Seisoenale weervooruitsigte: Wat kán produsente in 2026 beheer?
Seisoenale weervoorspellings het ’n belangrike hulpmiddel in moderne landbou geword, al word dit soms met ’n mate van skeptisisme ontvang. Boere spot dikwels dat hulle eerder hul instink, hul seer knieë of die lug vertrou, as ’n reënvoorspelling. Tog speel seisoenale vooruitsigte ’n veel groter rol as net om reën te voorspel. Dit is nie bedoel om goeie boerderypraktyke te vervang nie, maar om dit te ondersteun.
In ’n tyd van toenemende klimaatwisselvalligheid help seisoenale voorspellings produsente om risiko’s beter te bestuur, insette te beplan en opbrengste te beskerm. Die waarde lê dus nie in blinde vertroue nie, maar in ingeligte voorbereiding.
’n Uitdagende begin vir die produksieseisoen
Die 2025/26-somerseisoen het met uitdagings in terme van baie reën begin, en plantdatums het in ’n groot deel van die produksiegebied later geskuif as die langtermyngemiddeld. Die grootste deel van die oes is eers laat in November geplant: die gevolg is dat baie gewasse tydens die mid-somerdroogte begin blom het. Goeie reën het middel Februarie begin, wat lei tot positiewe vooruitsigte vir die seisoen.
Landbou-ekonoom Wandile Sihlobo wys daarop dat die uitstekende reën wat met La Niña-toestande verband hou, gewasgroei en weidingsveld oor groot dele van die land ondersteun het. “Daarom glo ek dat 2026 baie beter vooruitsigte inhou vir ’n volgehoue en wye herstel vanaf die reeds verbeterde toestande van 2025. Die gunstige reën wat ons hier tuis sien, is ook ’n werklikheid in sommige buurlande en ondersteun die landbouvooruitsigte vir die streek in 2026,” sê hy.
Klimaatdrywers agter die voorspelling
Seisoenale klimaatvooruitsigte word saamgestel deur instellings soos die International Research Institute (IRI) for Climate and Society, deel van die Columbia Climate School aan die Columbia University. Hierdie voorspellings gebruik verskeie klimaatmodelle om die waarskynlike gedrag van groot klimaatstelsels te bepaal.
Huidige toestande
- In Januarie 2026 was die see-oppervlaktemperature in die Stille Oseaan steeds effens koeler as normaal, wat dui op swakker La Niña-toestande.
- Hierdie patroon is egter besig om te verswak en daar word verwag dat dit tussen Februarie en April 2026 na ENSO-neutrale toestande sal verskuif.
- Neutrale toestande kan waarskynlik tot middel-2026 voortduur.
- Later in die jaar neem die kans toe dat El Niño kan ontwikkel.
Ander klimaataanwysers bly ook relatief stabiel. Die Indiese Oseaan-dipool (IOD) is ’n klimaatverskynsel wat gekenmerk word deur skommelinge in see-oppervlaktemperature tussen die westelike en oostelike dele van die Indiese Oseaan, en dit beïnvloed weerpatrone en klimaatveranderlikheid in die omliggende streke beduidend.
Die IOD is tans neutraal, terwyl die Stille Oseaan-dipool (PDO) vroeg in 2026 ’n negatiewe waarde getoon het.
Natter toestande in groot dele van die binneland
Die afgelope maande het reeds natter toestande in baie dele van die land gebring, veral in binnelandse provinsies soos Gauteng, Limpopo en Mpumalanga. Gereelde donderstorms en bogemiddelde reënval het selfs tot plaaslike oorstromings gelei in gebiede van KwaZulu-Natal en dele van die Oos-Kaap.
Hierdie patrone stem ooreen met die laaste fase van ’n swak La Niña, wat tipies natter en effens koeler somers in die binneland van Suid-Afrika bring.

Die IRI se reënvooruitsigte vir Afrika in Maart, April en Mei, volgens verskeie internasionale klimaatmodelle. Voorstelling: IRI
Vir landbou ondersteun hierdie toestande gewoonlik gewasgroei en veldtoestande. Terselfdertyd verhoog meer reën ook die risiko van erge donderstorms, hael en plaaslike oorstromings. Provinsies soos die Vrystaat en Noordwes kan byvoorbeeld meer donderstormaktiwiteit gedurende die somerreënseisoen ervaar.
