Saamgestelde rente: die 8ste wêreldwonder
Januarie kondig nie net die begin van ‘n nuwe jaar aan nie, maar ook die einde van die 2025/2026-belastingseisoen. Die belastingseisoen sluit op 28 Februarie 2026, en daarmee saam ook jou kans om die maksimum voordeel te trek uit produkte wat beduidende belastingvoordele bied.
Het jy geweet jy kan 27,5% van jou jaarlikse vergoeding of belasbare inkomste (afhangend van wat die grootste is en beperk tot ‘n maksimum van R350 000 per jaar) bydra tot ‘n uittree-annuïteit (UA) en dit van jou belasbare inkomste aftrek tydens jou belastingopgawe?
Hierdie voordeel kan ‘n wesenlike verskil maak – nie net op kort termyn nie, maar veral oor die lang termyn.
‘n Ander noemenswaardige produk is die belastingvrye belegging (BB). Hierdie belegging laat ‘n maksimum bydrae van R36 000 per finansiële jaar per individu toe. Hoewel hierdie bydraes nie aftrekbaar is vir inkomstebelasting nie, is alle groei en onttrekkings volledig belastingvry.
Wat is beter: ‘n belastingvrye belegging of ‘n uittree-annuïteit?
Daar is nie ‘n een-grootte-pas-almal-antwoord nie. Die regte keuse hang af van jou persoonlike behoeftes, doelwitte en tydhorison; maar as jou onmiddelike doelwit is om jou belasbare inkomste minder te maak sal ’n UA die beste wees. ’n BB sal meer gepas wees vir dié wat nie nou die belastingsvoordeel wil geniet nie maar eerder tydens aftrede.
‘n Uittree-annuïteit en ‘n belastingvrye belegging vorm die twee hoofpilare waarop effektiewe aftreebeplanning gebou word. Die belangrikste vraag is egter nie met hoeveel rand jy begin nie, maar wánneer jy begin.
Hoekom nou begin eerder as later?
Baie mense het nog nie die geleentheid gehad om een van die sewe wêreldwonders te sien nie, maar hier is jou kans om die agtste wêreldwonder te beleef én te benut: saamgestelde rente.
Saamgestelde rente kan vergelyk word met ‘n sneeubal wat teen ‘n berg afrol. Aanvanklik is dit klein en beweeg stadig, maar hoe langer dit rol, hoe groter en vinniger word dit. Só werk saamgestelde rente: rente op rente, en hoe langer jou geld belê bly, hoe groter is die effek.
Aangesien alle groei binne beide hierdie produkte vrygestel is van belasting, is dit noodsaaklik om so vroeg moontlik die bal aan die rol te sit.
Gebruik dus hierdie geleentheid om belastingvoordele te benut en doelgerig aan jou aftrede te bou.
Twee vlieë met een klap!
Let wel: Die bogenoemde dien nie as finansiële advies nie, vir verdere inligting, aanbevelings en advies kontak gerus vir Jonan van den Bergh (Finansiële Adviseur) by 078 143 4004 of jonanvdb@gwk.co.za.








