Sojabone: Proefresultate vir 2024
Sojaboonkultivar-proewe is vir die 2023/24-seisoen in die Bleskop-area naby Vanderkloof aangeplant. ʼn Tweede proef is by Magogong in Noordwes aangeplant.
Proeflokaliteite
Sien figuur 1 as ʼn illustrasie waar die sojaboon proewe vir 2024 geplant is.
Grondbewerking
Vir die Bleskop-lokaliteit is no-till (geenbewerking) toegepas in die springmieliereste.
Vir die proef by Magogong is ge-striptill in garsreste. Albei lokaliteite was ʼn sandleemgrond.
Plant- en oesdatum
Bleskop/Vanderkloof: 16 Oktober 2023 – 22 Maart 2024
Magogong: 29 November 2023 – 12 April 2024
Proefuitleg
Vir die rede dat daar met ʼn groot aantal proefinskrywings gewerk word, word slegs een baan van elke kultivar geplant. Daar word egter altyd van kontroles gebruik gemaak met die doel om regstellings te maak waar vlakker grond, hellings, ensovoorts ʼn onregverdige invloed op die prestasie van ʼn kultivar mag hê. Tabel 1 dien as ʼn voorbeeld van ʼn proefuitleg met die gebruik van kontroles. Die kontrolekultivar is dieselfde kultivar wat die produsent kommersieel op die land plant.
Personeel van GWK het die proewe aangeplant en geoes, asook die data verwerk. Personeel van die saadmaatskappye kon ook die oesdae bywoon. Die normale produksiepraktyke van die produsent is gevolg. Alle persele, insluitend kontroles, word gestroop, geweeg en na 12,5% vog verwerk. In die geval waar daar >15% verskil tussen kontroles voorkom, word die data eers met die saadmaatskappye bespreek voordat dit beskikbaar gestel word.
Kultivars getoets
Die kultivars wat die afgelope seisoen by Bleskop en Magogong getoets is, word in Tabel 2 aangedui.
Groeiklas
Navorsing dui daarop dat die beskikbare sojaboonkultivars wat groeiklas betref in 12 groeiklasse (groeiklas 1 tot groeiklas 12) geklassifiseer kan word. Volgens hierdie klassifikasie is groeiklas 1 die vinnige groeiers, terwyl groeiklas 12 die langste groeiklas is. Hierdie indeling word gedoen op grond van die dagliglengte wat ʼn spesifieke kultivar nodig het om optimaal te kan ontwikkel en produseer. Ingevolge daarvan is ʼn kultivar in klas 12 by uitstek geskik vir aanplanting in gebiede op of naby die ewenaar. In teenstelling daarmee is die vinnigste groeiklas (klas 1) geskik vir aanplanting op breedtegrade ver noord of suid van die ewenaar. In die besproeiingsgebiede van die Noord-Kaap is die vinnige groeiers (<klas 6) die gewildste.
Die groeiwyse kan as volg verduidelik word:
- Bepaalde groeiwyse: Hierdie kultivars toon geen verdere vegetatiewe groei ná blomvorming nie.
- Onbepaalde groeiwyse: By hierdie kultivars vind vegetatiewe groei nog ná blomvorming plaas en hulle is ook minder gevoelig vir vogtekorte tydens blom- en peulstadium. Swaar besproeiings gedurende die vegetatiewe groeiperiode stimuleer onnodige stam- en blaargroei en kan wel omval veroorsaak.
Agtervoegsels
R – die kultivars is verdraagsaam teen Glifosaat (Roundup PowerMax onkruiddoder). Dit is egter raadsaam om jou plaaslike agent te skakel indien jy onseker is.
GWK-landboukundiges was verantwoordelik vir die plantproses, asook om die data korrek in te samel en te verwerk.
Gebruik van data
Die werklike opbrengs van die kultivars word in ton per hektaar voorgestel. Om interpretasie te vergemaklik, word elke kultivar se prestasie ook as ʼn indeks (% van proef) aangedui. ʼn Indeks van 100 beteken dat die kultivar dieselfde as die gemiddeld van die proef presteer het. ʼn Indeks van 107 beteken dus dat die kultivar 7% beter as die proefgemiddeld presteer het. ʼn Indeks van 92 beteken weer dat die kultivar 8% swakker as die proefgemiddeld presteer het.
Bedankings
Die saadmaatskappye (Agricol, Limagrain en Pioneer) wat kultivars voorsien het. ʼn Spesiale woord van dank aan die produsent vir die hulp wat verleen is.
Vir navrae kontak Pierre Ferreira by 082 904 4769.