Ekonomiese vooruitsigte vir 2025

Vanaf 2010 het landboumarkte ʼn redelike stabiele tydperk ervaar, met geen erge bokspringe in pryse of insette nie. Met ander woorde, daar was geen reuse-markskokke nie. Sedert die Covid 19-pandemie is die waters egter nie meer so kalm nie. Rusland het vir Oekraïne ingeval, inflasie het weggehol in meeste ekonomieë, regeringsveranderinge het in baie demokrasieë plaasgevind, konflik in die Midde-Ooste toegeneem, China se ekonomie begin krake wys en internasionale samewerking is besig om te kwyn. Die vraag is: hoe lyk die nabye toekoms vir GWK-produsente?
Volgens Theo Boshoff van Agbiz (Boshoff, 2024) sien dié organisasie geopolitieke onstabiliteit en ʼn toename in internasionale handelsbeperkinge as die grootste gevare vir die Suid-Afrikaanse landbou-ekonomie.
Donald Trump se verkiesing as president van die VSA verhoog al klaar die risiko hiervan en hy het al gedreig met verhoogde invoertariewe vir alle lande wat produkte na die VSA invoer. Sy beleid tydens sy verkiesingsveldtog was om werksgeleenthede in die VSA te beskerm en te groei deur tariewe en beperkinge op ander lande te plaas, veral China. Vir ons as Suid-Afrikaanse landbouers lei dit tot meer internasionale pryswisselvalligheid. Insette kan duurder neig weens ʼn sterker dollar en swakker rand, byvoorbeeld waardevermindering van die rand sal lei tot hoër olie- en kunsmispryse, maar kan weer ondersteuning aan graanpryse bied.
Klimaat en ekstreme weersomstandighede is iets waarmee enige landbouer bekend is, van binnelandse boere wat erge droogte ervaar het tot Natalse en Wes-Kaapse boere wat swaar getref is deur verspoelings.
Volgens NASA (NASA, 2024) was 2024 die warmste jaar op rekord, met globale temperature wat 1,28 grade Celsius bo hulle basis is.
Dit is onwaarskynlik dat dié tipe klimaatsgebeure sal verdwyn en landbouers moet slim werk om hulle boerdery en infrastruktuur meer weerstandig daarteen te probeer bou. Klimaatsveranderinge beteken nie noodwendig dat die hoeveelheid reënval in ʼn streek noemenswaardig gaan verander nie, maar die verspreiding van die reën verander.
Daar is darem positiewe vooruitsigte vir 2025 ook. Suid-Afrikaners het nog nie weer beurtkrag gehad sedert 27 Maart 2024 nie; dit is tweeledig:
- Besighede en huishoudings wek self energie op, wat lading op die stelsel verlig; en
- Eskom se kragsentrale presteer beter. Die volhoubare elektrisiteit-aanbod lei tot goedkoper kragkostes vir besigheid en sodoende ook beter ekonomiese groei.
Die Regering van Nasionale Eenheid dryf ook sterk optimisme en die wiel is aan die rol met hervorming en herbou aan die skade wat tydens die staatskaping berokken is. Die verwagting is dat daar dié jaar sterk binnelandse groei sal wees as die regering hou. Sterk fokus word geplaas deur die presidensie en sakelui op die opgradering en instandhouding van infrastruktuur. Dit is soos die energiesektor ʼn sleutelrolspeler wat, as dit reg werk, baie ekonomiese geleenthede kan ontsluit vir die ekonomie (Papendorp, 2024).
ʼn Nuwe jaar bring nuwe risiko’s, maar bied ook nuwe geleenthede. Vir Suid-Afrikaanse landbouers is daar baie positiewe faktore en die hoop is dat 2025 ʼn minder uitdagende jaar sal wees as 2024.
Navrae kan gerig word aan: