Landbou-ekonomiese nuus, plaaslik en internasionaal
![](https://www.ecne.co.za/wp-content/uploads/2023/11/global-business-graph-growth-finance-stock-market-concept-960x640.jpg)
Graan-nuus
Mieliemarkte ontvang die laaste tyd ondersteuning oor droë weersomstandighede in die Amerikas. Die Amasone-rivier is op van sy laagste vlakke ooit en dit bemoeilik die uitvoer van graan aangesien hulle groot hoeveelhede skuif met die gebruik van vragskuite as transport.
Koringpryse het weer verswak en dit word grootliks toegeskryf aan goedkoop geprysde Swartsee-koring en internasionale gerugte dat Rusland weer ʼn groot oes op hande het.
Die volgende prysbewegings het plaasgevind in die graanmarkte:
![](https://www.ecne.co.za/wp-content/uploads/2023/11/Lardus-1_Tabel-scaled-e1702453002395-1024x351.jpg)
Bronne: Dalevest, GraanSA, Agbiz
Wêreldnuus
- Die Intercontinental Exchange het aangekondig dat hulle ʼn ammonia-termynkontrak (futures contract) gaan begin verhandel van 11 Desember 2023 af. Indien dit suksesvol is, kan dit ʼn nuwe mark skep vir skoon ammonia wat van waterstof verkry word. (Bron: S&P Global)
- In die kookpot van die Midde-Ooste het Israeli-magte al ver in die Gaza-streek ingedring. Kenners meen dat, indien Israel totale oorwinning wil hê, dit ʼn lang, uitgerekte konflik sal wees. Iran het gedreig en gesê indien burgerlike sterftes op die huidige vlakke bly, die konflik sal eskaleer. Die VSA het al twee vlootgroepe geskuif na die Palestynse kusgebied om die konflik te stabiliseer. Die volgende bedreiging is of die Libanese militante en politieke groep Hizbullah betrokke gaan raak. Dié groep hou ʼn groot bedreiging in vir Israel se noordelike grens. (Bronne: Reuters; Kings and Generals)
- Die Voedsel- en Landbou-organisasie (VLO) se Voedselprysindeks het sy-afwaartse tendens van September behou en is al 14,8 punte af sedert Oktober 2022. Die grootste bydraer tot die afwaartse tendens is graan en plantaardige olies, wat 27,3 en 31,3 punte onderskeidelik laer is as ʼn jaar gelede; die daling van pryse is te wyte aan hoë voorraadvlakke en hoër uitset van palmolie. Suikerpryse is wel nog 50,1 punte hoër as ʼn jaar gelede; dit is as gevolg van vrese oor min voorraad en logistieke probleme uit Brasilië. (Bron: VLO)
Kontrei-nuus
- Dit lyk asof Suid-Afrikaanse landbouers ʼn suksesvolle koringseisoen gaan hê, ondanks meteorologiese uitdagings in die Kaap. ʼn Nasionale oes van 2,17 miljoen ton word verwag, wat ver bo die tien-jaar gemiddeld van 1,80 miljoen ton is. Die Wes-Kaap lewer die grootste bydrae tot die oes met 1 149 miljoen ton en daarna die Noord-Kaap met 310 000 ton. (Bronne: Agbiz; NOK)
- Minister Enoch Godongwana het op 1 November die Mediumtermynbegrotingsraamwerk voorgehou. Die begroting was ver van ʼn rooskleurige prentjie vir Suid-Afrikaners. Suid-Afrika se skuldvlakke neem steeds toe en in hierdie stadium is rente op staatskuld die tweede grootste uitgawe naas onderwys en kultuur. Belastinginvordering is ook swakker as begroot oor Eskom en Transnet wat die uitvoer van produkte, en produksie self, kniehalter. Nog ʼn kommerwekkende punt is dat, volgens Tesourie, staatskuld eers sal stabiliseer op 77,7% van BBP, wat baie hoër is as ander ontwikkelende lande se staatskuld-tot-BBP-verhoudings. (Bronne: Netwerk2; MoneyWeb)
- Volgens die Wêreldbank se indeks van internasionale hawens presteer Kaapstad die swakste van alle Sub-Sahara-hawens, met Durban-en-Ngqura-hawe kort op Kaapstad-hawe se hakke. Dit is kommerwekkend aangesien 46% en 36% van Suid Afrika se groente en vrugte vanuit Kaapstad-hawe uitgevoer word. Die gemiddelde wagtydperk vir ʼn vragskip by Kaapstad 4,9 dae, terwyl die teiken een dag is. Durban-hawe is Suid-Afrika se grootste en besigste hawe. Positiewe nuus is dat Durban-hawe gedeeltelik geprivatiseer word en sal bestuur word deur International Container Terminal Services Inc. Dit baan hopelik die weg vir toekomstige publieke en privaat samewerking rondom vervoer in Suid-Afrika.
(Bronne: Landbouweekblad; WerêldBank; BusinessTech)