Hendrik klim die leer soos ʼn leier
“Your attitude determines your altitude.”
Dis nie net ʼn mooi aanhaling van Zig Zigler wat iewers teen ʼn kantoormuur hang nie – vir Hendrik de Klerk is dit ʼn daaglikse motivering. As handelstakbestuurder van GWK in Prieska leef hy met ʼn onwrikbare positiewe ingesteldheid wat nie net sy eie lewenspad bepaal nie, maar ook sy span, sy kliënte en sy gesin lei. En as dit lyk of geen motivering werk nie, sal hy jou graag ʼn potjie sonroom in die hand stop.
Vir Hendrik gaan dit nie oor titels of grade nie – dit gaan oor mense. Dit is sy diep respek vir ander, sy liefde vir sy werk en sy oortuiging dat ʼn positiewe uitkyk elke situasie kan verander, wat hom laat uitstaan. “Die glas is nóóit half leeg nie,” sê hy vasberade. “Selfs op daardie dae wanneer jy af voel, moet jy kies om regop te loop en te glimlag – want ander kyk na jou.”
Vir vyf jaar reeds is Hendrik die dryfveer agter die sukses van GWK se tak in Prieska. Maar sy verhaal begin lank voor dit – in Klerksdorp, waar hy in 1972 gebore is en skoolgegaan het by Schoonspruit Hoërskool. “Ek was maar ʼn bietjie van ʼn stoute mannetjie,” lag hy. “Lui om te leer, my velle hang nou nog daar aan die drade. Maar gelukkig het die lewe my baie lesse geleer.”
Sy lewenslesse het juis begin vorm aanneem toe hy in 1991 by Senwes as rakpakker begin werk het. Met vasberadenheid werk hy hom op na verkoopsassistent, bestelklerk, adminhoof, Wesselsbron-stoorbestuurder, insetbemarker en uiteindelik takbestuurder. Elke rol het sy eie uitdagings gehad, maar ook sy eie waardevolle lesse. Hendrik het elke geleentheid aangegryp met dieselfde ingesteldheid: doen dit met oorgawe, en doen dit reg. “Daar sal áltyd vir jou werk wees as jy wíl werk. Dit gaan vir my absoluut oor ingesteldheid.”
Hendrik is ʼn man wat met sy vriendelikheid, humorsin en opregte belangstelling in ander, mense onmiddellik laat tuis voel. Met sy loopbaan van rakpakker tot suksesvolle leier, is hy ʼn bewys van hoe respek, liefde vir ander en ʼn positiewe ingesteldheid ʼn werklike verskil in enige werkplek – en gemeenskap – kan maak.
“Ek glo jy’s so sterk soos jou span,” sê hy. “As leier is jy in ʼn verhoudingspel – met jou personeel, jou kliënte, jou verskaffers. En as jy nie respek en vertroue bou nie, verloor jy jou mense” … en natuurlik die spel. Hierdie filosofie is duidelik in die manier waarop hy sy span lei. Hy glo in die beginsel om mense in privaatheid te dissiplineer, maar voor ander te prys – ʼn eenvoudige maar kragtige benadering wat vertroue bou en respek verdien. “Ek het ʼn oopdeurbeleid. My mense weet hulle kan met enige probleem na my toe kom.”
“Jy is die skepper van jou eie saligheid.”
Toe hy en sy vrou besluit het om hul lewenstempo te verander, was GWK die wenner. “Ons het besef ons lewensgehalte sou beter wees in die Noord-Kaap. En dit ís. As mense kom kuier, sê ek altyd hulle moet paspoorte saambring – dis ʼn ander wêreld dié.”
Vandag, as Prieska-takbestuurder, is Hendrik trots op sy mense en hul prestasies. “Ons is ʼn eenstopwinkel – veevoer, veemedisyne, besproeiing – en ons span is ongelooflik diensgefokus. Ek is veral trots op ons 24-uur-vulstasie wat ons verlede jaar opgegradeer het. En jy kan dit in die syfers sien.”

Dis vir Hendrik bitterlik lekker om met mense te werk en sy positiewe ingesteldheid is aansteeklik. “Ek fluit as ek werk toe gaan en sing op pad huis toe.” Al klippie in sy skoen is die tye wanneer dissipline dalk nodig is. “Die slegste deel is mos nou maar gevalle waar jy ʼn personeellid moet dissiplineer maar dis ook ʼn belangrike deel van die werk. As jy regtig omgee vir mense, sê jy vir hulle as hulle nie op standaard is nie – want jy wil hê hulle moet groei.”
Sy liefde vir mense strek egter baie verder as die werkplek. Hendrik is getroud met Erna, ʼn hoërskoolonderwyseres in handelsvakke. Hy sê met trots sy “beste raad aan enige jong man: trou met ʼn onderwyseres, dit voeg soveel waarde toe tot jou kinders”. Saam het hulle twee seuns – Henrico en Heinrich – albei hardwerkend en prakties, wat as ambagsmanne wil kwalifiseer.
“Heinrich, die jongste, is op die oomblik ʼn vakleerling by John Deere in Prieska. My oudste seun, Henrico, studeer om ʼn elektrisiën te word.” Dis juis vir Henrico wat hy – weens sy skoolpunte – gesê het hy sal vir hom ná sy matriekeksamen ʼn potjie sonroom skenk vir sy loopbaan as karwag. “Toe val die skille van sy oë af en hy staan tweede in die klas met vyf onderskeidings. Al sonroom wat hy gebruik het, was die paar jaar wat hy op ʼn besproeiingsplaas gewerk het om te besluit presies wat hy wil doen,” lag Hendrik.
“Kinders verander jou hele lewe – dis die grootste wonderwerk en die grootste genade van ons Hemelse Vader.”
Of dit nou in sy werk, sy rol as pa, of sy betrokkenheid by sy span is – Hendrik straal daardie seldsame kwaliteit uit: opregte omgee. Hy leef met oortuiging en wys met elke tree dat jy nie ʼn graad of diploma nodig het om suksesvol en betekenisvol te wees nie – net ʼn sterk werksetiek, respek vir ander, en die regte ingesteldheid.
Hy geniet ook lees, stap, karavaankuiers … “Ons doen nogals die kampding, dis vir my lekker, ja. En ek hou van tuinwerk en teken so af en toe ʼn bietjie.”
Sy lewensfilosofie is eenvoudig: “Jy is die skepper van jou eie saligheid.” En met sy unieke styl van leiding, sy warmte, en sy vaste geloof in mense, bou hy dag vir dag aan ʼn nalatenskap van hoop, groei en menswaardigheid.
Met ʼn droom om sy tak se omset en netto wins bo dié van groter takke soos Douglas te vat, is Hendrik nie net ʼn dromer nie – hy’s ʼn doener. En as hy iets aanpak, doen hy dit met ʼn vol hart.
Hendrik de Klerk is meer as net ʼn takbestuurder. Hy is ʼn leier. ʼn Mense-mens. En bo alles, ʼn inspirasie. Sy storie gaan nie net oor persoonlike groei nie; dit is ʼn herinnering aan elke werknemer dat sukses nie bepaal word deur waar jy begin nie, maar deur hoe vasbeslote jy is om by jou doelwitte uit te kom. “As jou ingesteldheid reg is, sal jy hoog vlieg,” herinner hy hulle.







