Redakteursbrief

Ek het onlangs ʼn aanhaling teëgekom wat my tot stilte gebring het. ‘The meaning of life is to find your gift. The purpose of life is to give it away’.
So nou en dan word ons almal deur ʼn bestaanskrisis getref. Waar pas ek nou regtig in? Beteken ek genoeg vir die samelewing? Dit is wanneer jy jou hele menswees begin ontleed, die foute vind, skuldig voel. Dit oorskadu enige gedagte aan die gawe wat jy is.
Tog is daar ʼn unieke kombinasie van eienskappe waarvoor elke mens waardeer word. Dit is ʼn groepering van waardes, natuurlike talente, oortuigings en passie wat eie aan elke mens is, en daarin lê ons purpose. Dit mag nie onderskat word nie. Dit moet ontwikkel en gedeel word – dit bring vreugde.
Ons is baie dankbaar vir die mense wat hulle eie gawes so mildelik uitdeel. Ons sien dit weer in hierdie uitgawe van Kommuniek.
Ons het by Absa Wildeklawer Sporttoernooi gekuier, waar die oordra van gawes veral sigbaar was. Afrigters wat hul kundigheid oor sport en fiksheid aan deelnemers uitdeel, ouers wie se motivering en ondersteuning nie op raak nie, onderwysers wat hulle tyd en toewyding gee om kinders geleenthede te bied, en Wildeklawer Boerdery wat die hele toernooi moontlik gemaak het.
Ons sien hoe landbou-organisasies opofferings maak om die sektor te verteenwoordig en hoe persone in hierdie organisasies kampvegters vir produsente word. Kenners in verskillende vakgebiede deel hul navorsing, wenke, ervaring en vaardighede. En boere deel hul kundigheid en arbeid om werk te skep en kos te voorsien.
Die betekenis en doel van die lewe lê soms in ondersteuning, soms in tyd, soms in woorde. Jou gawe, enig-in-sy-soort, dra te veel krag om dit vir jouself te hou.
1 Petrus 4:10 (NLV): God het aan elkeen van julle ʼn genadegawe gegee. Met hierdie gawes moet julle mekaar dien.