Natuurbestuur: Is vuur ons vriend of ons vyand?
Die beplanning moet begin deur die gebied/e met bosverdigting te identifiseer en in watter plantgemeenskap (plantspesiesamestelling en plantegroeistruktuur) die bosverdigting voorkom.
Ons het in die laaste paar uitgawes van Kommuniek vasgestel dat veral vee- en wildprodusente die grootste oppervlakte bewaringsgroep is. Ons het ook gesels oor wanneer ‘n plantspesie ‘n indringer- of verdigterplantspesie is. Verder het ons na wetgewing gekyk – veral na uitheemse, verklaarde onkruidplantspesies, asook die redes hoekom dié plantspesies inheems of uitheems indring en/of verdig (dit is as gevolg van oop spasies wat ontvanklik is vir bogenoemde plantspesies). Dit is belangrik om dan die verdigting of indringing aan te spreek, maar ook bewus te wees dat die bestuur van plantegroei en geassosieerde grond baie belangrik is. Dit geld ook nadat ‘n mens teen bogenoemde plantspesies begin aksies neem, soos om byvoorbeeld die beweidingsdruk minder te maak. Volhoubare bestuur van veld sal produsente toelaat om finansieël suksesvol te wees.
In die produsent se “gereedskapkas” is daar verskeie instrumente wat gebruik kan word om bogenoemde bekommernisse aan te spreek. Elkeen van die instrumente het egter voor- en nadele. In dié uitgawe wil ek die gebruik van vuur, met sy die voor- en nadele, bespreek.
Soos altyd is dit belangrik dat ‘n mens die groter prentjie sien en ‘n balans moet probeer handhaaf. Wetgewing behels dat produsente aan die brandbeveiligingsvereniging (BBV) in hul omgewing moet behoort.
Die gebruik van voorbrande op grond is ook waardevol. Vir die voorbrande sal ‘n mens egter baie mooi moet kyk na die verskillende plantgemeenskappe (plantspesiesamestelling en plantegroeistruktuur) wat daar voorkom, want van die plantgemeenskappe is vuursensitief. In die Noord-Kaap, en selfs ook in die westelike dele van die Vrystaat, is die vuurfrekwensie baie lank uitmekaar (8 tot >10 jaar). Een van die redes hiervoor is dat dit ‘n semi-ariede streek is met gemiddelde reënval laer as 400 mm per jaar. ‘n Mens moet egter jou veld bestuur en nie toelaat dat daar ‘n groot hoeveelheid dooie plantmateriaal in die veld is nie, want dan kan ongeluksvure groot skade aanrig. In dié gevalle is vuur jou vyand.

‘n Natuurlike weerligvuur in die Kalahari, wat ‘n hele plaas kan verwoes. (Foto: Dan van Zyl).
In hierdie uitgawe gaan ons egter spesifiek kyk na vuur as ‘n moontlike bestuursinstrument om verdigte plantspesies te kan help bestuur. Ek sê “help” want dit kan baie goed met ander instrumente gekombineer word, soos byvoorbeeld chemiese behandeling op spesifieke plante. Vuur is egter ‘n moeilike speelmaat, want daar is ‘n aantal faktore wat dit ‘n risiko maak, soos byvoorbeeld reënval wat maar altyd nie gewaarborg kan word nie. Die hoeveelheid en tyd wanneer dit sal val kan ook nie gewaarborg word nie. Strategiese beplanning oor wáárom ‘n mens wil brand, is nodig vir ‘n beheerde brand. Onbeheerde brande kan baie skade veroorsaak; dit kan byvoorbeeld grond-erosie versnel of begin, smaaklike en voedsame plante kan doodgebrand word en dan volg ‘n verlies aan weiding, en laastens kan skade aan diere en natuurlike ekologiese prosesse aangerig word.

‘n Onbeplande vuur se impak op verskillende plantgemeenskappe. Gelukkig vir Golden Gate Hoogland Nasionale Park is hulle reënval hoog en het die meeste van die plante aangepas by vuur.
Om ‘n suksesvolle strategiese brandprogram in werking te stel, het jy nodig om oor die brandfrekwensie te besluit (gaan dit eenmalig wees, of met intervalle soos elke tweede of derde jaar?). Die brandintensiteit, wat afhang van beskikbare dooie biomassa, sal bepaal watter tipe brand jy gaan hê om die verdigterplantpesies te teiken en die basale bedekking van die grond te beskerm. Deeglike beplanning van wanneer in die jaar (seisoene) mens gaan brand, is noodsaaklik.

