Die ongeskrewe reëls van WhatsApp

Ons het almal al daardie oomblik gehad. Jy stuur ʼn boodskap en dan die onmiddellik-bekende gevoel van spyt. Jou hart sak so halfpad in jou skoene. ‘Ag nee, ek moes dit nie nou gestuur het nie’ of ‘ek het dit aan die verkeerde persoon gestuur’. Soms is dit bloot omdat die tydsberekening sleg was, ander tye was dit net nie gepas nie, maar dikwels het dit alles te doen met iets waaroor ons selde praat: WhatsApp-etiket.
Meer as tweemiljard gebruikers wêreldwyd gebruik WhatsApp daagliks. Dit is hoe ons ons kinders se skooltake dophou (want hulle let nie altyd op in die klas nie), by die werk skakel, vriende groet en selfs vir ouma vra vir daai pannekoekresep. Maar hoe gemaklik ons ook al geraak het met die platform, het ons ooit werklik stil gestaan en gevra: Gebruik ek WhatsApp op ʼn manier wat ander mense irriteer?
Kom ons kyk na ʼn paar voorbeelde waar jy kan besluit in watter WhatsApp groep jy pas
Jy sit rustig, en skielik: “DING! DING! DING! DING!” Een sin op ʼn slag. Tien keer ná mekaar. Jy moet nou elke liewe keer jou foon optel om net te probeer ontsyfer wat eintlik gesê word. Dis soos ʼn digitale speletjie van legkaartbou. As jy ʼn sondebok is vir hierdie een, kan jy na hierdie voorstel kyk: Stel jou gedagtes saam en tik dit alles in een duidelike, goed-gestruktureerde boodskap. Dit wys nie net dat jy jou saak verstaan nie, maar jy respekteer ook die ontvanger se tyd en hul kennisgewing-instellings. Moet ook nie net hi stuur en dan wag dat die ander persoon vra wat jy wil hê nie. Dit is veral belangrik in professionele of formele situasies: wees reguit en duidelik van die begin af.
Stemboodskappe is ʼn wonderlike hulpmiddel vir as jy bestuur of net vinnig inligting wil deel, maar ons almal het daardie vriend(in) wat dink elke stemboodskap is ʼn episode van ʼn podcast. Vier minute lank, vol kronkels, en jy is nie seker wat die punt is nie. Selfs al laat WhatsApp jou toe om stemboodskappe vinniger te speel, hou dit kort en kragtig. Onder een minuut is gewoonlik genoeg om ʼn punt oor te dra. Onthou: dit moet help, nie oorweldig nie.
Groepe op WhatsApp is ongelooflik nuttig, tot hulle nie meer is nie. Skoolgroepe, werkgroepe, buurtwagte… en skielik is daar 87 ongeleesde boodskappe en iemand wat ʼn koekresep gedeel het in die buurtwag-groep. Soos met enige gemeenskap, werk dinge beter met ʼn paar reëls:
- Moenie elke liewe boodskap beantwoord met ʼn duim in die lug of ‘dankie’ nie.
- Moenie spam of kettingboodskappe deel nie en hou advertensies vir elders.
- Verifieer inligting voor jy dit deel. Fopnuus versprei vinniger as waarheid.
- Respekteer stil tye, geen boodskappe tussen 22:00 en 07:00 nie, tensy dit dringend is.
As jy administrateur is, oorweeg dit om groepreëls vas te lê. Dit help om misverstande te vermy en hou dinge georganiseerd.
Jy weet jy is in die moeilikheid wanneer iemand vir jou in HOOFLETTERS tik. Teks in hoofletters lees soos skree en hoewel dit soms nodig is vir ʼn afkorting of waarskuwing, gebruik dit spaarsamig. Skryf eerder netjies en met paragrawe. Dit maak boodskappe makliker om te lees en wys jy het moeite gedoen. Dan: gebruik emoji’s met wysheid. By vriende? Speel gerus rond. Maar by werk of professionele kontakte, hou dit eenvoudig – dalk net ʼn glimlaggie (as jy regtig moet).
WhatsApp is steeds een van die beste maniere om in kontak te bly. Jy kan dit gebruik om werk te bestuur, vriende te groet, ouma se stem te hoor of jou troue se beplanning te koördineer. Maar, soos enige hulpmiddel, kom dit met verantwoordelikheid en met net ʼn bietjie beheer, etiket en respek vir ander se tyd en aandag, kan jy ʼn lekker WhatsApper wees en nie ʼn digitale doring in die vlees nie.
In ʼn neutedop, jou vinnige WhatsApp-etiket gids
Doen dit:
- Tik alles in een volledige, duidelike boodskap.
- Hou stemboodskappe kort en relevant.
- Gebruik oorfone of hou jou foon teen jou oor in openbare plekke.
- Verifieer inligting voor jy dit aanstuur.
- Vra toestemming voor jy werksgroepe of boodskappe stuur.
- Bly op die onderwerp in groepgeselsies.
- Dink voor jy tik.
Moenie:
- In hoofletters tik nie.
- ʼn Emoji-orkes in elke sin loslaat nie.
- Privaat dinge hardop in publieke ruimtes bespreek nie.
- Boodskappe laat in die aand stuur nie.
- Onbetroubare inligting of fopnuus versprei nie.
- Groepe gebruik vir persoonlike skinder of promosies nie.
Volgende keer as jy WhatsApp gebruik, vra jouself af: Sou ek dit in persoon sê, of stuur ek dit nou net omdat dit maklik is? Want digitale kommunikasie gaan nie net oor wát jy sê nie, maar ook oor hóé jy dit sê.
*Bron: 305hive.com
*Foto’s: Pexels