Pieter en sy span kan!

Pieter Smal is GWK Handel Hartsvallei se takbestuurder en hy erken dat sy liefde vir sy werk nie moontlik is sonder sy toegewyde span en ongelooflike kliënte nie.
“My personeel is my alles en met hierdie span sal ons nog berge kan versit. Dié span het my gehelp om ʼn rekord
bruto wins vir die 2023-finansiële jaar aan te teken.”
Hierdie gebore Villiersdorper het ʼn paar draaie ná sy Kakamas-hoërskoolloopbaan gestap, en is vandag trots en
passievol om by GWK te werk.
“My loopbaan sluit draaie in die weermag (Jan Kempdorp), Denel-plofstofaanleg, ʼn balju in Vaalharts en ʼn
hoenderboerdery in. Ek het in 2014 die geleentheid as bedryfshoof by GWK gekry, en het sedertdien ʼn aantal
kursusse voltooi om my die beste moontlike takbestuurder te maak.”
Ná ʼn sesmaande-periode as waarnemende takbestuurder, is Smal op 1 Desember 2019 amptelik as die
takbestuurder vir GWK Handel Hartsvallei aangestel. Die area, sy personeel en liefde vir kleinhandel maak elke dag ʼn avontuur.
“Om in kleinhandel te werk, is soos iets wat op jou groei. Elke dag hou vir jou iets nuuts in – dalk ʼn nuwe kliënt wat
by jou deur instap, of ʼn nuwe produk wat ons moet bemark. Dit maak dit vir my lekker! My kliënte is natuurlik my
nommer een prioriteit en die verhoudinge wat ek met elkeen oor die jare gebou het, kan geen geld in die wêreld
koop nie.”
Geen dag is ooit dieselfde nie, meen Smal, en dit is wat kleinhandel so opwindend maak.
“Die heel eerste ding wat ek soggens op kantoor doen, is om na die vorige dag se syfers te kyk – dit stel my in staat
om te sien waar ons staan teenoor begroting. Volgende op my lys is om deur my e-posse te werk, voor ek na buite
gaan om by elkeen van die bande-, stoor- en brandstofspanne in te loer.”
Smal is vol lof vir sy bekwame span en hul bereidwilligheid om altyd meer te doen as wat daar verwag word.
“Die personeel doen daagliks hul werk met passie en maak ʼn punt daarvan om ons kliënteverhoudinge te versterk.
Die spanwerk is enig is sy soort en daar word nooit geskroom om mekaar in ander afdelings uit te help nie. Die feit
dat almal oral inspring om seker te maak dat dinge by die handelstak vlot verloop, is werklik spesiaal.”
In die kleinhandel-wêreld is indrukke en kliëntediens die een ding wat mense terug lok. Volgens Smal is dit so
eenvoudig soos om moeite te doen.
“Swak diens het nog nooit verkoop nie. Mense koop waar dit lekker is en waar hul die beste produk en ervaring kry.
Ek het destyds ʼn skaapboer-kliënt gehad wat nuut met sy boerdery begin het. Die boer wou sy voer deur GWK koop,
maar die vervoer daarvan was ʼn uitdaging. Ek het aangebied om die voer self by hom op sy plaas te gaan aflaai, en so
het ons die besigheid gekry van 200 sakke per week. Die einste kliënt is vandag onder my top-tien en ons stap al ʼn
wonderlike pad saam.”
Deel van die handel-omgewing is ook om probleme op te los en te bestuur; Smal volg ʼn eenvoudige benadering.
“Geen probleem is al ooit opgelos deur te raas of te skel nie. Dit is vir my belangrik om ʼn probleem so beskaafd en
kalm as moontlik op te los. Ek betrek normaalweg my personeel en ons vind saam die beste uitweg.”
Indien hy nie in kleinhandel gewerk het nie, sou Smal graag in wildbewaring wou werk. Om te ontspan, is sy groot
liefde kosmaak en om nuwe resepte uit te toets. As daar enige vrye tyd beskikbaar is, maak hy ook graag sy lyne nat,
grou in sy groentetuin rond of boer hy verder met Lagduifies.
Met die onlangse samesmelting tussen VKB en GWK, sien Smal uit na alle moontlikhede wat oor sy pad mag kom.
“Ek dink daar sal groter geleenthede in die toekoms oor my pad kom, moontlik selfs om ʼn groter handelstak te
bestuur. Ek wil graag by GWK werk tot die dag van my aftrede.”
As daar een mens is wie uitgesonder moet word, is dit GWK Handel se Streeksbestuurder, Jan Kruger.
“Jan is ʼn merkwaardige persoon wat nog altyd reg gestaan het om my moed in te praat as ek dit die nodigste gehad
het. Hy het altyd in my geglo, seker gemaak dat ek die positiewe raaksien en van my ʼn sterker mens gemaak –
dankie, Jan!”