Redakteursbrief
Die integrasie van bedrywighede tussen GWK en VKB vorder teen ʼn lekker spoed.
Twee sulke groot, diverse maatskappye met soveel vertakkings verg egter ʼn goed-deurdinkde, sistemiese plan om te verseker dat dinge rég gedoen word. Dit neem tyd, maar die manier waarop die bestuurspanne, in samewerking met die GWK/VKB-integrasiekomitee, hierdie proses ʼn absolute prioriteit maak, is tegelykertyd indrukwekkend en gerusstellend.
Miskien is dit omdat ons in ʼn bedryf werk waar prioriteite en prioritisering van só groot belang is. Die vrae word altyd gevra “wat is nóú belangrik?” en “wat is nóú nodig?” en dit is waarop daar gefokus word.
Om tyd te bestuur en te prioritiseer – nie net in werk nie, maar in alle aspekte van die lewe – vereis egter konsentrasie en deursettingsvermoë. En moeite, om nou eerlik te wees.
Greg Coyne, ʼn konsultant vir die bestuur van groot internasionale maatskappye, sê dat “ek het net eenvoudig nie die tyd nie” volwassenes se weergawe is van “die hond het my huiswerk geëet”. Almal kry tog dieselfde 24 uur elke dag, nie waar nie?
Sonder ʼn fokus op prioriteite snel die lewe by jou verby terwyl jy jou keuses sit en opweeg. Dit is dalk die rede waarom prioriteit-gefokusde mense (ʼn kenmerk wat ek dankbaar is om aan ons maatskappy se bestuur toe te kan ken) méér uit die 24 uur wat elke dag vir ons gegee is, kan kry. Vir persoonlike redes het ek gaan oplees oor prioriteite – oor daardie limbo waarin ʼn mens jouself bevind terwyl jy tyd verloor omdat jy sit en wonder waarop om eerste te fokus. In 1963 het die skrywer Sylvia Plath dit dalk die heel beste saamgevat in haar boek The Bell Jar en ek deel graag ʼn verkorte weergawe daarvan.
“I saw my life branching out before me like the green fig tree in the story. From the tip of every branch, like a fat purple fig, a wonderful future beckoned and winked. One fig was a husband and a happy home and children, and another fig was a famous poet and another fig was a brilliant professor… and beyond and above these figs were many more figs I couldn’t quite make out. I saw myself sitting in the crotch of this fig tree, starving to death, just because I couldn’t make up my mind which of the figs I would choose. I wanted each and every one of them, but choosing one meant losing all the rest, and, as I sat there, unable to decide, the figs began to wrinkle and go black, and, one by one, they plopped to the ground at my feet.”
Dus kies ek vandag om die voorbeeld van GWK en VKB se leiers te volg: wees doelgerig, prioritiseer, neem aksie en beweeg vorentoe. Die lewe is te kort om tyd te mors.