Eerstehandse ervaring ʼn buffer teen onstabiliteit
Tussen 9 en 17 Julie 2021 het Suid-Afrika gewelddadige protesaksie en onluste ervaar wat gekenmerk is aan plundering van winkels en besighede, sowel as die vernietiging van private en publieke eiendom. Dit was grootliks in KwaZulu-Natal (KZN) en Gauteng en is aangevuur deur aanvanklik geïsoleerde voorvalle in dele van KZN in protes teen die inhegtenisneming van oud-president Jacob Zuma.
Suid-Afrika se Konstitusionele Hof het Zuma tot 15 maande tronkstraf gevonnis vir die weiering om te voldoen aan die opdrag om voor die kommissie vir staatskaping, korrupsie en bedrog te verskyn. Daar is egter regoor die land breedvoerige gesprekke gevoer oor of die ‘Bevry Zuma’-proteste en sosio-politiese onrus wel deur die tronkstraf veroorsaak is. Tog, wat uitstaan, is die onbetwyfelbare feit dat die gebeure tot enorme sosio-ekonomiese skade gelei het in ʼn tyd toe Covid-19 die land in sy greep gehad het en rééds ekonomiese groei en menselewens bedreig het. Aan die ander kant is waardevolle lesse geleer in volhoubare voorkoming in die toekoms, en die bestuur en oplos van konflik, geweld en onluste in Suid-Afrika.
Een organisasie wat eerstehandse ervaring hiervan het, is Kwanalu, KZN se provinsiale landbou-organisasie. Hulle het geleer hoe sterk gemeenskappe weerstand teen dié soort onrus kan bied. Daarom het Kwanalu, in samewerking met Agbiz (Agricultural Business Chamber of South Africa – ʼn vrywilligersorganisasie vir agribesighede) ʼn werkswinkel aangebied waartydens hulle hierdie lesse met landboubesighede en ander kliënte gedeel het. Die doel van die werkswinkel was om lede van die boerderygemeenskap te bemagtig met strategieë om onrus en onstabiliteit te hanteer en bestuur deur uit die verlede te leer. Verder het dit die boodskap oorgedra dat toekomstige probleme beheer kan word deur veerkragtige gemeenskappe te bou en samewerking te kweek. Pannar Saad het dié werkswinkel, wat op 18 April in Greytown aangebied is, geborg en gefasiliteer.
Sandy la Marque (Kwanalu)
Sandy la Marque is Kwanalu se hoof uitvoerende beampte en het tydens die werkswinkel lig gewerp op die gebeure van Julie 2021 en klem gelê op die kernrol wat georganiseerde landbou in dié krisis vervul het. Die lesse wat Kwanalu hieruit geleer het, sluit die vestiging van ʼn gekombineerde operasionele sentrum vir koördinering in, die effektiwiteit van leierskap deur boere, die belangrikheid van inligting wat ontvang word soos die gebeure ontvou, kommunikasie en advies oor menseregte in hierdie omstandighede, en die waarde van multi-agentskap samewerking.
Daar was tydens die Julie 2021 onluste onder meer plundering, brandstigting, paaie wat geblokkeer is, intimidasie en die afbrand van oeste. Dit het toegang tot voedsel en die vervoer van produkte gekniehalter.
La Marque het beklemtoon hoe samewerking in gemeenskappe en gemeenskapopheffing help met probleme soos hierdie, en het die Kwanalu Wyre (Women and Youth in Rural Entrepreneurship)-program as voorbeeld gebruik. Dié program is ʼn ware weerspieëling van gemeenskappe en besighede wat saam werk – ʼn program van geloof en hoop. Die Wyre-inisiatief bied ʼn omvattende ondersteuningspakket wat daarop gemik is om eie werkskepping te bevorder in plattelandse areas. Dit sluit basiese administrasievaardighede, leierskapopleiding en finansiële ondersteuning aan suksesvolle kandidate in. Die program wil ook inklusiwiteit in landbou aanspreek deur individue regoor die waardeketting, insluitend produsente, handelaars en diensverskaffers, te bemagtig. Dit prioritiseer landelike veiligheid en sekuriteit, terwyl dit erkenning gee aan die belangrikheid van ʼn omgewing wat ekonomiese ontwikkeling in plattelandse dorpe bevorder.
