Begroting 3.0

As Suid-Afrika se tesourie ʼn student was, het hy die begroting-vak eers met ʼn hereksamen geslaag.
Die minister van finansies, Enoch Godogwana, het sy derde poging tot die begrotingsrede uiteindelik op 21 Mei gelewer, nadat dit die vorige keer deurgevoer is deur die parlement maar verwerp is deur ander lede van die kabinet wat deel van die regering van nasionale eenheid vorm. Die Demokratiese Alliansie (DA) en Vryheidsfront Plus (VF+) het kapsie gemaak teen ʼn styging in BTW en meer spandering as wat nodig is. (BusinessTech, 2025)
Volgens die minister se eie woorde op ʼn onderhoud op RSG Geldsake was hy moeg vir sny aan die begroting en volgens hom het die besnydings nie gewerk nie. Die Maart-begroting het gepoog om meer geld van belastingbetalers te probeer insamel. (Niekerk, 2025). Ná besprekings het Tesourie besluit om die BTW-verhoging te verwyder en dié aksie was net so goed as om die begroting terug te trek. Dit is hoe ons by die derde begroting uitgekom het. (Fraser, 2025).
Hoekom is dit belangrik? As die Suid-Afrikaanse ekonomie ʼn huishouding was, was dit in diep skuld gedompel, met min nuwe loopbaanvooruitsigte wat kan lei tot meer inkomste. Wat sou ʼn rasionele huishouding doen in so ʼn geval? Kyk waar dit besteding kan sny: dalk Netflix kanselleer, minder uiteet, kyk of hulle nie hulself kan upskill om sodoende meer geld te kan verdien nie en nog ʼn skroppie probeer vind. Deur dié aksies konsolideer die huishouding sy finansies en dit is presies die # wat gekoppel sal wees aan Begroting 3.0. #FiskaleKonsolidasie
Die belangrikste punte van die begroting is as volg:
- Die ekonomie is geskat om net 1,4% te groei – laer as die verwagte 1,8% soos in die begroting van Maart.
- BTW bly onveranderd op 15%.
- Heffings op brandstof gaan op met 16 sent per liter petrol en 15 sent per liter diesel; dit skuif die totale belasting op brandstof na R6,37 per liter petrol en R6,24 per liter diesel.
- Die Inkomstebelastingkerwe en mediesebelastingkrediete word nie aangepas vir inflasie nie.
- Aksyns en sondebelasting op drank en sigarette en soortgelyke produkte word bo inflasie verhoog.
- R69,4 miljard* word gesny oor die volgende drie jaar: die mes word gebruik op hoofsaaklik onderwys, gesondheid, binnelandse sake en Transnet. (*Miljarde rande soos in die begroting is altyd moeilik om te begryp. Om dit in konteks te stel: die gemiddelde inkomste wat ʼn salaristrekker huis toe vat, is net so onder die R200 000 per jaar en vir ʼn minimumloon-werker is dit omtrent R64 000 per jaar; een miljard is gelykstaande aan 5026 gemiddelde salaristrekkers, of 15 737 minimumloon-werkers se jaarlikse inkomste.)
- Die Tesourie sal moet klaarkom met R62 miljard minder oor die volgende drie jaar.
- Die onus rus op SARS om R20 miljard ekstra te probeer insamel voor volgende jaar se begroting, anders sal bykomende belasting bygevoeg moet word.
Laer groei beteken ook dat die skuld-tot-BBP-verhouding eers gaan stabiliseer op 77,4% (dié verhouding toon die hoeveelheid geld wat die publieke sektor skuld in verhouding met BBP – of alle goedere en dienste vervaardig in ʼn sekere tydperk – met ander woorde, wat ʼn land skuld teenoor wat die land kan vervaardig. Dit bepaal terugbetalings vermoë.) (Libera, 2025)
Die wa is ver van deur die drif, en ons grootste probleem is dat die ekonomie te stadig groei. Dit kan gesien word deur ons BBP per kapita syfer. Volgens die Graad 9 Ekonomie-sillabus: ‘die BBP gedeel deur die getal mense binne ʼn land wys die gemiddelde hoeveelheid geld per persoon in ʼn land vir die spesifieke jaar’. As die ekonomie vinniger (die melktert) as die bevolking (hoeveelheid mense wat melktert eet) groei, word die BBP per kapita beter (almal kry ʼn groter stukkie melktert) en as die bevolking vinniger is as die ekonomie, word die BBP per kapita swakker (stukkie melktert word kleiner).
Grafiek 1 toon die BBP per kapita vanaf 1973 tot 2023 (dus 50 jaar) van ontwikkelde lande, Suid-Afrika inkluis. Almal se BBP per het oor die tydperk verhoog, maar lande wat baie goeie ekonomiese groei kon regkry, soos Suid-Korea, se BBP per kapita is baie hoog.

Grafiek 1 (WorldBank, 2025)
Grafiek 2 toon Suid-Afrika se BBP per kapita syfers sedert 1973-2023. Tydens die vroeë 2000’s het die ekonomie baie goed gegroei onder die stuur van Trevor Manuel en Thabo Mbeki en met hulle GEAR-program: dit het gestyg tot en met 2011. Daarna kan die impak van staatskaping en kaderontplooiing duidelik gesien word deur die daling van ons BBP per kapita syfers. Tydens daardie tydperk het die ekonomie gemiddeld gegroei met 1,22% per jaar en die bevolking met gemiddeld 1,63% per jaar. Suid-Afrika se bevolking het die ekonomie ontgroei met 0,41%, dus het ons per jaar 0,41% armer geword as ʼn geheel.

Grafiek 2 (WorldBank, 2025)
Suid-Afrika se enigste uitweg is om groei te ontlok en te stimuleer – al ons ander kaarte is klaar gespeel en al manier hoe die toekoms gaan beter lyk, is deur werkskepping en ekonomiese vooruitgang.