André Prins: Dekades se navorsingsdiens aan landbou

“Elke vraag het ʼn antwoord. Jy moet dit soms net eers gaan soek.”
Só sê André Prins, Bestuurder van Gewasnavorsing by GWK Landboukundige Dienste se, wie se CV uit sy nate bars met kennis, ervaring, opleiding, en vaardigheid. Sy geesdriftige ingesteldheid en ywerige soeke na kennis in sy lewenslange beroep as navorser is die rede vir etlike waardevolle bydraes in verskeie gebiede van die landbousektor. Dít is uiteindelik ook die rede vir sy benoeming by die Fertiliser Association of South Africa (Fertasa), waar hy die silwer medalje vir navorsing en ontwikkeling in die bedryf verwerf het.
Hierdie toekenning word jaarliks uitgereik aan ʼn persoon wat ʼn merkwaardige spoor in die landboubedryf laat. Dit verwys ook na die rol van ʼn voorloper in die bevordering van kunsmis- en aglime-praktyke (om kalsium- en magnesiumvlakke in die grond aan te vul). Omdat Prins hom beywer om deur sy werk ook die doelwitte van Fertasa te bereik, naamlik die bevordering van kunsmis- en aglime-praktyke, om bewustheid en aanvaarding vir kunsmis te ontwikkel, en om die bedryfsomgewing te verbeter, is hy deur een van sy kollegas aan die einde van 2023 suksesvol vir dié toekenning genomineer.

André Prins se toekenning wat hy van Fertasa ontvang het vir sy bydrae tot navorsing en ontwikkeling.
“Dit is vir die Landboukundige Dienste-span ʼn groot voorreg dat André vereer is vir sy jare lange bydrae tot navorsing,” sê Dup Haarhoff, Hoof van Landboukundige Dienste. “André lewer ʼn waardevolle diens by die span as bestuurder van die gewasnavorsingspan. As iemand met jare se ondervinding in die navorsingsbedryf, wat sterk rekenaarkundig is en so innoverend van geaardheid, is André voorwaar ʼn aanwins vir ons span. Van ons kant af wil ek graag vir hom baie geluk en dankie sê vir jare se diens aan die span.”
Prins het in 1983 sy BSc-graad in landbouproduksie aan die Universiteit van Stellenbosch verwerf, waarna hy nooit ophou leer het nie. Hy het sy MSc (Agric) in akkerbou en weiding in 1990 verwerf en aan verskeie programme en kursusse deelgeneem. Hy het in 1984 in plantvoeding begin werk met ʼn fokus op die ontwikkeling en toedieningshoeveelhede van vloeibare kunsmis. Hy is sedertdien ononderbroke in plantvoeding en die navorsing daarvan betrokke. Sy kennis en ervaring oor die afgelope 40 jaar, en sy vermoë om data te interpreteer en te omskep in oplossings vir produsente, maak van hom ʼn bate vir GWK – een waarmee min maatskappye kan spog.
In sy daaglikse verantwoordelikhede by GWK inisieer, beplan, en voer hy veldproewe uit. Hy verwerk statistiese data en lewer verslag oor veldproewe. Verder is hy betrokke by produkontwikkeling en die bekendstelling van waardevolle inligting (intern en ekstern). Hy is verantwoordelik vir die ontwikkeling van programme, die uitdra van presisieboerdery-praktyke, onderhoud op Geografiese Inligtingselsels (GIS), en verkoopshulpmiddels. Op die oomblik is sy aandag gefokus op die evaluering en ontleding van klimaatsdata, sowel as veld-evaluering en proewe van aartappelkultivars. Hy vertel van ʼn program wat hy onlangs geskryf het wat op klimaatsdata gebaseer is wat produsente help om die regte hoeveelhede water vir gewasse toe te dien. Hierdie program stuur weekliks SMS’e aan produsente met die vereiste watertoevoer vir die komende week saam met die vorige week se verbruik.
Om aan die voorpunt van ʼn veranderende wêreld te bly, is dit nodig om aan te pas en nuwe dinge na te vors, in te neem, en te beproef. Prins se groot liefde is data en die verwerking daarvan, en daarom vind hy satellietbeelde en die interpretasie daarvan baie interessant.
“Dit is die beste gevoel om inligting en data wat tot jou beskikking is, te interpreteer, in kennis om te skakel, en só te verpak dat landboukundiges dit tot die voordeel van produsente kan gebruik,” sê hy. Data van die verlede is baie nuttig omdat dit produsente ondersteun om die regte plantdatums te bepaal en uit die data van vorige jare te leer.

André Prins
Hy praat met lof oor die span wat saam met hom werk. Hy lê veral klem op die belangrikheid om as ʼn span saam te werk om uiteindelik die beste uitkoms moontlik te bereik. In dié stadium bestaan die span uit 22 lede wat onderlangs verdeel word in landboukundiges, skeduleerders, en navorsers. Die span se sleutel tot sukses is om in mekaar te glo en saam na die beste antwoorde te soek.
Prins vra homself gereeld af: “As jy iets weet, wat maak jy daarmee? Wat is die impak van die probleem, en wat kan jy leer uit die data wat daar is?” Dit is hier waar navorsers en interpreteerders ʼn groot rol speel om voorkomend te kan optree en nie dieselfde foute te maak nie.
“Ek het nooit ʼn kort antwoord op enige vraag nie. Daar is altyd ʼn rede, verskeie faktore, en ʼn verduideliking, en dit is belangrik dat dit deurgegee moet word.”