Julian Channing-Pearce (Umvoti community G911)
Channing-Pearce het meer gedeel oor hoe Greytown se gemeenskappe saamgewerk het om die dorp teen onrus en die gevolglike aksies te beskerm. Daar was bitter min inligting vooraf beskikbaar en die dorp het nie die onrus verwag nie. Tydens die insidente was daar geen polisiereserviste of kommando’s nie. Baie selfoontorings was buite aksie en daar moes grootliks op die bestaande tweerigtingradionetwerk staatgemaak word. Baie valse inligting het die rondte gedoen en geweerskote het opgeklink.
Die gemeenskap is toe in sektore verdeel en gewone dorpsmense het bystand gebied by padblokkades wat opgestel is om die dorp te beskerm. Channing-Pearce het die vestiging van ʼn 24 uur-dienssentrum uitgelig wat befonds is om dorpsekuriteit te monitor.
Greytown is sedertdien aktief betrokke by misdaadvoorkomingsinisatiewe, die bou van verhoudinge in gemeenskapsektore, nooddienste en deelname aan ondersoeke om misdaad teen inwoners aan te spreek.
John Odendaal (Pannar Saad)
Odendaal het klem gelê op die belangrikheid daarvan om georganiseerd en gekoördineerd op te tree. Daarom het Pannar ʼn krisisreaksieplan in plek. Goeie kommunikasielyne en vertrouensverhoudinge met die omliggende gemeenskappe is ongelooflik belangrik.
Ian Hill (G911)
G911 is ʼn Durban-gebaseerde sekuriteitsmaatskappy wat verskeie dienste bied.
Hill sê dat gemeenskappe verantwoordelikheid moet neem vir hulle eie veiligheid, en proaktief wees. G911 was aanvanklik ʼn baie klein organisasie en moes professioneel word, hulle administrasie verbeter en die skuif maak na ʼn voltydse bestuurstruktuur. Hulle moes ook hul befondsingmodel verander. Hy sê verder dat dit ideaal is as sekuriteitsmaatskappye en die SAPD met noue bande saam kan werk.
Die Instituut vir Sekuriteitstudies Studies (ISS)
Dr. Chandre Gould van die ISS is deur Bongiwe Mlangeni bygestaan in haar oorsig oor geweld en die gevolge daarvan in ons land, met klem op die samewerking tussen gemeenskappe en besighede in plattelandse gebiede. Die ISS het verder genoem dat dit belangrik vir werkgewers is om na hul werknemers se welstand om te sien, en die voorlegging het ook beklemtoon hoe noodsaaklik dit is om verhoudinge te kweek tussen gegoede en arm gemeenskappe.
Die ISS se geweldvoorkomingsforum pas streng demokrasie toe deur na gemeenskappe te luister en te help om ongewone vennootskappe te vorm. Die organisasie is gretig om verder saam met die landbougemeenskap te werk om geweld te voorkom.
Insigte en volgende stappe
Die werkswinkel het dubbel en dwars onderstreep hoe belangrik voorbereidheid, inligting, koördinering en samewerking is om veerkragtigheid in landbougemeenskappe te verbeter. Deelnemers aan die dag is aangemoedig om hierdie lesse, wat uit vorige ervaring geleer is, te implementeer en voort te gaan om saam te werk om die platteland teen toekomstige soortgelyke uitdagings te beskerm.
Die dag het gedien as ʼn platform waar kennis gedeel kan word tussen belangegroepe in die landbousektor en landbougemeenskappe op hierdie manier stabiliteit kan verseker en floreer.
Volledige inligting oor die dag se voorleggings is beskikbaar op Agbiz se webwerf.
*Bronne:
- agbiz.co.za (Thapelo Machaba, landbou-ekonoom en beleidsanalis)
- accord.org.za