Ekonomie: ʼn landbou-oorsig

GWK se landbou-ekomiese afdeling hou die tendense in die onlangse geskiedenis en nabye toekoms dop sodat ons produsente ingeligte besluite kan neem.
Graannuus
Die prysbewegings in Tabel 1 het plaasgevind in die graanmarkte:

Tabel 1 (Graan, 2025 en CME Group, 2025)
Binnelandse oliesaad en graanpryse het afwaarts beweeg oor goeie reën geval het in meeste van die groot produksiegebiede en beter opbrengste nou verwag sal word. Min beweging het plaasgevind op buitelandse graan- en oliesaadmarkte, en wêreldvoorraad is steeds genoegsaam.
Wêreldnuus
Sedert Donald Trump se inhuldiging as die nuwe president van die VSA is die wêreld aan die gons en Trump maak die wêreldwaters bietjie meer onstuimig. Tariewe en dreigemente loop hand aan hand en selfs Suid-Afrika het in die spervuur beland. Die feit dat Suid-Afrika se leiers meegesnoer is met lande soos Iran en China, en Hamas ondersteun, speel definitief ʼn rol in Trump se optrede. President Trump het vir Elon Musk as die hoof van DOGE (Department of Government Efficiency) aangestel en Musk sny aan regeringsdepartemente soos ʼn gretige tuinbouer wat ʼn roosboom moet snoei. Die VSA en sy rol in die wêreldekonomie sedert die Tweede Wêreldoorlog is besig om te verander en die impak daarvan gaan wydverspreid wees.
Duitsland, die wêreld se derde grootste ekonomie en Europa se grootste ekonomie (KPMG, 2025) het verkiesing gehou en CDU (Christian Democratic Union of Germany) het die meeste stemme gekry, 29%. Wat wel ʼn vernadering is, is dat die regse party, AfD, in die ooste van die land baie goed gevaar het met 21% van die stemme. Friederich Merz van die CDU moet nou ʼn koalisieregering probeer bou met ander konserwatiewe partye. Duitsland is in ʼn moelike posisie met ontevredenheid oor asielsoekers in die land, verskillende standpunte oor Rusland, ʼn ekonomie wat nie op dreef is nie, asook die VSA wat minder steun aan Europa en NAVO wil bied. Die nuwe regerings sal hard moet werk om die ekonomie aan die gang te kry en terselfdertyd die land se verdediging op te knap en uit te brei. Op die Europese vasteland speel Duitsland die leidende rol soos in Grafika 1 getoon en as Duitsland swak vaar, het dit ʼn uitkringeffek na ander ekonomieë. (Economist, 2025)

Grafika 1 (IMF, 2025)
Die invloed van dié gebeurtenisse op landbou is dat lande soos Duitsland meer inwaarts gaan begin fokus en wêreldhandel en handelsooreenkomste onder druk kom. Die risiko vir landbou is dat insette kan duurder word en markte verlore kan gaan.
Plaaslike nuus
Die Regering van Nasionale Eenheid (RNE) kon nie oor die begroting saamstem nie, en dit is die eerste keer in Suid-Afrika se demokratiese geskiedenis dat die begrotingsrede gekanselleer is. Die minister van finansies moes op die dag aankondig dat die begrotingsrede nie aangebied sal word nie.
Die grootste twispunte was ʼn voorgestelde 2% verhoging op BTW. Verder was daar menigte verhogings in die begroting, maar geen voorgestelde besnydings nie. Die ander partye in die RNE se klagte was dat hulle insae nie gevra of oorweeg is tydens die opstel van die begroting nie, en dit is hopelik ʼn oomblik vir die ANC om te besef dat hulle nie meer ʼn meerderheid in die parlement hou nie. Koalisies en samewerking is ons voorland. Die kabinet sal nou vergader en die volgende datum wat gegee is vir die begrotingsrede, is die 12 Maart. Die uitgestelde begroting het op die oomblik geen groot impak op die ekonomie nie en die rand het ná die aankondiging van die kansellasie beter verhandel as voor die tyd.
Die tweede poging tot die begrotingsrede is gelewer op 12 Maart met die volgende belangrike veranderinge:
- BTW is verhoog met 0,5% en daar word beplan om volgende jaar nog ʼn 0,5%-styging te implementeer om te eindig op 16%
- Die inkomstebelastingkerwe is nie aangepas nie en die gevolg is dat ʼn inkomstebelastingbetaler met ʼn salaris wat vir inflasie aangepas is, nou 4% meer belasting sal betaal.
Die DA koop steeds nie in op die begroting nie, omdat hulle – soos baie belastingbetalers – voel dat ons nie ʼn inkomsteprobleem in die regering het nie, maar ʼn spanderingsprobleem. Hulle dring aan op ʼn ernstige ondersoek na vermorsing van staatsfondse en dat beleid uitgerol moet word wat pro-groei is. Die begrotingsrede is gelewer, maar dit moet nog in die parlement deurgevoer word in April, en daarvoor het die ANC ʼn meerderheidstem nodig, wat hulle nie op hulle eie het nie. Konserwatiewe partye, asook populistiese partye, is almal gekant teen die begroting en staan almal hewig ʼn BTW-verhoging tee. Die waters het nou net eers begin woelig raak in die politieke landskap. (Niekerk, 2025)
Die effek op landbou van die begroting wat nie goedgekeur is nie, is dat Transnet geen geld sou ontvang vir skuldverligting of om hulle balansstaat te stut nie. Vir ons landbou-uitvoere hou dit ʼn risiko in vir die effektiwiteit en produktiwiteit om produkte en dienste by markte uit te kry. Sosiale betalings speel ook binnelands ʼn belangrik rol, aangesien meeste Sassa-gelde vir voedsel gaan en die finansiering vir die sosiale betalings sal dopgehou moet word.
(BER, 2025)
*Bronne:
- BER. (2025). BER WEEKLY. Stellenbosch: BER.
- CME Group. (2025, 02 26). CME GROUP. Retrieved from CME GROUP: https://www.cmegroup.com/markets/agriculture/grains/corn.html
- Economist, T. (2025, 02 26). The Economist. Retrieved from The Economist: https://www.economist.com/europe/2025/02/23/merz-wins-a-messy-election-then-calls-for-independence-from-america
- Graan, G. (2025, 02 26). Kimberley.
- IMF. (2025, 02 26). IMF. Retrieved from IMF: https://www.imf.org/external/datamapper/profile
- KPMG. (2025, 02 026). KPMG. Retrieved from KPMG.COM: https://kpmg.com/de/en/home/insights/overview/economic-key-facts-germany.html