‘n Beplande vuur met ‘n vuurlyn wat vooraf uitgelê is. In dié geval is die dooie materiaal genoeg vir ‘n brand.
Die beplanning moet begin deur die gebied/e met bosverdigting te identifiseer en in watter plantgemeenskap (plantspesiesamestelling en plantegroeistruktuur) die bosverdigting voorkom. Dit is ook belangrik om die verdigterplantspesie/s te identifiseer, asook wat hulle eienskappe is (bv. is dit ‘n meerjarige plantspesie of dalk slegs ‘n eenmalige plantspesie? As daar groot gebiede is wat met bosverdigting geïdentifiseer is, moet jy prioritiseer watter deel jy eerste gaan brand.
Dit is baie belangrik om ‘n veiligheidsplan in te sluit sodat jy die risiko vir infrastruktuur, mense en sensitiewe habitatte verminder. Om dit te kan doen, is dit nodig om voorbrande te beplan wat bogenoemde sal beskerm. Vir die voorbrande kan jy bestuurspaaie, dreineringsbane of natuurlike skeiding van plantgemeenskappe gebruik. Indien jy ‘n sekere plantgemeenskap wil brand, moet jy seker wees dat daar genoeg van die plantgemeenskap op ander dele van die grond oorbly vir jou diere. As dit moontlik is, sou ‘n mens liewer ‘n kleiner deel brand sodat jy kan sien of jou beplanning en metodes reg is.

‘n Voorbrand-bestuurpad kan gebruik word om vuur te bestry, maar veiligheid kry prioriteit. (Foto: Dan van Zyl).
Om te kan leer uit die brand, is dit nodig om vooraf monitering te doen, soos om te weet watter ander plantspesies behalwe die verdigter/s voorkom. Jy moet verkieslik ook die verdigterspesie se getalle skat of tel, sodat jy die veld ná die brand kan moniteer om te weet of dit suksesvol was en watter impak dit op die ander plantspesies gehad het. Dokumenteer die datum van die brand, oppervlakgrootte of watter gebied gebrand is, en ook of daar ‘n warm wind of koue wind gewaai het, of dalk geen wind waargeneem is nie.
Ek hoop dat elke produsent ook ‘n reënmeter of paar daarvan het. Dit is belangrik om, as dit moontlik is, maandeliks of daagliks reënval te meet. Vir brandbestuur is dit baie belangrik. Ons werk met lewendige ekologiese prosesse en ‘n mens moet kan aanpas by wat jy leer.
As die resultate toon dat dit suksesvol was, is dit goed, maar indien nie, moet jy die metodes aanpas sodat jy volgende keer suksesvol kan wees. Onthou dat, met enige behandeling, jy bereid moet wees om genoegsame tyd te gee voor jy kan besluit of dit suksesvol was. Jy kan natuurlik ook eers eksperimenteer.
As jy met uitheemse houtagtiges werk, moet jy oorweeg om dit chemies te behandel sodra die plante lyk asof hulle weer gaan begin groei. Die etiket moet baie deeglik gevolg word. Inheemse verdigterplantspesies kan jy dalk beter behandel deur ‘n balans te skep. Die plantspesie kom natuurlik voor in die plantgemeenskap en het ‘n waardevolle impak op die ekologiese prosesse van die plantgemeenskap, dus moet ‘n mens vooraf besluit watter persentasie van die spesifieke plantspesie jy gaan toelaat om te groei, en dit dan nie behandel nie. Monitering en gereelde opvolgaksies moet gedoen word, anders het jy waardevolle tyd en geld gemors.
Ek kan nie genoeg beklemtoon dat ‘n mens begrip moet hê dat, in sekere gevalle, die teikenplantspesie van die min plante is wat op die spesifieke habitat kan groei nie. Die plante speel ‘n belangrike rol in byvoorbeeld moontlike erosiebekamping. Dit help nie om die plantspesie deur middel van brand uit die ekosisteem te verwyder net om later meer probleme met ander, meer gevaarlike, indringerplantspesies te ervaar nie. Dan sou dit beter wees om ander instrumente te oorweeg om verdigterplantspesies te beheer, soos byvoorbeeld chemiese behandeling of meganiese verwydering. Ek sal dit DV in die volgende Kommuniek-uitgawes bespreek.
Laastens is dit belangrik om te verstaan dat elke plaas of natuurreservaat verskillend is ten opsigte van watter plantspesies verdig, in watter terreinvorms (plato of steil middelhang teen berg) dit voorkom, en wat die doel van die brand is. Dus is dit nodig om alles in ag te neem en nie te vereenvoudig deur alles op dieselfde manier te wil brand nie. Vuur hoef ook nie net gebruik te word vir indringer- of verdigterplantspesies nie; dit kan ook as instrument vir dooie graspolle of die verwydering van dooie bome en struike gebruik word (die beplanning hiervoor bly egter dieselfde).
Vuur kan definitief ons vriend (voordele) wees, maar dan moet dit met respek hanteer word en beplanning moet gedoen word, anders kan vuur baie skade doen, wat soms onherstelbaar is (nadele).
*Hooffoto: Freepik








