Grondboon-proefresultate vir 2025
Vir die 2024/25-seisoen is drie grondboon-droëlandproeflokaliteite in die Vrystaat naby Hoopstad, Bothaville en Bulftontein aangeplant. ‘n Aanvullende besproeiingslokaliteit is naby Schweizer-Reneke aangeplant, asook twee vol besproeiingslokaliteite naby Douglas en Naboomspruit– sien tabel 2 as illustrasie van lokaliteite.
Hierdie studie word jaarliks herhaal met die doel om die beste plaaslike sowel as oorsese kultivars te identifiseer wat waarde sal toevoeg tot die bedryf gebaseer op agronomiese sowel as ekonomiese eienskappe.
Metodiek
Kultivars word vir ten minste drie jaar getoets om aanpasbaarheid te bepaal. ‘n Totaal gerandomiseerde blokontwerp word as proefuitleg gebruik om sodoende statistiese analise te vergemaklik. Saadbehandelings en enting van alle proefsaad word gedoen diensooreenkomstig met gepubliseerde voorskrewe. Tussenryspasiëring word aangepas van lokaliteit tot lokaliteit volgens die produsent se produksiepraktyke. Gedurende die seisoen word elke kultivar geëvalueer vir siektes wat gedurende die seisoen mag voorgekom het.
Die proefpersele word uit die grond gelig deur gebruik te maak van ‘n lem wat die penwortel onder die grond afsny. Die peule word dan verder met die hand van die plante verwyder, waarna dit gedroog word by die aanleg op Douglas. Vreemde materiaal soos sand, stokke, blare en klippe word verwyder voor die geoesde peule van elke proefperseel geweeg word. Die doppersentasie word dan bereken deur ‘n kilogram peule uit elke herhaling af te weeg, te dop en die saad weer te weeg.
Die proefdata word geanaliseer deur gebruik te maak van die program “Genovix by Agronomix Software”. Die voordeel van dié program is dat die data op verskeie maniere geanaliseer kan word wat gebaseer is op “Complete Block Designs”, “Lattice Designs” en “Nearest Neigbours”. Die kleinste betekenisvolle verskil (kbv) is bereken by die 5% peil van betekenisvolheid. Waar twee opbrengste met ‘n groter verskil as die kbv verskil, beteken dit hulle is met 95% betekenisvol verskillend van mekaar en is dus nie toevallig verskillend of as gevolg van grondverskille nie.
Die koëffisiënt van variasie (kv) word ook aangedui. Die koëffisiënt van variasie dui die statistiese korrektheid van ‘n proef aan. ‘n Waarde laer as 15 word as statisties goed beskou, met ander woorde hoe laer die koëffisiënt van variasie, hoe meer aanvaarbaar die proef se akkuraatheid.
‘n Gekombineerde saadmonster van al drie herhalings word dan gegradeer. Die finale resultaat word uitgedruk as inkomste per hektaar, met opbrengs en gradering as die bepalende faktore. Die randwaarde per hektaar vir die afgelope twee jaar se proewe word ook as ‘n indeks voorgestel per kultivar waar data oor twee seisoene beskikbaar is.
Die indeksvoorstelling is as volg:
100 = proefgemiddeld
>100 = bokant proefgemiddeld
<100 = onderkant proefgemiddeld
Beskrywing van kultivars
Plaaslike Spaanse tipe kultivars met ‘n regop groeiwyse sowel as oorsese Spaanse/Runner-grondbone was deel van die proewe. Die Spaanse/Runner tipe grondbone het kleiner pitte, wat meer vergelyk met die Spaanse tipes maar het nie ‘n regop groeiwyse nie. Die kultivars wat getoets is word in Tabel 1 beskryf:

Tabel 1: Beskrywing van kultivars
Lokaliteit, plant– en oesdatums

Tabel 2: Lokaliteit, plantdatum, oesdatum en aantal dae tot oes
Rywydtes
Die rywydtes vir die 2024/25 seisoen was as volg:
- Douglas Rietrivier besproeiing: 0,5m
- Schweizer-Reneke aanvullende besproeiing: 0,76m
- Hoopstad droëland: 1,01m
- Bothaville droëland: 0,91m
- Bultfontein droëland: 0,91m
- Naboomspruit besproeiing: 0,90m
Proefuitleg
Tabel 3 toon ‘n voorbeeld van ‘n proefuitleg soos gebruik word.

