NK RPO: Ons moet eienaarskap neem van ons organisasie
“Kry gesondheid op jou plaas optimaal, want gesondheid beïnvloed jou winsgewendheid.” Só sê dr. De Wet Barnard, tegniese veearts en gasspreker by die jaarlikse Noord-Kaap Rooivleisprodusente-organisasie (NK RPO) se kongres wat op 6 Junie in Kimberley aangebied is.
Die RPO is ʼn onafhanklike produsente-organisasie wat as die mondstuk van Suid-Afrikaanse kommersiële rooivleisprodusente optree. Dié organisasie se doel is om op ʼn dinamiese manier die volhoubaarheid en winsgewendheid van die rooivleisbedryf in Suid-Afrika te bevorder deur onderhandeling en konsultering met die regering en ander organisasies, in plaaslike en internasionale belang van rooivleisprodusente.
Die NK RPO se visie is belyn met die rooivleisbedryf wat 20% groei teen 2030 wil behaal. Dit is slegs moontlik indien daar na optimale gesondheid gestreef word, en juis dít was ʼn groot besprekingspunt tydens die Noord-Kaapse kongres.
Gassprekers het insiggewende gesprekke tydens die kongres gevoer, met diere en openbare gesondheid in ʼn veranderende markomgewing as vanjaar se tema. Volgens Brand du Toit, wat tydens die kongres tot voorsitter van die Noord-Kaapse RPO verkies is, is dié tema een van die vier steunpilare waarop die rooivleisbedryf gebou is.
Du Toit het op ʼn plaas in die Williston-distrik grootgeword, waarna hy ʼn honneursgraad in BCom Landbou-ekonomie en Rekeningkunde aan die Universiteit van Stellenbosch verwerf het. Hy het sy loopbaan op ʼn groenteplaas naby George in die Suid-Kaap begin en ná agt jaar as groenteprodusent besluit om na Williston terug te keer, waar hy die afgelope 25 jaar hoofsaaklik met dorpers en meatmasters boer. Verder het hy ʼn stukkie grond onder besproeiing en plant ook uiesaad aan. Hy was by Williston se landbou-unie betrokke en het ook op die Agri Noord-Kaap se uitvoerende bestuur gedien.
Die kongres het op ʼn gesondheidstema besluit aangesien bek-en-klouseer in dié stadium op almal se lippe is, en ook omdat dieregesondheid vir elke produsent uiters belangrik is. Dit is van groot belang dat RPO-lede en kuddes veilig is, vandaar die fokus op diere en openbare gesondheid, mededingendheid en volhoubaarheid. Veiligheid in die markomgewing is ook van kardinale belang omdat produsente aan buitelandse standaarde moet voldoen om te kan uitvoer.
Du Toit beskou sy rol in die uitvoering van RPO se visie as gelyklopend met die organisasie se Noord-Kaapse grondwet, wat dit duidelik stel dat daar ʼn winsgewende en volhoubare omgewing vir die bedryf geskep moet word.
“Ons moet ʼn omgewing skep waarin ons kan uitvoer, ons moet ekonomies produseer, toegang tot markte verkry, en ons moet na ons diere se gesondheid omsien,” sê Du Toit. Om hierdie doelwitte te bereik, streef die RPO se dieregesondheidsforum daarna om uitdagings op grondvlak onder die nasionale forum en staatsveeartse se aandag te bring.
Hy verwys na die nuwe minister van landbou, John Steenhuisen, se openingstoespraak waar hy die belangrikheid van biosekuriteit uitwys. Hierdie toespraak sluit aan by die tema van die NK RPO se 2024-kongres. “Indien Steenhuisen by magte is om ondersteuning aan produsente te bied en uitvoermarkte uit te brei, kan die impak op die landboubedryf baie positief wees. Dit is egter belangrik dat hy die regte inligting van organisasies, soos die RPO, ontvang sodat hy die beste besluite kan neem,” sê du Toit.
