Plaasbestuur en natuurbestuur – is daar ‘n verskil?
Ekologiese prosesse, deel 1.
Hugo Bezuidenhout (SANparke)
Deesdae, met stygende lewenskoste, word produsente gereeld met die vraag gekonfronteer oor hoe om ‘n volhoubare, gesonde plaas te bestuur en steeds geld te hê vir al die verpligtinge wat daar is. Geld is belangrik, maar dit dwing ons dikwels om korttermynbesluite te neem, wat meestal nie op die langtermyn volhoubaar is nie. Wanneer jy met die natuur werk (insluitend die klimaat), dink ek ons vergeet soms om die langtermyngevolge te oorweeg. Dit mag dalk in die oomblik logies klink, maar wat is die langtermyngevolge van hierdie besluit?
Wanneer daar oor die wispelturigheid van die klimaat gepraat word, kan daar eintlik geen definitiewe patrone behalwe vir seisoene gesien word nie. Iets baie belangrik wat wel bestuur kan word, is om die totale oppervlakte van die plaas te bestuur en dit nie in klein kompartemente te verdeel nie, en hierby bedoel ek nie dat mens nie kampe moet toespan nie. Dit is belangrik om eerstens na die plaas se geskiedenis te kyk, waarvoor die plaas in vroeëre jare gebruik is en hoe dit bestuur is (intensiewe weiding, dalk met boerbokke, gereelde brande, ensovoorts).
Byvoorbeeld, 50-60 jaar gelede, tydens ‘n nat klimaatsiklus en met stygende mieliepryse, het baie produsente gedink dit is ‘n uitstekende idee om natuurlike plantegroei (wat goeie weiding is) vir landerye om te ploeg. Die korttermynvoordeel was goeie pryse vir mielies, sonneblomme en selfs grondbone. Die natuurlike habitat, wat uitstekende weiding vir wild, beeste, skape en bokke was, het egter die ekologiese stelsels ondersteun en kon aanpas by die onvoorspelbare klimaat. As jy vandag deur die sentrale dele van Suid-Afrika ry, sien jy steeds ou lande wat nie meer bewerk word nie. Die grondprofiel is só aangetas dat natuurlike herstel sonder rehabilitasie onmoontlik is. Byvoorbeeld, die bo-grond (A-horison), waar die saad van natuurlike plantspesies lê, is weg. Dit het verander in braaklande wat nou vatbaar is vir opportunistiese plantspesies.
‘n Ander voorbeeld van korttermynbesluite met langtermyngevolge is die ontginning van habitatte (geologie, terreineenheid, grond & plantegroei) vir diamante deur verskeie produsente. Die rehabilitasie van die habitat gaan baie moeilik wees. Hierdie habitatte word meestal gedomineer deur die Clovelly-grondvorm, met pragtige geelbruin, apedale (ongestruktureerde) grond. Die kalkagtige bank het as ‘n ondeurdringbare laag gedien wat water langer in die grond gehou het wat dan langer beskikbaar is vir plantspesies of gewasse. Hierdie banke word nou deur korttermyn-mynbou vernietig, wat lei tot goed gedreineerde grond waar water vinniger afloop en glad nie vir plantspesies beskikbaar sal wees nie – ‘n uitdaging in ‘n semi-ariede streek met minder as 400 mm reën per jaar.
Die koste van gewas- en veeboerdery het gemaak dat wildplase en private natuurreservate aansienlik toegeneem het, want om met beeste, skape en boerbokke te boer maak soms net nie meer finansiële sin nie. Produsente ken hul plase goed, van hoek tot kant, en is vertroud met die plantspesies wat daar voorkom. Tydens die onlangse droogte het dit duidelik geword hoe belangrik kruie en bossies is, en nie net die smaaklike grasse nie. In SANParke soos die Bergkwagga-, Kamdeboo- en Karoo-nasionale parke, het hierdie meerjarige karoobossies en houtagtige plantspesies bygedra tot die oorlewing van diere.
Ek word omtrent daagliks gevra wat om te doen met plantspesies wat op versteurde areas ingedring of verdig het. Indringerplante kan inheems wees aan die streek of uit ander lande kom. In figuur 1 is ‘n terreinvormskets van ‘n spesifieke landtipe, wat ek sal gebruik om die verskil tussen indringer- en verdigtingsplantspesies te verduidelik. Hierdie landtipe word gedefinieer as ‘n eenvormige eenheid ten opsigte van terreinvorm, grondpatrone en klimaat. Die hele Suid-Afrika is deur die Nasionale Departement van Grond, Klimaat en Water op ‘n skaal van 1:250 000 gekarteer.
Verskillende plantgemeenskappe hou verband met elkeen van die terreineenhede (3 – middelhang; 1 – plato; 4 links – ‘n voethang wat met die berg of koppie verband hou, 4 regs – ‘n vloedvlakte wat met ‘n rivier of dreineringsbaan verband hou, en 5 – rivier of dreineringsbaan). ‘n Plantgemeenskap word met ‘n spesifieke plantspesiesamestelling en spesifieke struktuur (hoogte in meter en kroonbedekkingspersentasie) beskryf. ‘n Endemiese (plaaslike) plantspesie, wat in die middelhang (3) aangeteken is, kom glad nie in die voethang (4) voor nie. As hierdie plantspesie egter om een of ander rede (soos onverwagse vuur op die verkeerde tyd of oorbeweiding) in die voethang opportunisties indring waar dit nog nooit aangeteken is nie, word dit ‘n indringer genoem. Dit kan ook ‘n uitheemse plantspesie wees wat nog nooit op die plaas aangeteken is nie. Hierdie plantspesies word indringerplante genoem omdat dit die natuurlike plantspesiesamestelling van die voethang verdring. Dit ontkiem beter en groei vinniger as die natuurlike plantspesies in die voethang.
In teenstelling hiermee vind ons plantspesies wat natuurlik in die voethang voorkom, maar wat weens onoordeelkundige bestuur begin om opportunisties te verdig. Oop, kaal kolle word sigbaar en sekere plantspesies reageer soos ‘n pleister wat mens op ‘n seerplek plak (figuur 2). Hierdie plantspesies is verdigters en nie indringerplante nie, want dit is reeds in die voethang se plantspesiesamestelling aangeteken. Hierdie spesies beskerm die grondoppervlak teen ernstige erosie. In figuur 2 kan ernstige erosie gesien word, selfs al het daar erge bosverdigting van sekelbos (Dichrostachys cinerea) plaasgevind. Verdigtingsplantspesies kom ook voor in habitatte waar baie min ander plantspesies kan groei en oorleef.
Daar is baie selde natuurvrae wat vinnig en eenvoudig beantwoord kan word. Vinnige antwoorde help gewoonlik net met korttermynuitdagings wat negatiewe gevolge vir plaas- en natuurbestuur oor die langtermyn inhou. Daar behoort nie ‘n verskil tussen plaasbestuur vir natuurlike plantegroei en natuurbestuur te wees nie. ‘n Produsent wat vir die langtermyn boer, moet die natuur só bestuur dat gesonde ekostelsels bevorder word.
Ons kan DV in die volgende uitgawe van Kommuniek nader aan die antwoord kom op die vraag “wat om te doen met plantspesies wat op versteurde areas ingedring of verdig het”.
*Land Type Survey Staff. 1988. Land types of the maps 2426 Thabazimbi and 2428 Nylstroom. Mem.agric. nat. Resour. S.Afr. No 10.