Garsbedryf onder vergrootglas by Vaalharts-boeredag

Garsprodusente in die Vaalharts-skema is gedurende Oktober met waardevolle inligting tydens ʼn boeredag bemagtig. Industrie-belangstellendes en produsente het ʼn oesoorsig na afloop van die vorige seisoen ontvang. Die komende seisoen se vooruitskattings is ook voorspel, terwyl talle kultivarproewe van nader besigtig was.
Jean-Mari van der Riet is ʼn landboukundige by AB Inbev en is verantwoordelik vir die suidelike en sentrale besproeiingsarea. Vir die 2024-oesvooruitskatting is ongeveer 5 280 ha gars in die Vaalharts-skema aangeplant, terwyl die totale oesskatting ʼn verwagte 40 390 ton sal wees.
Van der Riet sê dit is belangrik vir produsente om hierdie tipe inligtingsdae by te woon.
“Ons fokus 100% op die garsbedryf en is deurlopend besig met vernuwing en op soek na verbeteringe in kultivars en produksiepraktyke. Vir die garsbedryf om te groei en floreer, doen AB Inbev wêreldklasproewe in Afrika om data in te samel wat ons met die produsente kan deel. Om volhoubare garsproduksie te verseker, is ons prioriteit om oplossings vir alle probleme te vind,” vertel sy.

Talle produsente en belangstellendes het die Gars-inligtingsdag in Vaalharts bygewoon.
Volgens Van der Riet is hierdie dae ook belangrik om produsente ingelig te hou rakende die kommersiële kant van gars.
“Vir produsente om die beste besluite vir hul besigheid te maak, is dit belangrik om meer in diepte te weet wat presies aan die kommersiële kant van die garsbedryf gebeur. Aan die landbou-kant is daar ook soveel innoverende proewe en vooruitgang wat ons deur middel van data-ontleding raaksien.”
Produsente wat moontlik gars oorweeg, moet kennis neem van die volgende.
“Gars is ʼn uitstekende rotasiegewas wat ʼn belangrike rol speel in ʼn winter-somer-gewasbesproeiingstelsel. Dié gewas het heelwat lang termyn voordele en bied laer insetkostes, asook die vermoë vir produsente om beter siektebeheer toe te pas. Natuurlik is daar soos met enige gewas ook risiko’s rondom gars – my voorstel sal wees om soveel moontlik advies by kenners in te samel om ingeligte besluite te neem,” sê Van der Riet.
Die garsbedryf het ʼn uitdagende 2023 beleef, maar die komende oes lyk sover belowend. Volgens Van der Riet is die twee grootste risiko’s wat tot dusver in die landerye gesien is insekbeheer (veral op luise ná chlorpyrifos van die mark verwyder is) en beurtkrag. ʼn Alternatiewe insekdoder is intussen gevind en die ontydige kragonderbrekings het stremming tydens korrelvul op grane gesit.
Van der Riet se wenke aan produsente vir beter gehalte garslewering:
- Kry soveel moontlik garskenners in jou lande.
- Tot en met die vlagblaarstadium, wees eerder konserwatief met die toediening van stikstof. Raadpleeg jou landboukundige of kunsmisagent voor toediening van stikstof rondom die vlagblaarstadium.
- Waterbestuur en tydsberekening van Moddus-bespuitings is kritiek om omval op jou lande te beheer.
Renita Fourie (GWK-graanverkryger) skets ʼn breër prentjie vanuit GWK-produsente se oogpunt.
“Die rede vir garsaanplantings teenoor koring lê in die beter verdraagsaamheid teenoor vrotpootjie en die laer waterbehoefte. Die risiko rondom beurtkrag is vanselfsprekend minder op gars en die produk kan vroeër geoes word as koring, wat op sy tyd meer mielieplanttyd bied,” vertel Fourie.
Fourie is van mening dat gars ʼn blink toekoms in Suid-Afrika kan hê.
“Die ontwikkeling van nuwe kultivars om verhoogde produksie en beter brouery-eienskappe vir brouers te ontsluit, is krities vir dié bedryf se voortbestaan. Met hierdie tipe inligtingsdae kan produsente van nader beskou hoe plante ontwikkel wat met gevorderde laboratorium toerusting geskep is. Hier kan die nuwe kultivars se moontlike opbrengspotensiaal ook beter ten toon gestel word.”
Vir meer gars inligting, besoek gerus www.sabbi.org.