Brande net natuurverskynsels of produsente-nagmerries?
Dr. Hugo Bezuidenhout
Dit was weereens slegte en hartseer wintermaande vir produsente met brande wat skade aangerig het, met mens-, dier- en weidingsverliese.
ʼn Mens se meegevoel en simpatie gaan uit aan na produsente. As ʼn wetenskaplike wat in baie van ons Suid-Afrikaanse Nasionale Parke werk, is dit jaarliks ʼn worsteling oor hoe mens die ongewensde vure kan vryspring. Ons weet dat vuur deel is van Suid-Afrika, waar ons al vir generasies bly en oorleef. As jy na die geskiedenis van Suid-Afrika kyk, het die Voortrekkers uit die Oos-Kaap en Wes-Kaap getrek met die hoop op ʼn nuwe lewe en begin.
Baie het nie geweet wat vir hulle wag nie, maar een ding wat hulle in gemeen gehad het, was hul geloof. Vandag is daar nog baie produsente wat weet dat dít wat weervoorspellers bespreek, nie altyd gebeur nie. Dit is belangrik dat brande opgebreek word in twee kategorieë, naamlik natuurlike vure en mensgemaakte vure. Dit is die mensgemaakte vure wat die meeste skade en verwoesting veroorsaak.
Van iemand wat ongeveer 40 jaar se vuur ervaring het, en steeds nie alles weet nie, deel ek graag die volgende gedagtes. Elkeen van ons het kundigheid waaroor die ander nie beskik nie. Ek deel egter my mening oor vuur en die rede hoekom daar vuur is en watter rol vuur in veeprodusente se lewens speel. Eerstens moet ons net na die groter prentjie kyk. ʼn Paar dekades gelede was die plase groot en in baie gevalle sonder enige omheining. Produsente kon ook rondtrek met hulle vee, net soos die groot troppe wild trek na beter weiding en meer water.
Natuurlike weerligvure in die hoërliggende gebiede soos die Drakens- en Waterberge is ʼn algemene verskynsel. Die vure het egter gewoonlik saam met opvolgreën plaasgevind en baie van die vure reën dan dood tydens die vroeë reënseisoen. Gewoonlik het die vuur ook ʼn plantgemeenskap begin. Dikwels is daar min weiding en meeste van die kruide en grasse is onsmaaklik. Die gevolg is dat groot hoeveelhede dooie biomassa maklik brand. Hierdie soort vuur is goed vir die natuur.
Ek glo dat mensgemaakte vure egter vir produsente ʼn uiters belangrike rol speel. Deur bekend te wees met die plantegroei op jou plaas en die verskillende plantgemeenskappe te verstaan, kan waardevol wees. Produsente wat weet watter plante soms gebrand moet word, en watter nooit gebrand word nie, is belangrik.
By ʼn boomveld- en struikveld-plantgemeenskap is daar soms die verskynsel van hoëdrukbeweiding, waar sekere struike en bome (verdigters) oorneem. Dit gebeur wanneer daar te min mededinging van ander plantspesies is. Die spesies wat nie meer so dikwels voorkom nie, kan ʼn gevolg wees van moontlike vertrapping van die habitat of die ‘uitvreet’ van spesies.
Een van die opsies om ʼn vuur tot jou voordeel te gebruik, kan wees wanneer daar gedurende die jaar bome of struike beheer word – dít verg egter fyn beplanning en balans. In sekere plantgemeenskappe is van die grasse onsmaaklik en word nie deur diere benut nie. Gedurende beweiding word die smaaklike grasse eerste geniet en selfs oorbenut, wat natuurlik die onsmaaklike grasse die geleentheid gee om toe te neem. Hier kan inheemse of uitheemse eenjarige kruide die kans gegee word om dominant in die grasveld voor te kom. Die opsie bestaan om dié veld op die regte tyd te brand vanweë die hoë aantal dooie biomassa en sodoende die ongewensde grasse en kruide te bekamp, of selfs heeltemal te verwyder. ʼn Rustydperk ná so ʼn brand sal definitief die balans van die veld tussen smaaklike en onsmaaklike grasse herstel.
Ek glo dat, omdat die plase soveel kleiner geword het, produsente nie altyd verstaan watter verskillende plantgemeenskappe voorkom, of wat die plantsamestelling is nie. Voorbrande is vir die hedendaagse produsent ʼn moet, maar hierdie brande moet op die regte plekke gedoen word. Ongeveer 90% van vure wat tot grootvee- of selfs lewensverliese lei, is nie goed-beplande vure wat of as ʼn ongeluk of as kwaadwillig geklassifiseer kan word nie.
Soms gebeur dit dat produsente nie die klimaat reg lees nie en steek daar ʼn wind op, wat lei tot grootskaalse skade. Ongelukke gebeur waar die wind dalk ʼn kooltjie skep en die veld dan buite beheer brand. Wettelose en kwaadwillige brande begin meestal langs ʼn provinsiale grondpad of teerpad, en hier het die produsent ongelukkig geen beheer nie.
Produsente moet goeie beplanning rondom die brandseisoen doen, en ook hulle kennis opskerp rakende die tipes plantgemeenskappe wat op hul plase voorkom. Plase wat gereeld onder brande deurloop, kan hierdie voorvalle monitor om vas te stel waar die meeste vure in ʼn sekere area voorkom. Op kleiner plase waar daar met gewasse geboer word, is die weiveld min en die spasie vir ʼn breë voorbrand beperk. Deur die plantgemeenskappe wat met die terreineenhede geassosieer word te bestudeer, kan produsente voorsorg tref dat nie alle goeie weiveld afgebrand word nie.
Die mensgemaakte, kwaadwillige brande bly steeds die grootste uitdaging vir produsente. Hierdie brande word meestal in die aand gestig en dit dra by tot die trae reaksietye. My enigste wenk hier vir produsente sou wees om breër en groter voorbrande te maak – jou veld sal beter terugkeer tydens die reënseisoen. Die gebruik om die veld langs paaie te ploeg, versteur die grondprofiel en plantspesiesamestelling, wat natuurlik die ekosisteme nadelig beïnvloed en lei tot lang termyn skade. Na afloop van hierdie ploeg, neem meeste eenjarige uitheemse of selfs inheemse kruide en grasse toe.
Produsente wat met die natuur saamwerk is veel beter af en sal op die lang termyn die vrugte hiervan pluk.