Tabel 3: Voorbeeld van ‘n proefuitleg soos gebruik word – ‘n gerandomiseerde blokontwerp met drie herhalings
Resultate en bespreking
Droëland-proewe (Bothaville, Hoopstad en Bulftontein)
Die resultate vir die 2024/25-proewe word in tabelle 4 tot 9 getoon. Vir interessantheid kan gekyk word na die kleinste betekenisvolle verskil (kbv) om te bepaal of kultivars betekenisvol van mekaar verskil het vir peul, pitmassa en doppersentasie. Vir produsentegerief kan na die indeksopsommings gekyk word oor die afgelope twee jaar vir ‘n makliker interpretasie soos verduidelik onder metodiek.
Die droëlandlokaliteite was onderhewig aan vogstremming gedurende die eerste helfte van die 2024/25-seisoen, met nat toestande wat in die tweede helfte van die seisoen geheers het. Die vorige seisoen (2023/24) het weer ‘n baie droë laatsomer gehad. Volgens die data, waar die randwaarde per hektaar met opbrengs en gradering as die bepalende parameters as ‘n indeks voorgestel is, het C7-2 baie stabiel presteer vir albei seisoene in die droëland areas. Vir albei seisoene het C7-2 bokant die proefgemiddeld oor al die droëlandproewe presteer.
Die Spaanse Runner kultivar M20-0111 is nog net vir een seisoen getoets. Hierdie kultivar het die afgelope seisoen baie goed gevaar oor al die droëlandproewe en is beslis een om dop te hou. Ander meer bekende kultivars waarvan die saad al kommersieël beskikbaar is, kan individueel beoordeel word volgens prestasie. Hierdie kultivars het egter minder stabiel vertoon as eersgenoemde twee.
Besproeiing en aanvullende besproeiing (Douglas, Naboomspruit en Schweizer-Reneke)
Die prestasie en stabiele vertoning van die Spaanse kultivar C7-2 in die droëlandproewe word verder onderstreep met weereens ‘n uitstekende prestasie waar besproeiing beskikbaar was – sien tabelle 7 tot 9. Hierdie kultivar het vir twee agtereenvolgende jare uitstekend presteer onder besproeiingstoestande met randwaarde per hektaar voorgestel as ‘n indeks.
Die Spaanse/Runners het minder goed presteer vir die Schweizer-Reneke lokaliteit waar aanvullende besproeiing toegedien is. Hierdie lokaliteit was egter ‘n nuwe ontwikkeling met ‘n spilpunt wat ook gedeel was tussen twee lande. Die lokaliteit by Schweizer-Reneke was dus nie hoë-potensiaal toestande nie; daarom ook die laer opbrengste in vergelyking met Douglas en Naboomspruit.
Die Spaanse kultivar M20-0111 het goed gedoen by Naboomspruit. M20-0111 het weer minder goed presteer by Douglas hoewel die plantestand op die Spaanse/Runners nie optimaal was. Vir die Douglas lokaliteit het TT006 en Anel vir die afgelope twee seisoene ook bokant die proefgemiddeld presteer volgens die indekswaardes. Sellie Plus het ook goed presteer.
Genotipe x omgewings statistiek
Volgens die sagtewarebeskrywing meet kultivar “superiority” gesamentlik die prestasie en stabiliteit van ‘n kultivar. Vir hierdie meting is die kleinste waarde die beste waarde. Die ideale kultivar sal ‘n waarde van 0 hê. Vir interessantheid is hierdie meting gedoen vir die lokaliteite Douglas, Schweizer-Reneke, Hoopstad, Bothaville en Bultfontein vir die 2024/25-seisoen – sien tabel 10. Volgens hierdie data vir prestasie en stabiliteit volgens pitgewig is 2H-61-1 die beste presteerder, gevolg deur C7-2, M20-0111 en TT006. Die kultivar 2H-61-1 het ‘n baie goeie dop tot peulverhouding met ‘n positiewe bydrae tot pitopbrengs.

Gevolgtrekking
Dit is baie belowend en opwindend dat daar nuwe kultivars is wat baie goed lyk vir twee-jaar asook een-jaar data. Meer navorsing is nodig om die omgewing x kultivar interaksies beter te verstaan, veral vir die Spaanse Runners. Die stabiele vertoning van C7-2 oor al die lokaliteite is ‘n uitstekende eienskap. Meer data is nodig om die stabiliteit van die nuwe Spaanse/Runner M20-0111 te bevestig, met die resultate van 2025 wat belowend lyk.
Dankbetuigings
Opregte dank en waardering aan die volgende produsente-medewerkers vir die 2025-proewe:
- Vicky Bruwer (Douglas)
- Estiaan & Pieter Wolfaardt (Hoopstad)
- Hendrik Bester (Bothaville)
- Dolf Viljoen en Teens de Bruyn (Bultfontein)
- Henkie van der Berg (Naboomspruit)
Opregte dank en waardering aan die volgende personeel:
- Loureine Muller en Laurika Pansegrouw van Triotrade vir hulpverlening met die proewe en proefsaad
- Ivan Payne van Triotrade vir die reël en hulp met die droëland-lokaliteite
- Jacobus van Rensburg van Triotrade vir die reël van die arbeiders betrokke by die droëland-proewe
Opregte dank en waardering aan Soygro wat die grondboonentstof gratis beskikbaar stel vir die grondboonproewe. Hiermee saam ook ‘n bedanking aan Johan Cloete van Douglas vir die reël hiervan.
Ons Hemelse Vader vir die alledaagse beskerming, talente en gesondheid.
Navrae
Vir navrae omtrent die proefresultate kan die volgende persone gekontak word:
- Pierre Ferreira (GWK): 082 904 4769 | pierref@gwk.co.za
- Loureine Muller (Triotrade): 084 775 7948 | loureine@triotrade.co.za
- Laurika Pansegrouw (Triotrade): 082 306 1477 | laurika@triotrade.co.za
Vir navrae om grondbone te plant:
- Francois Cilliers (GWK Besproeiing): 076 950 7377
- Ivan Payne (Triotrade): 083 261 6458









