Vandag se sportsterre, môre se leiers
Die Absa Wildeklawer-toernooi is die grootste skolesporttoernooi in Suid-Afrika en bied ʼn geleentheid vir sportontwikkeling en gesonde, kompeterende sport waar kragte tussen skole gemeet word.
Vir die afgelope 14 jaar belê Wildeklawer (megaboerdery in die Barkly-Wes-area) en Absa (wat vir die afgelope 5 jaar die hoofborg van die toernooi is) in skolesport en vanjaar het GWK ook hierdie inisiatief ondersteun. Die Absa Wildeklawer-skolesporttoernooi het vanjaar nuwe hoogtes bereik met 192 spanne vanuit 111 skole regoor Suid-Afrika wat deelgeneem het aan die toernooi. Die toernooi word in laerskole, ontwikkelingspanne van die Noord-Kaap, en hoërskole verdeel. Daar was 24 hoërskole wat vanjaar aan die Absa Wildeklawer-toernooi deelgeneem het, waaronder ook twee internasionale skole, St John’s College van Hamilton, Nieu-Seeland, en Kirkham Grammar van Engeland. Rugby-, netbal- en sokkerspanne in ouderdomsgroepe van o/14 tot o/19 het hulle skole op die sportveld vir die naweek verteenwoordig.
Vanjaar se Absa Wildeklawer-hoërskooltoernooi het 1 tot 4 Mei plaasgevind op die sportgronde van Sol Plaatjie Universiteit en Hoërskool Diamantveld in Kimberley. Die skole wat teen mekaar speel tydens die byeenkoms word op grond van prestasie gekies en daarom is dit die top sportskole wat aan die sporttoernooi deelneem. Vanjaar het Afrikaans Hoër Meisieskool in Pretoria (Affies) uitgetree as wenners op die netbalbaan, nadat hulle in die finale rondte teen Oranje Meisieskool van Bloemfontein 26-14 gewen het. Daar word nie algehele wenners by die rugby bepaal nie, maar Grey Kollege van Bloemfontein het tydens die toernooi bewys waarom hy die eerste plek op die vyftiental-rugbyranglys beklee en dan ook die toprugbyskool in Suid-Afrika is. Meer as 2 000 toeskouers het vanjaar die sokkereindstryd tussen Clapham High van Pretoria en Grey Kollege gekyk, waar Clapham High met die oorwinning van 2-1 gekroon is.
Baie skole sien die Absa Wildeklawer-toernooi as die grootste toernooi van die jaar en dat kinders hier kom speel om raakgesien te word vir uniespanne en sportbeurse.
Neil de Klerk, GWK Streeksdirekteur vir die VKB Groep, sê dit is altyd lekker om deel te wees van inisiatiewe wat deur Wildeklawer Boerdery gedryf word en ʼn absolute voorreg vir GWK om vanjaar deel te kon wees van hierdie uitsonderlike toernooi. “Talentontwikkeling op skoolvlak is iets wat ons na aan die hart lê en met GWK wat deel van die groter VKB Groep uitmaak, strek daardie gevoel tot al die uithoeke van die land,” sê De Klerk. “Die Absa Wildeklawer-toernooi is ʼn uitstekende voorbeeld van die positiewe impak wat sport in die lewens van jong sportmanne en -vroue kan hê, hoe gemeenskappe saamtrek en watter bydrae dit tot plaaslike ekonomieë maak. Ons wens vir Louis en Cora de Kock geluk met ʼn uitstekende inisiatief wat ewe uitstekend uitgevoer is.”
Die eienaars van Wildeklawer, Louis en Cora de Kock, verduidelik dat hulle familie graag in die jeug belê; jeugontwikkeling is baie belangrik omdat dit lei tot hoe elkeen as mens ontwikkel. Dit was dan ook die inspirasie agter die Absa Wildeklawer-skolesporttoernooi in 2009. Die idee met die toernooi is om gelyke geleenthede vir skole op alle vlakke te bied, talente te ontwikkel en ʼn nuwe geslag atlete te inspireer. Die eerste toernooi is in die Paarl gehou met slegs 14 rugbyspanne wat deelgeneem het. Die volgende jaar was dit in Pretoria gehou en dogters is ook betrek. Van daar het die toernooi uitgebrei en gegroei en is daar besluit om die toernooi jaarliks in Kimberley aan te bied, aangesien dit sentraal in die land geleë is. Vanjaar se Absa Wildeklawer-toernooi was die grootste toernooi nog in die afgelope 14 jaar wat die byeenkoms gehou word.