Dit is nie lekker nie…

Wat ʼn mistroostige dag. Die wind waai erge stofwolke. Papiere en plastieksakke warrel die dorp vol.
Ek sit in die straat en wag. Nêrens is goed op ʼn bakkie meer veilig nie. Jy pas dit op of jy gaan weer moet koop.
Oorkant die straat staan ʼn vaal Uno met vier verskillende wieldoppe. Amper in die middel van die straat. Motors sukkel om verby te kom. Die oupatjie is min gepla. Hy sit op die enjinkap en rook. Wag vir sy vrou in die slaghuis. Agterin die Uno sit twee groot vrouens styf ingedruk.
Sy vrou daag op en hulle is gereed om te ry.
Die motor sukkel om aan die gang te kom. Net wanneer die enjintjie begin saamspeel, stik dit in sy eie rook. ʼn Paar manne staan nader om te stoot. Kan die vrouens nie net eers uitklim nie? wil een weet. Die anties is te swaar, protesteer hy. Oupatjie sê hulle moet maar eers probeer, dit is te veel van ʼn gesukkel om hulle binne te kry. Protesteerder sê dan stoot hy nie. Hy loop mompelend weg. Die manne stoot en die Uno kry lewe. Al proesend verdwyn hy om die hoek.
Die eerste bedelaar pyl op my af. Ek het hom lankal sien mik in my rigting. Wil vier lemoene aan my verkoop. Baie soet lemoene van die Kaap. Het ek al Kaapse lemoene geëet? wil hy weet? R5 ʼn lemoen is seker nie te veel vir my nie, reken hy. Ek is skaars van hom ontslae of die volgende een is daar. Hy het niks om te verkoop nie, soek sommer net ietsie vir die tand. Die persoon wat beursies en leergordels verkoop is vir ʼn derde keer by my venster. ʼn Mens se broek moet vas wees en jou geld moetie rondlê nie, is sy wyse raad.
By die bottelstoor op die hoek staan ʼn netjiese perdekarretjie. Die dorp se houtverkoper. Sy vrou sit vir hom en wag, terwyl hy “brandstof” aanvul. Minute later kom Booi uit met ʼn botteltjie onder sy blad. Hy ry stadig vorentoe tot voor die slaghuis. Op die karretjie se sykant staan groot geskrywe “Mustang”. Hy koop eers polonie vir sy vroutjie. Doortjie. Met die botteltjie en die polonie gaan hulle hout maak. Booi piets die perde liggies en die karretjie beweeg straataf. Ná sowat ʼn uur sal hulle weer hier verbykom. Dinge lyk dan heel anders. Booi se keps sit skeef en hy staan regop en slaan met sy sweep. Raas luidrugtig met die perde en vloek. Die polonie is op. Botteltjie is aan die praat en hy moet aflewer.
ʼn Vierde man waggel nader. Nie alleen nie. Nee, hy wil niks verkoop nie. Druk ʼn netjies getikte CV in my hand. Lees, beveel hy. Vyf getikte folio’s met sy sertifikate vir bravery aangeheg. Sy naam staan groot voorop geskryf.
Die CV sê hy is van Kraanvoolstraat. Ek verneem na die spelling , maar hy verseker my dit is reg. Hoekom is spelling belangrik? wil hy weet. Hy is ʼn man wat met sy hande werk. Kan ek nie sien hy het Skeinat ook gehad nie? Dit is vir hom baie meer belangriker as die spelling van vool. Ongelukkig moes hy skool verlaat in graad 7 weens familieprobleme.
Sy eerste werkgewer was ʼn veevoermaatskappy. Daar het hy ses jaar as algemene werker gewerk. Sy aspirasies het hom toe by Road Mac uitgebring. Hy het opleiding as ʼn 10 ton ride-on vibratory roller operator gekry. Sertifikaat aangeheg. Darem nege maande uitgehou. ʼn Mens kan ook net solank vibrate, is sy verweer. Die mense was ook te rou na sy sin.
Ons vorder heel goed deur die CV. Hy hou darem die ander bedelaars weg. Wys op die punt in sy CV wat hom aandui as ʼn Christian. Nogal ʼn Engelse CV. Wil by my weet of dopmaak nou so ʼn sonde is, want hy sien van die pastore drink ook maar hoeka skelm. Ek verseker hom dat ek niks gesê het van drank nie. Ja, maar hy kan sien ek dink hy het ʼn dop gemaak. Weet Meneer hoe sleg is dit om heeldag met daai CV rond te loop en niks te kry nie? wil hy by my weet. Dit sal my ook tot drank dryf, dink ek by myself.
Kan ek hom nie maar in diens neem nie? vra hy mooi. As ons nou ʼn vibrator roller in die hande kan kry, kan ons mos private konsulteer. Hy gee nie om om weer te vibrate nie. Groot asseblief, pleit hy.
So gaan dit elke dag in die dorp. Feitlik elke dorp in ons land. Die werksoekers, bedelaars en hulpbehoewendes raak net al meer. Waar gaan dit eindig? Dit is soos om water met ʼn sif te probeer keer.
Kan ons blind wees vir hierdie ellende op ons voorstoep?
Dit kan nie lekker wees nie.