Ekonomie: ʼn landbou-oorsig

GWK se landbou-ekomiese afdeling hou die tendense in die onlangse geskiedenis en nabye toekoms dop sodat ons produsente ingeligte besluite kan neem.
Graannuus
Die volgende prysbewegings het plaasgevind in die graanmarkte:

Bronne: Graan, 2025; CME Group, 2025
Binnelandse oliesaad en graanpryse het afwaarts beweeg oor stropery wat op dreef kom. Pryse is steeds volatiel omdat baie van die oes vertraag is weens hoë vogpersentasies. Graan en oliesade het baie goeie voorraadvooruitsigte in die wêreldmark en kan pryse vorentoe demper.
Wêreldnuus
Ek vermoed Donald Trump, president van die VSA, se naam verskyn elke dag in elke koerant in die wêreld. Trump en sy ondersteuners is deel van die MAGA (Make America Great Again)-beweging: Trump se onderhandelinge het net een doel, en dit is om ten gunste van die VSA te wees.
President Cyril Ramaphosa, ʼn groep ministers, twee Suid-Afrikaanse gholfsterre, Johann Rupert en ʼn vakbondleier (dit klink soos die begin van ʼn “stap-by-die-kroeg-in”-grappie) het die Withuis besoek om Trump te paai om handelsooreenkomste te sluit. Ten spyte van ʼn moeilike perskonferensie dink ek die gesprekke agterna het goed verloop en hoop ons dat goeie handelsooreenkomste gesluit sal word. Volgens John Steenhuisen was Amerikaanse amptenare glad nie vyandig nie, maar dit is duidelik dat hulle die beste vir Amerika wil kry uit elke ooreenkoms en gesprek.
Trump het ʼn opskorting van 90 dae op tariewe van meeste lande gesit, wat eindig op 8 Julie. Lande staan tou om met hom te onderhandel en om die tariewe te ontsnap, of ten minste te verminder.
Die VSA se kredietgradering is deur Moody’s vanaf die beste gradering afgegradeer: van AAA na AA1. Moody’s noem kommer oor groeiende staatskuld as die hoofrede; vir die volgende tien jaar word staatskuld nog geprojekteer om te groei. Dit het gelei na ʼn swakker dollar en die R/$ het weer gehandel onder R18,00. Die VSA se kredietgradering is steeds baie goed: teenoor Suid Afrika is hulle tien graderings beter as ons. Ander lande op AA1 is Finland en Oostenryk. (BER, 2025) (Netwerk24, 2025) (TheBanks.eu, 2025)
Plaaslike nuus
Begroting 3.0 is gelewer op 21 Mei. Die begroting word beskou as baie meer realisties en konsolidasie word belangrik geag in die begroting. Wat die begroting moeilik maak, is dat daar ʼn vorige begroting is waarteen dit vergelyk kan word en die wenners en verloorders kan geïdentifiseer word teenoor die vorige begrotingsraamwerke. Só ʼn vergelyking kan hier gevind word: The biggest winners and losers in South Africa’s Budget 3.0 – BusinessTech.
Belangrike veranderinge van die vorige begroting is dat BTW nie verhoog word nie en bly op 15%, brandstofheffings word verhoog met onderskeidelik 16c en 15c per liter petrol en diesel, en die inkomstebelastingskerwe word nie aangepas word vir inflasie nie, wat beteken ʼn mens ontvang dalk ʼn verhoging by die werk, maar word hoër belas en salaristrekkers se koopkrag word minder (die term word beskryf as bracket creep. Sosiale en maatskaplike toelae bly dieselfde as in die vorige begroting, en laastens word sondebelasting verhoog met 6,8% op alkohol, pyptabakke en sigare, en 4,8% op sigarette en tjoefs (vapes). Nuwe staatsbesteding is gehalveer vanaf die vorige begroting af.
- Die vooruitskatting is dat die bruto-skuldlas-verhouding (skuld vergelyk met die land se BBP) dié jaar sal piek met 77,45 en dan begin afwaarts beweeg; dit is ongelukkig op vanaf die vorige skatting van 76,2%. (BER, 2025) (BusinessTech, 2025)
*Bronne:
- BER. (2025). BER WEEKLY. Stellenbosch: BER.
- BusinessTech. (2025, 05 26). BusinessTech. Retrieved from BusinessTech: https://businesstech.co.za/news/budget-speech/825082/5-important-takeaways-from-budget-3-0/
- CME Group. (2025, 02 26). CME GROUP. Retrieved from CME GROUP: https://www.cmegroup.com/markets/agriculture/grains/corn.html
- Graan, G. (2025, 02 26). Kimberley.
- Netwerk24. (2025, 05 26). Netwerk24. Retrieved from Netwerk24: https://www.netwerk24.com/netwerk24/nuus/politiek/agter-die-skerms-steenhuisen-lig-sluier-oor-gesprekke-met-yanks-20250524
- TheBanks.eu. (2025, 05 26). TheBanks.eu. Retrieved from TheBanks.eu: https://thebanks.eu/compare-countries-by-credit-rating