Terugvoer van ander sprekers by die 2024-kongres
Die gassprekers by die 2024-kongres was dr. De Wet Barnard (tegniese veearts, MSD), dr. Gerhard Neethling (Hoofbestuurder: Rooivleis Abattoirvereniging, RVAV), en dr. Frikkie Marais (Nasionale Hoof Uitvoerende Bestuurder van die RPO).
Koning Scholtz (voormalige RPO-voorsitter) het in sy voorsittersrede gesê: “Ons moet eienaarskap van ons organisasie neem. Niemand anders gaan dit vir ons doen nie. Ons moet ons moue oprol en dit sélf doen. Hierdie is óns bedryf en óns organisasie. Ek doen ʼn beroep op elke produsent om betrokke te raak.” Hy het ook na die belangrikheid van buitelandse markte verwys en die deurslaggewende rol wat dit sal speel om die RPO se 2030-visie te bereik.
Dr. De Wet Barnard het die kongres oor die uitvoermark se vereistes vir dieregesondheid toegespreek. “Voedselproduksie moet binne die volgende 25 jaar met 60% verhoog om aan ʼn groeiende bevolking se aanvraag in die toekoms te voldoen. Suid-Afrikaanse produsente is in ʼn baie goeie posisie om voor te berei om die mark te betree. Wanneer ons iets wil uitvoer, moet ons belangrike vrae vra: Wat wil ek uitvoer? Gaan dit lewendige diere wees of gaan dit verpakte vleis wees? Waarheen voer ek dit uit?”
Volgens Barnard is dit uiters belangrik vir diere om gesond te wees. “Optimale gesondheid by vroulike diere, en die fetus in die laaste trimester van dragtigheid tot die kalf of lam ses weke oud is, is uiters belangrik, omdat die grondslag daar gelê word. Enige probleme in daardie kritieke tyd gaan die produksie van wol, melk, en vleis vir die res van die dier se lewe affekteer. Dit is belangrik om voorkomend op te tree en die nodige stappe te neem om siektes te voorkom. En, waar siektes nié voorkom kon word nie, moet dit behoorlik behandel word.”
Dr. Gerhard Neethling het in sy spreekbeurt oor higiëniese vereistes by abattoirs en diere se welsyn gesels. “Dit is die veearts en sy span se verantwoordelikheid om te bevestig dat diere gesond en geskik is om geslag te word, om na diere se welsyn te kyk, te sorg dat verdowing behoorlik gedoen word, en dat die regte prosedures by die abattoir toegepas word. Hulle is ook verantwoordelik vir vleisinspeksie, oorhoofse inspeksie, en die evaluering van abnormale diere. Baie siektes is iets van die verlede omdat die regte stelsels in plek gestel is. Nasporing is in plek om op te volg waar en by wie probleme ontstaan en wat gedoen kan word om te keer dat dit herhaal word.”
Dr. Frikkie Marais het bespreek hoe landbouers hulself moet posisioneer om die uitvoermark suksesvol te betree. Hy het die belangrikheid daarvan beklemtoon om by onttrekkingstydperke van medikasie te hou. “ʼn Siek dier gebruik die vitamienreserwes in sy liggaam om die siekte te beveg. Wanneer hy van die siekte herstel het, is die hulpbronne uitgeput en moet dit weer opgebou word. Siek diere eet nie en dit veroorsaak ʼn versteuring in die ekosisteem van die dier se derms. Daarom is dit belangrik om na jou diere se gesondheid om te sien.”
“Die vleisbedryf beleef uitdagende tye, en speenkalfpryse, vleispryse, en wolpryse is nie wat dit moet wees nie. Maar, ons moet hoop op beter tye in die toekoms,” is Du Toit se boodskap aan rooivleisprodusente. Hy herinner produsente daaraan dat vleispryse in siklusse beweeg en dat daar weer beter tye sal wees. “Maak aktief werk daarvan om jou vriende en familie van vleis te vertel, hoe lekker dit is, die goeie voedingswaarde daarvan, en glo in jou produk.”