Streekverskille bly belangrik
Nie alle streke ervaar dieselfde weerpatrone nie. Die suidwestelike dele van die land, insluitend die Wes-Kaap en dele van die Noord-Kaap, het oor die algemeen warmer en droër toestande ervaar.
Seisoenale voorspellings in Mediterreense klimaatstreke soos die Wes-Kaap is gewoonlik minder betroubaar, wat beteken dat korttermyn-weervoorspellings vir produsente daar belangrik bly.
Langtermyn: Die wêreld word warmer
Selfs wanneer ’n nat somer koeler voel as gevolg van wolkbedekking en reën, bly die langtermynklimaattendens een van verwarming. Wetenskaplikes waarsku dat 2026 steeds onder die warmste jare wêreldwyd kan tel.
André Prins, Navorsingspesialis: Landboukundige Dienste, het voorheen verduidelik dat die grootste invloed van klimaat gewoonlik tydens die gewasse se blom- en graanvulstadiums is. By somergewasse is die blomstadium gewoonlik in Januarie (hoë temperature) en daarna die graanvultydperk. By die meeste gewasse skaal plantgroei af wanneer temperature bo 30°C is en plantgroei word gestaak wanneer temperature bo 35°C is (verlede jaar was daar gereeld dae bo 40°C waargeneem).

Die IRI se temperatuurvooruitsigte vir Afrika in Maart, April en Mei, volgens verskeie internasionale klimaatmodelle. Voorstelling: IRI
Bo-normale temperature word vir groot dele van Noord-Amerika, Eurasië, Afrika en Suid-Amerika voorspel – ’n aanduiding van die voortdurende invloed van globale klimaatsverandering.
Wat beteken dit vir produsente?
Vir die landbou-omgewing in Suid-Afrika lyk die vooruitsigte vir 2026 oor die algemeen gunstig, veral vir somergewasse. Tog is daar risiko’s.
Produsente moet voorberei vir:
- ’n Groter kans op bogemiddelde reënval in die meeste somerreënvalgebiede
- ’n Verhoogde risiko van donderstorms, hael en plaaslike oorstromings
- Tye van hoë humiditeit en sporadiese hittegolwe
- Voortgesette onsekerheid namate weerpatrone later in die jaar verander
Seisoenale voorspellings moet dus as ’n beplanningsinstrument gesien word en nie as presiese voorspellings nie. Dit help boere om risiko’s beter te bestuur, bestuurspraktyke aan te pas en meer buigsaam te reageer op veranderende weerstoestande.
Terwyl die wêreld aanhou warmer word, waarsku wetenskaplikes dat 2026 op koers is om een van die warmste jare te wees wat nog ooit aangeteken is.
Al klink dit dalk soos klimaatgesprekke wat net deur wetenskaplikes en aktiviste gevoer word, word die gevolge reeds hier in Suid-Afrika en regoor die Suidelike Halfrond ervaar. Daarom behoort ons, as die gemiddelde Suid-Afrikaner, aandag daaraan te gee.
En dalk die belangrikste: hou aan om die korttermyn-voorspellings dop te hou. Seisoenale vooruitsigte skep die breër prentjie, maar die dag-tot-dag weervoorspellings dien steeds as ’n hulpmiddel om risiko’s te beperk.
“Ons kan nie die weer beheer nie, maar ons kan verbeter hoe ons daarvoor voorberei.”
*Bronne:
HOW WILL THE CLIMATE CHANGE BY 2050 IN SOUTH AFRICA?
This year set to be one of hottest years on record — here’s what that means for South Africa
voxweather.co.za/article/seasonal-outlook-a-stormy-start-to-2026-with-a-sharp-east-west-contrast/
Agricultural Business Chamber of South Africa
Soil Moisture Across South Africa | Wandile Sihlobo
2026 Seasonal forecast for Africa’s farms: Rain, risks and smart farming decisions – ProAgri Media
Wetter skies to ease heat in 2026 but raise flood risk across SA’s interior provinces – DM
Wet summer ahead: prepare for hail, floods and crop risks – Food For Mzansi
2026 Seasonal forecast for Africa’s farms: Rain, risks and smart farming decisions – ProAgri Media
Climate outlook predicts wet season for most of southern Africa – CLIMATE BRIEF








