Ekonomie: ʼn landbou-oorsig
GWK se landbou-ekonomiese afdeling hou die tendense in die onlangse geskiedenis en nabye toekoms dop sodat ons produsente ingeligte besluite kan neem.
Graannuus
Die prysbewegings in Figuur 1 het plaasgevind in die graanmarkte.

Figuur 1: Binnelandse oliesaad- en graanpryse het opwaarts beweeg omdat boere regoor die land stroop-uitdagings ervaar. Min beweging het plaasgevind op buitelandse graan- en oliesaadmarkte en wêreldvoorraad is steeds genoegsaam.
Wêreldnuus
Die ekonomiese insig gaan Trump-vry wees: mnr. Donald J Trump kry genoeg lugtyd en sy besluite en toekomstige besluite word gereeld geanaliseer.
Die wêreldvoorraadvlakke in terme van die mielie-oes word geskat om met 1% te verhoog van laas jaar af. Die positiewe nuus vir boere is dat die verwagting op die kort termyn is dat pryse net sywaarts sal beweeg. Die wêreld-koringoes se verwagting is ook 1% teenoor laas seisoen. Vir verbruikers is dit positiewe nuus, maar Suid-Afrikaanse graanprodusente moenie groot prysspronge verwag tensy daar groot markskokke gebeur nie, dus is dit van groot belang om insette noukeurig te bestuur en aan te koop.
China se ekonomie het in kwartaal 2 gegroei met 2% jaar-op-jaar; dié land se ekonomie is belangrik aangesien hulle baie kommoditeite aankoop en een van die mees digbevolkte lande ter wêreld is.
Oliepryse het bedaar ná groot spronge in prys toe Israel lug- en missielaanvalle op Iran geloods het en daar kommer was oor die beleg van die Seestraat van Hormuz, waardeur 25% van die wêreld se olie vervoer word. Figuur 2 wys die skielike bokspring en herstel in die prys van brent ru-olie oor die laaste tydperk. Die OPUL+ lande beoog ook om produksie te verhoog, wat pryse nog laer kan laat neig.

Figuur 2 (Investor, 2025)
Plaaslike nuus
Stropery is vertraag met omtrent ʼn maand in die somerreënvalgebiede as gevolg van laat reën. Dit is nie ʼn groot bron van kommer nie, aangesien die verwagte oes steeds bo ons nasionale verbuik van 12 miljoen ton is. (Sihlobo, 2025)
Op 23 Julie het die JSE Alle Aandele Indeks deur die 100 000 indekspunte-platform gebreek vir die eerste keer in die geskiedenis. Die JSE Alle Aandele Indeks is gebaseer op die waarde van die beurs in 1960; die basisindeks was toe 100. Dus is die indeks ʼn 1 000 keer hoër as die beginwaarde – ʼn jaarlikse groei van 11% oor 65 jaar.
Indien jy in 1960 R100 in die JSE gesit het, sou die waarde van jou R100 nou R88 306,99 wees. As dit net met inflasie bygehou het, sou dit nou R12 349,47 wees: dit is ʼn verskil van R75 957,22. Selfs as jy dit in dollars sou omskakel, sou dit vandag R27 771,58 wees. Dit is ʼn verskil van R60 535,11 op R100 in die JSE Alle Aandele indeks. Dié groei is geillustreer in Grafiek 1. (WorldData, 2025)

Grafiek 1








