Fokus op die weer (voorspelling)
Die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) voorspel ʼn warm, droë winter oor die grootste gedeeltes van Suid-Afrika. Internasionale voorspellings lui dat die La Niña-weerpatroon begin vorm en dit sal moontlik weer na ʼn nat somer lei. Volgens die jongste Climate Watch, wat vyf maande vooruit na die weer kyk, se multi-model reënvalvoorspelling kan die meeste gebiede gedurende Mei, Junie, Julie (MJJ), Junie, Julie, Augustus en Julie, Augustus, September ondernormale reënval verwag, met uitsonderings gedurende MJJ in Mpumalanga, KwaZulu-Natal en Oostelike Kaap. Verder voeg die voorspelling by dat minimum en maksimum temperature landswyd bo normaal gaan wees.
Wat is die La Niña weerpatroon?
La Niña is ʼn weerpatroon wat in die Stille Oseaan voorkom. Sterk winde waai die warm seewater (op die oppervlak) van Suid-Amerika na Indonesië. Die warm water beweeg wes en die koue water styg van onder na die oppervlak, naby die kus van Suid-Amerika. Hierdie gebeure het ʼn invloed op die weer en weerpatrone wêreldwyd. In Suid-Afrika bring dit bogemiddelde reënval wat tot oorstromings, grond-erosie en grondverskuiwing lei. Die La Niña wat voorspel word, sal die tweede in twee jaar se tyd wees. Daarom kan dieselfde weerpatroon as verlede jaar verwag word, waar Suid-Afrikaanse somerreënvalstreke oor die algemeen ʼn natter en koeler seisoen ervaar het.
Wat is El Niño?
El Niño is die omgekeerde of teenoorgestelde van La Niña en het dus hoër temperature, wat hittegolwe vererger en die risiko van veldbrande verhoog, tot gevolg. Die El Niño word veroorsaak deur ʼn verwarming van oppervlaktemperature in die oostelike Stille Oseaan, wat dan droogte na die suide van Afrika bring. Die mielie-oes het vanjaar swaar gekry onder die hittegolwe van El Niño, terwyl sitrus ongedeerd kon ontsnap vanweë hoë vogvlakke van verlede lente se uitgerekte La Niña-weerstoestande.
Voorspellings vir 2024
Die hoëveld en binneland is bekend vir droë winters, maar dit lyk of hierdie winter ekstra droog en warm gaan wees weens die gevolge van El Niño.
“Die verwagte ondernormale reënval met bo-normale temperature sal waarskynlik verhoog en waterbergingsvlakke verlaag deur onder meer evapotranspirasie en droogte, veral in dele van Noordwes, Vrystaat en Limpopo waar ʼn aantal distrikte deurlopend droogte ervaar,” lui die voorspellings op Climate Watch. Ten spyte van die tekens van El Niño wat die SAWD steeds sien, het El Niño nie meer ʼn invloed op Suid-Afrikaanse weer in hierdie stadium van die jaar nie. Professor Willem Landman (meteorologie-professor aan die Universiteit van Pretoria) beaam dat die El Niño in dié stadium irrelevant is. Landman se voorspelling sien dat La Niña moontlik invloede op ons weer sal hê gedurende die lentemaande.
Albei weerpatrone word meer ekstreem weens klimaatsverandering wat deur die mens gestimuleer word. In KwaZulu-Natal, die Oos-Kaap en Mpumalanga word vroeë winterreën voorspel, wat die gebiede onseisoenaal baie nat sal laat. Climate Watch waarsku teen die verhoogde risiko van versuiping, wat oesskade kan veroorsaak. Die voorspelling vir ondernormale reënval in die res van Suid-Afrika hou uitdagings vir watervoorrade in.
Wat is die invloed van La Niña op landbou?
André Prins (Produksienavorsingsbestuurder: Landboukundige Dienste) verduidelik dat die grootste invloed van klimaat gewoonlik tydens die gewasse se blom- en graanvulstadiums is. By somergewasse is die blomstadium gewoonlik in Januarie (hoë temperature) en daarna die graanvultydperk. By die meeste gewasse skaal plantgroei af wanneer temperature bo 30°C is en plantgroei word gestaak wanneer temperature bo 35°C is (verlede jaar was daar gereeld dae bo 40°C waargeneem).
Volgens die Agricultural Business Chamber word daar gemiddeld 20% mielies, 15% sojabone, 34% suiker en <50% koring onder besproeiing verbou. Die La Niña/El Niño-toestande het ʼn direkte impak op droëlande weens droogtes wat die opbrengste benadeel. Die El Niño-droogte het vanjaar tydens die graanvulperiode voorgekom en het someropbrengste in die grootste deel van die land onderdruk. Die winterseisoen wat voorlê, gaan moontlik grootliks nie benadeel word nie, behalwe dat grond onder droëlandtoestande baie droog is en aanplant van wintergewasse min kan wees. Onder besproeiingstoestande is die impak minder; lae damvlakke kan waterbeperkings veroorsaak, maar vir die onmiddellike word dié opsie nie voorsien nie. Die La Niña/El Niño-toestande het egter ook ʼn impak op die pryse van die onderskeie produkte – tekorte lei tot styging in pryse.
Onder besproeiingstoestande kan die impak gesien word in die beskikbaarheid van water, maar dit behoort op die oomblik nie ʼn probleem te wees nie. Daar moet ondersoek ingestel word na grondvog voor aanplantings gedoen word, maar dit is moeilik bestuurbaar onder droëlandtoestande.
Ten slotte
Die La Niña- en El Niño-verskynsels speel ‘n deurslaggewende rol in die vorming van Suid-Afrika se weerpatrone en landbou-uitkomstes. Die El Niño-weerpatroon is op die oomblik besig om te verswak. Die La Niña wat voorspel word kan dieselfde weerpatroon as verlede jaar tot gevolg hê, waar Suid-Afrikaanse somerreënvalstreke oor die algemeen ʼn natter en koeler seisoen ervaar het met die risiko van opvolgende droogte tydens die graanvulperiode. Met die bestudering van klimaatstoestande is die ingrypende invloed van droogtes, vloede, hittegolwe en koue op die bestaan van produsente en die beskikbaarheid van voedsel sigbaar. Deur hierdie sikliese verskynsels te verstaan en daarby te kan aanpas, sal dit produsente in staat stel om beter voor te berei vir die uitdagings en geleenthede wat voorlê.
*Bronne:
*Hooffoto: Pexels