beste kwaliteit veselbron vanweë sy lae ADF- en NDF-waardes en hoë proteïeninhoud. Prima-kwaliteit lusern word meestal in suiwelrantsoene gebruik, waar dit ʼn betekenisvolle impak op melkproduksie uitoefen.
Bees- en skaaprantsoene kan meer gebruik maak van laer kwaliteit lusern soos graad 2 en 3. Dragtige koeie, vervangingsverse en kalwers kan lusern gevoer word, maar daar moet gewaak word teen sekere metaboliese steurnisse wat kan ontstaan as gevolg van ʼn te hoë kwaliteit lusern. Skaaprantsoene word vervaardig met lusern wat in ʼn volvoer-rantsoen verpil word. Prima-graad lusern is geneig om suurpens by skape te veroorsaak en graad 1 en 2 lusern kan met sukses gebruik word. Skaaprantsoene het heelwat hoër lusern-insluitingsvlakke as bees- en suiwelrantsoen.
Grashooi soos tef en eragrostis word met sukses in bees-voerkraalrantsoen gebruik, veral omdat dit ʼn goeie bufferaksie teen suurpens bied by diere wat op ʼn hoë konsentraat graanrantsoene gevoer word. Die gras moet egter op ʼn fisiologies jong ouderdom gesny word voor dit saad skiet.
Koringstrooi en mieliereste word as ʼn vuller gebruik in rantsoen vanweë die lae verteerbaarheid en hoë ADF- en NDF-waardes en dit bied goeie voorkoming teen suurpens en kan rantsoenkostes verlaag. Dit verleng ook die herkou-aksie van die dier, wat weer speekselafskeiding stimuleer wat die rumen buffer teen suurpens. Diere sal langer tye herkou op laer verteerbare rantsoene.
Verskillende veselbronne kan dus elk ʼn unieke rol speel in herkouerrantsoene en kan dien as ʼn belangrike bron van goedkoper energie in hoog-produserende diere in ʼn tyd waar graanpryse hoog is. Die deeglikheid van die hooimaakproses kan egter nie genoeg beklemtoon word nie.
Deur die hooi op die korrekte tyd te sny, gebruik te maak van doeltreffende toerusting, vog tydens die baalproses te bestuur, asook die eliminasie van ongewenste plante, kan ʼn groot bydrae lewer om te verseker dat ʼn goeie kwaliteit hooi teen die laagste koste voorsien word, wat die produksie van melk en vleis ekonomies vatbaar kan maak.
Dit is algemeen aanvaarbaar dat diere nie kleur kan sien nie, maar ʼn vars groen hooibaal bly darem ʼn mooi gesig, al is dit dan net vir die boer.
Navrae kan gerig word aan: