Prieska-diensstasie trek ʼn nuwe baadjie aan
GWK se kliënte is die belangrikste skakel in die besigheid en om vir elkeen die beste diens te lewer, is ononderhandelbaar. Daarom is die opgewondenheid hoog oor die opgradering van die diensstasie op Prieska.
Die Prieska-gemeenskap kan gereed maak vir ʼn splinternuwe, moderne en gerieflike ervaring by die GWK Diensstasie. Die vulstasie word sedert Junie 2023 opgradeer en die bekende kiosk sal vroeg in 2024 ook oorgedoen word. Die projek word in samewerking met Total Energies gedoen en beoog om gereelde GWK-kliënte en reisigers beter te kan bedien.
Die beoogde opgraderings sluit onder meer twee dieselpompe (by die bogrondse tenk agter die kiosk), sowel as een ULP-pomp (by die hoek van die GWK-raadsaal) in. Kliënte kan steeds uitsien na ʼn kiosk wat tydens die konstruksie normaal handel dryf.
Hendrik de Klerk (GWK Handel: Prieska se takbestuurder) is nou betrokke by die projek en beklemtoon dat die opgradering ʼn wêreldklas-ervaring vir Prieska-inwoners sal bied.
“Ons is natuurlik bitter opgewonde om die eindproduk by die diensstasie te sien. Van ons toerusting was op die einde van hul leeftyd en ons het meer spasie vir bykomende verkeer gesoek. Die nuwe rybaan met sy twee ekstra ‘eilande’ sal sorg dat kliënte vinnig en meer effektief gehelp kan word. Alles verloop tot dusver goed en ons hoop om die kiosk ook op tyd aan die begin van 2024 te voltooi.”
Volgens de Klerk word kliënte se behoeftes deurgaans gemonitor en is die voltooiing van die projek ʼn pluimpie vir Prieska.
“Die nuwe diensstasie is ʼn verdere positiewe toevoeging tot GWK se uitgebreide diensaansbod in die area. Tydens konstruksie bly die hele Prieska-span steeds toegespits en gefokus om gehalte diens te lewer aan ons kliënte.”
Die Prieska-span sien uit daarna om elkeen by die nuwe fasiliteit te verwelkom. Indien enigeen navrae het of wil kontak maak, skakel gerus vir De Klerk by 053 353 1151 of e-pos hendrikdk@gwk.co.za.