Reset in stilte met eenvoud en grense

Ons weet die wêreld het vinnig verander en baie van ons het die afgelope jare in ʼn onophoudelike stroom van verandering, spanning en onsekerheid gelewe. Met elke uitdaging en struikelblok voel dit asof ons dalk meer verstrengel word in die dinge wat ons nie kan beheer nie. Wat as ons die kans kry om onsself weer te hernu, sonder om die ctrl+alt+delete knoppie te druk? Wat as ons die vrymoedigheid het om alles wat nie regtig saak maak, agter te laat en weer in aanraking te kom met die dinge wat werklik dieper betekenis vir ons gee?
In die moderne wêreld word stilte dikwels gesien as ʼn luuksheid wat min mense kan bekostig. Die daaglikse geraas, werk, sosiale media, die nuus en familieverwagtinge kan die siel oorweldig, maar die waarheid is dít: dit is juis in die stilte waar die meeste hernuwing en selfondersoek plaasvind.
Om werklik te kan herstel, is dit belangrik om nie net die fisieke stilte aan te gryp nie, maar ook die innerlike stilte. Dit is nie net van ‘kom ons sluit die oë en voilà’ daar is stilte nie. Néé, ons as mense is só aan mekaar geslaan dat ons elke dag ʼn (bewustelike) keuse moet maak en dié gedagtes ʼn bietjie ruimte moet gee om eenvoud toe te pas.
Eenvoudige aktiwiteite, soos om ʼn dag buite te spandeer of om eerlik teenoor ander te wees, kan die grootste genesing bring en deur hierdie klein maar betekenisvolle oomblikke weer te herwaardeer, kan ʼn mens die daaglikse gejaag en moegheid vervang met ʼn diep gevoel van vervulling en vrede. Ons lewe wel in ʼn samelewing wat voorskriftelik is, ongeag of ons daarna luister of nie, en die belangrikheid van die norm het verander. Die nuutste tegnologie, die beste posisie of selfs die perfekte prentjie kry voorkeur, maar die ware rustigheid lê in die eenvoud van die alledaagse dinge wat ongemerk verby gaan. Dit is nie die groot gebare of die eindelose besit wat werklik vervulling bring nie, maar eerder die waarde wat geplaas word in die klein oomblikke, die gevoel van ʼn koppie tee in die oggend, die stilte van die natuur, of die teenwoordigheid van geliefdes.
Een van die mees effektiewe maniere om werklik te reset, is om ʼn roetine te vestig wat nie net gefokus is op werk of verantwoordelikhede nie, maar ook op herstel en selfversorging. Die sleutel is nie net om meer te probeer doen nie, maar om roetines te skep wat nie die druk van die samelewing weerspieël nie, maar eerder die behoeftes van die persoon self.
Een voorbeeld van ʼn roetine kan wees om die dag te begin met ʼn paar minute van meditasie of om ʼn aktiwiteit wat vreugde bring in die roetine in te bou, of dit nou lees, skryf of oefen is. Dit is nie net die doen wat saak maak nie, maar die keuse om ʼn roetine te bou wat die geestelike, emosionele en fisieke welstand balanseer.
Grense word dikwels gesien as iets wat ʼn mens van ander afsonder, maar die waarheid is dat grense gesondheid en balans bevorder. Die vermoë om nee te sê, is nie net vir die besit van tyd of energie nie, maar dit koester die geestelike ruimte en die gesondheid van die individu. Dit beteken nie dat mense nie bereid moet wees om ander te ondersteun nie, maar dat daar ook erkenning moet wees dat die eie ek ook versorg moet word.
Hier is ʼn paar wenke vir nuwe grense:
- Beperk sosiale media tyd met ʼn uur per dag.
- Lees tien blaaie van ʼn boek op ʼn dag.
- Begin ʼn stokperdjie wat deur die jaar gehandhaaf word.
- Lag uitspattig wanneer die geleentheid kom, om te lag kos geen geld.
- Eet ʼn twee-vinger Kit-Kat in plaas van die vier-vinger een.
- Gee ʼn kompliment aan jouself of iemand anders, wees lief vir jouself en jou medemens.
ʼn Belangrike punt in die reis van herstel en reset is om geduldig te wees met die proses. Dit is nie ʼn onmiddellike verandering nie, maar eerder ʼn proses van stap vir stap, elke dag. Geduld met die eie ek is die grootste uitdaging, aangesien die samelewing vinnig beweeg en die fokus geplaas word om dadelik resultate te sien. Dit is belangrik om die druk wat die wêreld op ʼn mens plaas, af te haal en die eie tempo van herstel aan te gryp.
Reset is nie net ʼn term wat verwys na verandering in lewensomstandighede nie, maar na ʼn innerlike verandering terug na wat werklik saak maak. Die pad na eenvoud en rus begin met keuses, om die waarde van eenvoud te herontdek, gesonde roetines te bou, grense te stel, passies aan te pak en geduldig te wees. In 2025 kan dit die jaar wees waar jy terugkeer na basiese beginsels en op jou manier, die rustigheid en vervulling vind wat jy soek.
*Fotos: